Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besige maand lê voor vir Steinhoff Maties Hokkie-mans
Outeur: Maties Hokkie / Hockey
Gepubliseer: 26/04/2016

​Daar lê 'n besige maand voor vir die Steinhoff Maties Hokkie-mans en hul nuwe afrigter, Ashlin Freddy.

Spanlede kan tussen 22 April en 23 Mei in tot 19 wedstryde in drie verskillende toernooie speel.

Die interprovinsiale toernooi word hierdie week in Johannesburg aangebied en die grootste deel van die span, met uitsondering van 'n paar spelers, vorm deel van óf die WP- óf die WP Peninsula-span.

Die Varsity Hokkie-reeks begin op 6 Mei met vier wedstryde in vier dae by die Universiteit van Johannesburg. Dit word gevolg deur vier wedstryde in vier dae (13-16 Mei) op Stellenbosch. Die finaal is op 23 Mei.

Dit is geen geheim dat Maties baie graag die Varsity Hokkie-toernooi wil wen ná hulle in 2014 in die finaal teen UJ verloor het nie. UJ is tans die mans- en vrouekampioen en dit is iets wat Dylan Swanepoel en sy span graag wil verander. Vir baie Matiespelers is dit ook 'n laaste geleentheid om aan hierdie toernooi deel te neem.

Oor die volgende vier weke moet Maties ook verskeie wedstryde in die WP Grootuitdaagliga speel, waarvan een 'n Intervarsity-wedstryd teen Ikeys is.

Foto deur Outsider Communications