Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ross Universiteit Skool van Veterinêre Medisyne teken eerste toelatings-ooreenkoms in SA met US
Outeur: Jodi Peeler
Gepubliseer: 05/04/2016

Die Skool van Veterinêre Medisyne van Ross Universiteit (RUSVM) het aangekondig dat dit ʼn wetlike toelatingsooreenkoms met die Universiteit van Stellenbosch onderteken het. Dié ooreenkoms, ʼn eerste van sy soort tussen RUSVM en ʼn Suid-Afrikaanse universiteit, het ten doel om die geleenthede vir gekwalifiseerde studente om vir  ʼn doktorale graad in Veterinêre Medisyne in te skryf, te verbeter.

Die ooreenkoms stel studente van die Fakulteit Agriwetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch in staat om, indien hulle aan spesifieke akademiese vereistes voldoen, toelating tot die program aan RUSVM te verkry.  Studente wat kwalifiseer se aansoekgelde sal kwytgeskeld word, is verseker van onderhoude en sal ook vir internasionale finansiële ondersteuning oorweeg word.

"Hierdie nuwe vennootskap met RUSVM skep ʼn direkte kanaal vir ons studente wat daarin geïnteresseerd is om ʼn loopbaan in veterinêre medisyne te volg.  Vir sommige studente is dit ʼn lewenslange droom en vir ander is dit ʼn geleentheid om ons samelewing te dien deur die handhawing van dieregesondheid," sê Prof. Danie Brink, Waarnemende Dekaan van die Fakulteit Agriwetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch. 

Volgens ʼn persverklaring deur die Wêreld Organisasie vir Diergesondheid (OIE) is daar ʼn aanvraag na ʼn sterk en goed-opgeleide veterinêre netwerk regdeur die wêreld, wat deels die gevolg is van ʼn toename in die belang van dieresiektes en soönoses. Aansteeklike siekteveroorsakende organismes en gifstowwe wat in dierbevolkings en produkte van dierlike oorsprong voorkom, word as ʼn ewigdurende bedreiging vir diergesondheid, verwante ekonomieë, biodiversiteit, voedselsekuriteit, voedselveiligheid en volksgesondheid, beskou.  ʼn Konferensie wat deur die OIE in Oktober 2015 aangebied is, het die belangrike behoefte aan opgeleide veeartse en para-veterinêre professionele persone in Afrika, onder oënskou geneem en bespreek.

"As deel van die RUSVM missie, is ons toewyding om opleiding te verskaf in areas wat strategies belangrik is in terme van globale gesondheid, wat ons studente dus in staat sal stel om betekenisvol tot beide mens- en diergesondheid by te dra," sê Dr. Carmen Fuentealba, Uitvoerende Mede-Dekaan vir Onderrig en Leer aan RUSVM.

"Ons uitreik na Suid-Afrika en die res van die wêreld is van strategiese belang om te verseker dat ons kan bydra tot die opleiding van veeartse in die jongste bevindinge en beginsels van troeteldier sorg en aspekte van voedselveiligheid en –sekuriteit om so die beheer van aansteeklike en soönotiese siektes te vergemaklik," sê Prof. Fuentealba.​

Oor die Skool van Veterinêre Medisyne van Ross Universiteit
Die Skool van Veterinêre Medisyne van Ross Universiteit (RUSVM), gestig in 1982, is toegewyd om studente voor te berei om lede en leiers van ʼn internasionale publieke en professionele gesondheidsorg span te word, wat ook deur die uitruiling van kennis en navorsingsbevindinge, kan deelneem aan die bevordering van mens-, dier- en ekosisteem gesondheid (One Health Inisiatief).

Die navorsingprogramme wat deur RUSVM in plek gestel is, fokus op nuwe aansteeklike en soönotiese siektes, bewaringsmedisyne en ekosisteem gesondheid. RUSVM bied studiegeleenthede wat ʼn nagraadse Meesters-, PhD en ook ʼn doktoraal in Veterinêre Gesondheid (DVG) programme insluit, aan. Al dié programme is deur die St. Christopher & Nevis Akkrediteringsraad geakkrediteer. Die DVG program word ook deur die American Veterinary Medical Association geakkrediteer. Die RUSVM Veterinêre Kliniek is deur die American Animal Hospital Association geakkrediteer. Vir meer inligting oor RUSVM, besoek www.rossu.edu/vet.

Oor die Fakulteit Agriwetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch

Die geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch (SU) strek so ver terug as die 17e eeu, met gereelde skool opleiding wat in 1685 in die dorpie Stellenbosch, begin is. Met die amptelike stigting van SU in 1918, was Landbou een van die eerste vier fakulteite wat gevorm is. Sedertdien het die Fakulteit betekenisvol tot opleiding en navorsing in Landbou in Suid-Afrika bygedra. In 2006 het die Fakulteite van Landbou en Bosbou van SU saamgesmelt en staan nou as die Fakulteit Agriwetenskappe bekend.  

Die Fakulteit Agriwetenskappe word nasionaal en internasionaal deur die Landbou- en Bosboubedryf as ʼn belangrike raadgewer beskou. Studente wat inskryf vir die voor- en nagraadse programme word opgelei deur kundiges om leiers en bestuurders in die sektore van die verwante bedrywe te word.  Die Fakulteit Agriwetenskappe, met sy 11 departemente, spog met meer as 1270 voorgraadse en 460 nagraadse studente.  Vir meer inligting oor die Fakulteit Agriwetenskappe, besoek http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/agri/.