Onderdruk ons een van Moedernatuur se oudste en mees effektiewe bakterie-bevegtende meganismes deur pasiënte te forseer om te eet nadat hulle, hul eetlus verloor het tydens 'n infeksie?
'n PhD student in fisiologeise wetenskappe aan Stellenbosch Universitet (US), mnr. Gustav van Niekerk, argumenteer dat dit wel die geval mag wees en terselfdetyd pleit hy dat hierdie standaard mediese praktyk herondersoek moet word.
In 'n artikel wat vandeesweek (6 April 2016) in die vaktydskrif Autophagy gepubliseer is, argumenteer Van Niekerk en mede navorsers van die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die US, dat verlies aan eetlus tydens infeksie of siekte 'n baie belangrike funksie bied.
Hierdie funksie sluit die vermoë van selle in om hulself bloot te stel aan autofagie wat letterlik beteken dat die sel "homself kan eet".
Onder normale omstandighede gebruik selle autofagie ('n soort herwinningsprosesserings fabriek) om afvalprodukte te herwin nádat seldele afsterf of beskadig word. Deur autofagie is die sel dan instaat om hierdie afgeweerde seldele te herwin wat andersins die sel skade kon berokken.
Die gedegradeerde materiaal word dan as energie gebruik om nuwe seldele te vervaardig. Met ander woorde, alle selle in die liggaam word gedurig geregenereer om sodoende optimaal te kan funksioneer.
Van Niekerk en mede-outeurs argumenteer dat 'n tydelike vastende periode tydens infeksie die sel van noodsaaklike voedingstowwe ontneem en daardeur die sel stimuleer om te herwin (autofagie). Daarbenewens kan bakterieë en viruses wat die sel binnedring ook afgebreek word deur dieselfde herwinningsproses (sien Figuur 1).
Van Niekerk verduidelik: "Die immuunstelsel word soms as die 'weermag' gesien, terwyl 'normale' selle soos bv. lewerselle en neurone as 'burgerlikes' beskou word. Volgens hierdie manier van dink beskadig die indringer bakterieë en virusse die 'onbeskermde burger', terwyl die weermag (die immuunsisteem) toegewyd is om die infeksie te beveg.
Maar 'normale' selle is nie noodwendig so hulpeloos nie.
"Ons argumenteer dat die stimulering van autofagie die sel se selfbeskermingsmeganisme is, en daardeur 'n kritiese rol in die liggaam se immuunsisteem speel.
"Op hierdie wyse kan die 'burgerlike' selle optree soos 'guerrilla-stryders' wat die verspreiding van infeksie kan teenstaan tot tyd en wyl die "professionele magte" (immuunselle) gemobiliseer kan word."
Prof. Anna-Mart Engelbrecht, hoof van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, sê hierdie nuwe denkwyse oor die rol van autofagie het belangrike implikasies in die mediese dogma: "Dit is reeds getoon dat kankerpasiënte wat voor chemoterapie vas, minder van die skadelike newe-effekte soos moegheid, swakheid, hoofpyne, naarheid en diarree ervaar."
Verdere navorsing nodig
Die navorsers argumenteer nou vir 'n dringende herevaluering van voedingsondersteuning in die konteks van beheerde ondervoeding, waardeur opregulering van autofagie meer ondersteuning kan bied.
Die opregulering van autofagie kan addisionele voordele inhou. So byvoorbeeld word dele van die bakterieë en virusse wat deur die sel se herwinningsfabriek opgelewer word, aan immuunselle blootgestel. Sodoende kan die immuunselle 'opgelei' word om die bakterieë en virusse te herken om teenliggame te produseer. Hierdie opregulering van die herwinningsfabriek (autofagie) kan dus ook verder aanleiding gee tot meer effektiewe maniere om entstowwe te verbeter.
Die navorsers beklemtoon egter dat korttermyn voedingsontrekking nie verwar moet word met die welbekende en effektiewe immuun-inhiberingseffek van langtermyn uithongering nie.
Hulle benadruk ook dat daar wel 'n aantal omstandighede is waar voedingsaanvullings 'n terapeutiese voordeel mag inhou. Om een voorbeeld uit te lig, sommige patogene kan sekere stappe van die autofagie proses kaap. Dus, deur pasiënte op grond van die tipe patogeen te evalueer, kan onderskei word watter tipe infeksies deur permissiewe ondervoeding behandel moet word teenoor ander infeksies waar agressiewe supplementering meer voordelig sal wees.
Die mede-outeurs van hierdie artikel sluit in; Prof. Anna-Mart Engelbrecht, dr. Ben Loos en dr. Theo Nell. Hiedie werk word deur die Kankervereniging van Suider Arika (KANSA), die Nasionale Navorsingsstigting (NNS), en die Suid Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ondersteun.


Figuur 1. Die proses van autofagie speel 'n kritese rol in 'huishoudingsfunksies' van die sel (A) maar dit word ook aangewend vir immuunfunksionering (B). In voorbeeld (A), teiken die sel 'n proteïen wat gedegradeer moet word deur dit te merk met 'n molekule waarna 'n membraan om daardie proteïen gevorm word. Die proteïen word dus so geïsoleer van die res van die sel. Ander vesikels wat 'n mengsel van ensieme bevat, versmelt met die proteien-bevattende vesikel waarna die proteïen opgebreek word in aminosure wat weer in die sel hergebruik kan word. Dieselfde autofagie-masjienerie wat gebruik word om sellulêre komponente te verteer, kan ook gebruik word om bakterieë te degradeer (B). Grafika: Gustav van Niekerk
Kontakbesonderhede
Prof. Anna-Mart Engelbrecht
T: 021 808-4573
M: 083 207 7835
E: ame@sun.ac.za
Mnr. Gustav van Niekerk
M: 076 801 7048
E: 14088576@sun.ac.za
Uitgereik deur Wiida Fourie, media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, science@sun.ac.za, 021 8082684, 071099 5721