Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bridging Abilities-dag 'n groot sukses
Outeur: Sport Science: Media / Sportwetenskap: Media
Gepubliseer: 29/03/2016

Studente van die Departement Sportwetenskap se Adapt2Move-program het onlangs aan die Bridging Abilities-dag deelgeneem.

Bridging Abilities is 'n nie-winsgewende organisasie. Sy hoofdoel is om deur middel van kampe en sportdae geleenthede te skep vir persone met gestremdhede om aktief te wees en sodoende hul lewensgehalte te verbeter. Bridging Abilities tref al die reëlings vir die dag en die Departement Sportwetenskap hanteer die program en voorsien die geriewe.

"Dit is spesifiek die derdejaarstudente wat spesialiseer in aangepaste bewegingsprogramme (adapt2move) se taak om die program aan te bied. Dit is dan ook sommer 'n gemeenskapsinteraksie-projek vir hierdie groep studente," sê dr Suzanne Ferreira van die Departement Sportwetenskap.

"Uit die oogpunt van studente-opleiding, is die doel van die dag om studente bloot te stel aan die vermoëns van persone met gestremdhede en die studente uit te daag om hulle teoretiese kennis prakties toe te pas. Oorhoofs is dit ook belangrik dat albei groepe pret het met die aktiwiteite."

Toni Mould, direkteur van Bridging Abilities, voeg by: "Ek dink die dag het baie goed afgeloop. Die studente het hul wonderlik van hul taak gekwyt. Daar was baie nuwe gesigte; dit is baie lekker as nuwe organisasies en kinders die dag bywoon, want die doel is om elke jaar te groei."