Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe eenheid om MMed-navorsing te versterk
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 08/04/2016

​ʼn Nuwe eenheid wat studente in die Magister in Geneeskunde (MMed) -program met hulle navorsingsprojekte sal ondersteun is onlangs by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gestig.

Die nuwe MMed-eenheid van die FGGW se Afdeling Navorsingsontwikkeling en -steun sal ook hulp aan toesighouers binne die kliniese omgewing verleen om die kapasiteit in kliniese navorsing te versterk.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (SARGB) vereis dat MMed-kandidate ʼn navorsingskomponent moet voltooi om te kwalifiseer en as ʼn mediese spesialis in Suid-Afrika mag registreer. Volgens prof Nico Gey van Pittius, die Visedekaan: Navorsing van die FGGW, is dit om verskeie redes ʼn uitdaging in die kliniese omgewings.

“Beide die studente en hulle toesighouers moet ʼn beduidende hoeveelheid tyd aan navorsingsprojekte bestee, terwyl hulle alreeds hoë pasiëntegetalle moet hanteer. Verder het die meeste MMed-studente min of geen navorsingsondervinding nie en moet hulle navorsingsvaardighede ontwikkel,” het hy verduidelik.

“Dit is ʼn wesenlike probleem omdat studente wat nie hulle navorsing teen die einde van hulle studies indien nie, nie vir die MMed-graad kan kwalifiseer nie en dus nie as spesialis by die SARGB kan registreer nie.”

Uitgelese professor Robert Gie, wat einde verlede jaar by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid afgetree het, is as hoof van die MMed-eenheid aangestel.

“Prof Gie is ʼn bekende en gerespekteerde kliniese navorser,” het Gey van Pittius gesê. “Ek is dankbaar dat hy gewillig is om baie jare se ondervinding in kliniese navorsing terug te ploeg om te verseker dat ons die kliniese navorsers van die toekoms bemagtig en ontwikkel."

Gie sal alle MMed-studente en hulle kliniese toesighouers met navorsingsprojekte ondersteun, van die beplanningstadium tot en met die suksesvolle afhandeling daarvan. Hy sal ook daarvoor verantwoordelik wees om ‘n plan rondom die breër ondersteuning- en kapasiteitsontwikkeling van MMed-navorsing binne die FGGW te ontwikkel.

“Ons is nog besig om die formaat van die ondersteuning te ontwikkel, maar ons het planne om toegewyde ruimte te skep en tyd in te ruim sodat MMed-studente hulle navorsingsvoorstelle kan ontwikkel; die ontwikkeling van modules en kursusse om navorsingsvaardighede te verbeter; en die bemagtiging van toesighouers en mentors van MMed-studente om hulle in staat te stel om studente doeltreffend te lei,” het Gey van Pittius gesê.

“Ek sien daarna uit dat MMed-navorsing binne die Fakulteit van krag tot krag sal gaan, en ook na baie publikasies wat in die toekoms uit ons kliniese assistente se navorsing sal spruit,” het hy gesê.

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.