Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisio’s skop 50-jaar vieringe af
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 19/04/2016

Die Afdeling Fisioterapie het onlangs hul 50-jaar vieringe met die tema: "Saam beweeg ons vorentoe" van stapel gestuur.

"Beweging is ons kernbesigheid en oefening-geneeskunde is 'n belangrike aspek van gesondheid," het dr Marianne Unger, 'n senior dosent aan die Afdeling Fisioterapie by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê.

Die hoof van die afdeling, prof Susan Hanekom, het vertel van die wesenlike bydrae wat die eenheid gemaak het tot die lewering van gehalte gesondheidsorg oor die afgelope 50 jaar.

"Vir ons om saam vorentoe te kan beweeg, moet ons terugkyk na die verlede," het Hanekom gesê toe sy 'n paar van die eenheid se hoogtepunte oor die afgelope halfeeu uitgelig het.

Die Afdeling Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch is in 1966 gestig deur Moira van Oord. Sedertdien het 1 425 fisioterapeute hulle graad ontvang, en 93 meesters- en vyf PhD-grade is ook verwerf.

Prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, het die afdeling geluk gewens met die mylpaal wat hulle bereik het, en skryf die eenheid se sukses oor die afgelope vyf dekades toe aan sterk leierskap.

"Daar is geen twyfel dat die Afdeling Fisioterapie sal aanhou om vorentoe toe beweeg nie," het Volmink gesê.

As deel van die 50ste vieringe het die afdeling 'n Erfenisfonds gestig wat finansiële bystand sal bied aan behoeftige fisioterapie-studente. Verskeie geleenthede word vir die jaar beplan waartydens geld vir die fonds ingesamel sal word.

  • ​Foto: Proff Jimmy Volmink (Dekaan: FGGW), Susan Hanekom (Hoof van die Afdeling Fisioterapie), Usuf Chikte (Uitvoerende hoof van die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe) en Marietjie de Villiers (Visedekaan: Onderrig) met 'n energieke groep derdejaar-studente wat hulself die Army Cats noem wat by die geleentheid opgetree het.