Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van der Merwe ewenaar wêreldrekord
Outeur: Maties HP
Gepubliseer: 25/04/2016

​Maties Parasport se Fanie van der Merwe het die skare op hul voete gehad met sy wêreldrekordtyd in die 100m (T37) en homself heeltemal verras.

Van der Merwe het die tyd van 11.46 sekondes op die eerste dag van die ASA Senior Baan- en veldkampioenskap wat onlangs in Stellenbosch aangebied is, behaal. Daarmee ewenaar hy die tyd van die wêreldrekordhouer Andrey Vdovin van Rusland.

Dit was sonder twyfel die hoogtepunt van die geleentheid vir die Maties Parasport-baanatlete. Nooit in sy wildste drome het Van der Merwe gedink hy sal 'n wêreldrekordtyd hardloop nie. Hy wou net 'n goeie wedloop hê.

"Ek het uitgesien na die wedloop. En toe van Suid-Afrika se topatlete by die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) – waar ek ook bly – instap, kon ek die opwinding aanvoel en dit het my aangespoor. Dit voel soos 'n bonus om hierdie jaar nog te kan hardloop en ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Ons oefengroep se leuse is #RunFree. En dit is die doelwit vir elke wedloop. Om te hardloop en die vryheid wat dit bied, te geniet. Ek is baie dankbaar vir die wêreldrekordtyd en dit moedig my aan vir die res van die seisoen," het Van der Merwe gesê.

Die res van die atlete het ook 'n suksesvolle byeenkoms beleef.

Charl du Toit (T37) het sy persoonlike beste tye in die 100m en 400m behaal. Sy tyd in die 100m plaas hom tweede ná Van der Merwe en sy 51.21s in die 400m is die beste tyd van die jaar in hierdie item en ’n nuwe Afrika-rekord. 

Dyan Buis (T38) het ook sy tyd in die 400m verbeter. Sy 50.86s is 'n persoonlike beste tyd en die beste tyd van die jaar in die item. Anruné Liebenberg (T46) het Paralimpiese kwalifiserende tye in die 200m (26.82s) en 400m (59.82s) gehardloop terwyl Ilse Hayes se 12.20s in die 100m (T13) ook 'n kwalifiserende tyd vir Rio was. Arnu Fourie (T44) het sowel die 100m as die 200m gewen. Sy 11 sekondes in die 100m was ook 'n kwalifiserende tyd vir Rio.

Die Maties Parasport-gooiers het ook 'n paar uitstekende uitslae behaal.

Reinhardt Hamman (F38) het 'n Paralimpiese kwalifiserende afstand in die spiesgooi gegooi en die beste afstand van die jaar in die item behaal. Kerwin Noemdo (F47) het sy beste afstand dié seisoen in die diskus aangeteken.

Die jong Thabo Dube (F57) het in die diskus en gewigstoot deelgeneem en sy persoonlike beste afstande in albei behaal. Hy het ook die SA rekord in die diskus verbeter.

Zanele Situ (F54), wat hoop om vanjaar aan haar vyfde Paralimpiese Spele deel te neem, het 'n persoonlike beste en Paralimpiese kwalifiserende afstand in die spiesgooi aangeteken en ook haar eie SA rekord verbeter.

Die Paralimpiese Spele in Rio vind van 7-18 September plaas.

Foto:

Fanie van der Merwe by die Nasionale kampioenskap vir persone met gestremdhede wat vroeër van jaar in Bloemfontein aangebied is. Fotokrediet: Martin Potgieter, Bonzai Photography