Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Altyd 'n Matie-film op die groot skerm
Outeur: Development & Alumni/Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 19/04/2016

Ligte, kameras, aksie! Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n reeks dokumentêre kortfilms geloods wat die soeklig laat val op die persoonlike stories en ervarings van huidige studente sowel as oud-Maties.

Die reeks, getiteld Altyd 'n Matie/ Always a Matie, fokus onder meer op 'n kernvraag "Wat beteken Matie-wees vir jou?".

Karen Bruns, die US se Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, sê: "Die Universiteit Stellenbosch is sinoniem met akademiese uitnemendheid en innovasie, skilderagtige kampusse, goed-toegeruste geboue en lewendige studente-gemeenskappe. Maar wat is die geleefde ervaringe van huidige en oud-studente? Hoe het dinge verander en lewer ons nog steeds afgeronde gegradueerdes met die potensiaal om leiers in hul onderskeie gebiede te wees?

"Ons het besluit om die medium van film te gebruik om alumni se vrae te verken en die hulp van ouer en meer onlangse alumni, asook huidige studente, ingeroep om hul stories te deel," verduidelik sy.

Die eerste kortfilms in die Altyd 'n Matie-reeks kyk spesifiek na ses areas, naamlik beurse, gestremdheid, sport, innovasie, studenteleierskap, en die kunste, en gee alumni en huidige studente die geleentheid om te praat oor die impak wat die Universiteit op hul lewens gehad het.

Ons filmsterre - om maar enkeles te noem - is die US se rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers, tesame met onlangse MB, ChB-gegradueerdes van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Wandile en Wanele Ganya; Melanie Verwoerd, 'n studenteleier gedurende die 1980's, oud-LP, diplomaat, en direkteur van UNICEF-Ierland; Axolile Qina, huidige Studenteraad  (SR) voorsitter; Paralimpiese wêreldkampioen, Ilse Hayes; en die kunstenaar Louise Gelderblom.

Hierdie films sal op die US se Alumni YouTube-kanaal​ geplaas word asook op Facebook​ en Twitter​. Jy kan ook 'n kopie van die DVD versoek deur 'n e-pos na alumni@sun.ac.za te stuur.

  • Elkeen van die Maties wat tot dusver in die reeks te siene is, het ruimhartig hul persoonlike reis met ons gedeel en ons nooi jou uit om ons gerus te l​aat weet van ander stories wat demonstreer wat dit beteken om 'n Matie te wees. ​​