Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties dra weer Varsity Sewes-kroon
Outeur: Maties HP
Gepubliseer: 03/05/2016

​'n Uitstekende vertoning deur Maties het aan hulle die Varsity Sewes-titel besorg ná hulle die verrassingspakket van die toernooi, UWK, met 19-5 geklop het in die finaal.

Die toernooi is oor die langnaweek (30 April tot 2 Mei) by die Villager-rugbyklub aangebied.

Maties se Pieter Schoonraad is welverdiend as die Speler van die Toernooi aangewys. As kaptein het hy sy span gelei tot Maties se derde Varsity Sewes-titel. Maties het die titel ook in 2013 en 2014 gewen, maar kon in 2015 nie die halfeindronde van die kompetisie haal nie.

Paul de Wet het twee drieë in die eindstryd gedruk en is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Schoonraad se individuele beloning was nie 'n verrassing nie. Die Maties-kaptein het soos 'n poppemeester deurentyd sy span se aanvallende en verdedigingslyne beheer. Dit het egter nie beteken Schoonraad het gestaan en kyk hoe sy manne die instruksies uitvoer nie. Inteendeel. Schoonraad was die enigste Matie wat nie 'n drie in die toernooi gedruk het nie en dit sê dalk die meeste van die tipe speler wat hy vir sy span was.

"Die Speler van die Toernooi-toekenning beteken baie. Ek sien myself as 'n speler wat elke wedstryd alles gee. Elke oomblik tot die laaste een," het Schoonraad gesê.

"Dit was 'n wonderlike toernooi vir die span. Ons is 'n hegte eenheid. Dit was vir ons belangrik om elke wedstryd op ons eie spel te fokus. Die nederlaag teen Tukkies (in die uitspeelrondes) was beslis 'n bedekte seën, glo ek. Dit was soos 'n wekroep aan die einde van die eerste dag om te onthou van die uitdaging wat nog wag."

Volgens Schoonraad was die eindstryd baie taai, veral die eerste helfte.

"Die eerste 10 minute het albei spanne alles gegee. Dit was hoëintensiteitrugby. Ons ken UWK se spel en spelers goed, want ons het voor die toernooi gereeld teen hulle oefenwedstryde gespeel. Dit het beslis op die dag gehelp. In die tweede helfte het alles wat ons voor die toernooi ingesit het, begin uitwerk op die veld."

Tien universiteite het aan die toernooi deelgeneem: Universiteit van die Vrystaat (Kovsies), Maties, NMMU (Madibaz), Universiteit van Pretoria (UP-Tuks), Noordwes-universiteit (NWU-Pukke), Universiteit van Kaapstad (Ikeys), Universiteit van Fort Hare, Universiteit van Johannesburg (UJ), UWK en Walter Sisulu-universiteit.

Verlede jaar se kampioen, Kovsies, het die plaatfinaal gewen.

Fotokrediet: Thys Lombard, SASPA