Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing van USB se Top MBA-student onthul ADHD onder volwassenes 'n 'chroniese siekte'
Outeur: USB Marketing & Stakeholder Relations
Gepubliseer: 22/03/2016

Meer as 'n miljoen Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 20 en 50 word geraak deur volwasse aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD), sê dr. Renata Schoeman, 'n psigiater en die top MBA-student vir 2015 aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

Vir haar MBA-tesis het sy die huidige situasie in Suid-Afrika ontleed deur spesifiek te fokus op die psigiatriese bestuur en befondsing van behandeling vir volwassenes met ADHD in die privaat sektor.

Haar studie het die gebrek aan kennis en finansiële ondersteuning vir ADHD geïdentifiseer as die vernaamste struikelblokke om behandeling vir en diagnose van die siekte te verkry, en sy stel 'n nuwe befondsingsmodel vir privaat gesondheidsorg voor as 'n moontlike oplossing.

Dr Schoeman sê: "Die erkenning van volwasse ADHD as 'n chroniese siekte wat behandeling benodig, is krities. Tog het volwassenes met ADHD beperkte toegang tot behandeling, selfs diegene in die privaat gesondheidsorgstelsel. Dis omdat mediese skemas wat ADHD by kinders dek dikwels nie voordele of behandeling vir volwassenes voorsien nie. Pasiënte sukkel om privaat behandeling bo en behalwe die koste van hul maandelikse mediese bydraes by te bring en te dikwels bly die siekte onbehandel."

Haar studie het 'n ontleding van die mediese, farmaseutiese en eise-inligting vir die behandeling van ADHD oor 'n tydperk van twee jaar van een van die grootste mediese skemas ingesluit. Dit het ook 'n opname ingesluit van psigiaters in privaat praktyk wat volwasse ADHD bestuur. Kwalitatiewe ontleding van indiepte-onderhoude met belangrike meningsvormers oor hul ervarings met volwassene pasiënte met ADHD is ook gebruik.

"Volwassenes met ADHD ervaar steeds skeptisisme van diegene rondom hulle wat aangevuur word deur volgehoue en oningeligte mediagedrewe persepsies dat ADHD nie 'n regte siekte met regte gevolge en koste is nie," sê dr. Schoeman.

As dit verkeerd gediagnoseer of nie behandel word nie, kan die gevolge van volwasse ADHD baie nadelig wees vir die langtermyn-gesondheid van diegene wat dit het.

"Baie volwassenes met ADHD gaan vir die grootste deel van hul lewens sonder behandeling. Dit kan lei tot 'n aansienlike toename in die risiko vir ander psigiatriese toestande soos angs en gemoedsversteuring, asook dwelmmisbruik. In die werkplek kan hul swak tydsbestuur, doelwitstelling, stresbestuur en organisatoriese vaardighede 'n aansienlike impak op hul werknemers hê.

"Dis 'n duur, kroniese siekte met aansienlike impak op die gehalte van die lewens van pasiënte en hul families. Die koste (direk, indirek en ontasbaar) is aansienlik, met die aangepaste lewensjare vir gestremdheid (DALY) bereken op 424/100 000, wat 'n aansienlike afname in werkverrigting is."

ADHD word gekenmerk deur kwaai en beperkende vlakke van onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. As 'n sogenaamde ontwikkelingsiekte word simptome reeds in die kinderjare duidelik. Hoewel sommige kinders hul ADHD skynbaar ontgroei, is dit meer 'n geval dat sommige meer bedrewe word met die bestuur van die simpsome en dan eendag as volwassenes vergoed vir hul ADHD-verwante gebreke deur leefstyl- en loopbaankeuses.

Volgens dr. Schoeman word volwassenes wat aan ADHD ly dikwels deur hul tydgenote en familielede beskou as goeie beginners maar swak voltooiers, swak luisteraars, swak organiseerders, aandag-afleibaar, vergeetagtig, ongeduldig en mense wat nie konsekwent is nie.

"Mense met ADHD is dikwels hoogs intelligent en baie kreatief met 'n laterale en analitiese denkwyse, maar dikwels leef hulle tog 'n lewe van onderpresteer en volgehoue mislukking op akademiese gebied en in die werkplek, met interpersoonlike konflik, huweliksprobleme en finansiële moeilikheid," sê sy.

"Hierdie negatiewe ervarings kan lei tot die ontwikkeling van vernietigende, negatiewe gedagtes en sienings wat motivering en verrigting verder kniehalter en vermydingsgedrag en emosionele probleme vermeerder."

Stimulant-medikasie word as die eerste linie-behandeling beskou, maar baie volwassenes verkies om nie medikasie te neem nie weens die stigma wat aan die diagnose en behandeling gekoppel is. Medikasie is egter nie die enigste opsie nie. Kognitiewe gedragsterapie teiken die vernietigende gedagtepatrone en beskouings en die verwante emosies wat bydra tot die negatiewe gedrag.

Baie studente en beroepsmense misbruik die medikasie om hul konsentrasie te verbeter sonder dat hulle met ADHD gediagnoseer is. "Dit is onverantwoordelik en potensieel baie gevaarlik," waarsku Schoeman.

Haar studie en voorstel vir 'n befondsingsmodel – wat vertrouelik vir die privaat mediese s