Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerking tussen US en Universiteit van Coventry
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 11/04/2016

Die verwantskap tussen kroniese inflammasie en die aanvang van tipe 2-diabetes  sal die onderwerp van die navorsing wees wat wetenskaplikes van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) sal doen in samewerking met die Sentrum  vir Toegepaste Biologiese en Oefeningfisiologie  by die Universiteit van Coventry in die Verenigde Koninkryk.

Die deel van 'n waardevolle stel data en bloedmonsters wat verkry is uit 'n studie wat onderneem is met 'n groep Wes-Kaapse plaaswerkers, sal sentraal staan in hierdie samewerkende navorsing.

Dr. Theo Nell (hoof van die EpiMets navorsingsgroep), dr. Maritza Kruger, en drie MSc-studente, het epidemiologiese data ingesamel gedurende 2015 as deel van 'n projek wat gefinansier is deur die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA).  Dr. Nell sê wetenskaplikes ondersoek nou 'n verband tussen leefstylsiektes ‒ soos diabetes, vetsug, hoë bloeddruk, hoë cholesterolvlakke ‒ en die aanvang van sekere tipes kanker wat met leefstyl geassosieer word. Die doel van hierdie studie was om 'n momentopname te verskaf van wat besig is om in die Wes-Kaap op voetsoolvlak plaas te vind.

Sy medewerker by die Universiteit van Coventry, prof. Derek Renshaw, sal bogenoemde stel data en bloedmonsters  gebruik om te toets vir 'n verband tussen kroniese inflammasie van die immuunstelsel en die aanvang van tipe 2-diabetes.

Indien wetenskaplikes 'n direkte verband tussen die natuurlike anti-inflammatoriese stelsel en die aanvang van tipe 2-diabetes kan vasstel, kan terapeutiese ingrepe ontwerp word om die aanvang van hierdie aftakelende siekte te voorkom.

Prof. Renshaw verduidelik: "Annexin A1 is 'n natuurlike anti-inflammatoriese proteïen wat in die menslike liggaam voorkom. Dit is bekend dat hierdie proteïen veranderinge toon in mense wat siektes soos byvoorbeel rumatoïede artritis en lupus het, en onlangs is bevind dat Annexin A1 ook verander in individue wat vetsugtig is. Individue met baie liggaamsvet toon slegs die helfte van die hoeveelheid Annexin A1 as wat by individuele met normale liggaamsmassa aangetref word. Gegewe die feit dat vetsug gekenmerk word deur 'n ligte, laegraadse kroniese inflammatoriese toestand, glo ons dat hierdie vermindering in plasma Annexin A1 die inflammatoriese toestand by hierdie individue kan vererger; en dat bogenoemde veranderde balans in die inflammatoriese toestand dan hierdie individue meer vatbaar maak vir tipe 2-diabetes.

Hierdie studies sal hulle in staat stel om vas te stel of daar 'n verband is tussen plasma Annexin A1 en insulienweerstandige of te wel tipe 2-diabetes.

In 2015, is die Universiteit van Coventry as "Universiteit van die Jaar" aangewys tydens die jaarlikse Times Higher Education (THE) Toekennings.

Prof. Renshaw het die US onlangs besoek om die samewerking te formaliseer. Dr. Nell en lede van sy navorsingsgroep sal op hul beurt weer later vanjaar na die VK reis om daar saam met prof. Renshaw te werk.