Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe tale kom maklik vir dr Alex Andrason
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 05/04/2016

Yslands, Pools, Sweeds, Frans, Spaans, Russies, Engels, Mandinka, Afrikaans en Xhosa. Dis 'n mondvol tale wat dr Alex Andrason, 'n navorser by die Universiteit Stellenbosch (US), praat en verstaan.

Met twee doktorsgrade agter sy naam, een wat fokus op Afrika-tale en die ander Semitiese tale, leer dié Yslands-gebore akademikus maklik nuwe tale aan.  

Andrason, 'n nadoktorale genoot in die Departement  van Afrikatale, sê tale fassineer hom. "Ek is mal daaroor. Waar mense boeke op vakansie neem om te lees, pak ek die grammatika van 'n nuwe taal aan.  Drie tot vyf maande is genoeg om 'n nuwe taal in 'n ander land aan te leer. "

Met Xhosa was dit iewat van 'n uitdaging.

"Ek dink dit is die moeilikste taal wat ek sover aangeleer het, maar ek hou juis daarvan  omdat dit so moeilik en 'n uitdaging is. Dit is 'n uiters komplekse taal, veel meer kompleks as enige Europese taal. "

Andrason, wat Mandinka in Gambië leer praat het, sê daar is 'n wanopvatting dat Afrikatale primitief, onderontwikkeld en arm is. "Sprekers van Afrikatale se brein moet anders bedraad wees met soveel tale wat daar gepraat word. Hierdie tale is so ingewikkeld. Dit is fassinerend."

Andrason se liefde vir nuwe tale kom van besoeke regoor die wêreld. Hy het al in 'n klomp lande gebly en gestudeer.   

Hy het sy eerste doktorsgraad in Semitiese tale; Arabies, Bybelse Hebreeus en Akkadies in Spanje verwerf. Suid-Amerika en Australië is die enigste twee vastelande wat Andrason nog nie besoek het nie.

Hy het Suid-Afrika in 2010 vir die eerste keer besoek en by die US vir 'n semesterkursus in Afrikaans ingeskryf. Dis opgevolg deur 'n nadoktorale genootskap in die Departement van Antieke Studie. In Januarie vanjaar het hy 'n tweede na-doktorale genootskap in die Departement van Afrikatale begin.

 Andrason is wyd gepubliseer. In die eerste drie maande van 2016 is sy navorsing reeds in tien geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer. Hy skryf dit toe aan die "positiewe akademiese omgewing" by US.  

Dieselfde geld vir Suid-Afrika ― sy tweede tuiste.

"Ek dink nooit aan myself as 'n immigrant as ek in Suid-Afrika is nie. Ek verlang baie meer in Europa as wanneer ek in Suid-Afrika is. Twee jaar gelede is ek na Europa vir drie maande om navorsing te doen en ek het Suid-Afrika verskriklik gemis. Ek het die dae afgetel tot wanneer ek huis toe kon gaan, terug na Stellenbosch."

• Na-doktorale genote is opkomende navorsers wat hul PhD voltooi het. Hulle maak 'n wesenlike bydrae tot die US se navorsingsuitsette. Die US het tans 252 nadoktorale genote, waarvan 116 internasionale genote is. Hulle werk nou saam met kollegas in die Afdeling Navorsingsontwikkeling en die Nagraadse en Internasionale Kantoor.