Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Grondslag vir die lewe word in eerste 1000 dae gelê
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 18/03/2016

ʼn Kind se fisiese, intellektuele en emosionele ontwikkeling vind die vinnigste plaas in die eerste duisend dae van sy of haar lewe. Gedurende hierdie tydperk, wat strek van die begin van swangerskap tot en met elke kind se tweede verjaarsdag, vergroot die brein met 80%.

"Met Menseregtedag wat op 21 Maart herdenk word, wil ek die fokus plaas op elke kind se reg om in die eerste duisend dae van sy of haar lewe die beste versorging te verkry, aangesien dit van kritiese belang is vir intellektuele ontwikkeling en lewenslange gesondheid," sê prof Mariana Kruger, Uitvoerende Hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Tans is daar 17 miljoen kinders, ongeveer ʼn derde van alle kinders wêreldwyd, wat lengtegewys swak groei, oftewel aan dwerggroei lei. Hierdie onherstelbare toestand, wat toegeskryf kan word aan chroniese wanvoeding in die eerste periode, is aan die toeneem in Afrika suid van die Sahara. 

"Die invloed van chroniese wanvoeding op breinontwikkeling lei tot swak skoolprestasie, wat op sy beurt weer lewenslange armoede tot gevolg kan hê," sê Kruger. Hierdie volwassenes verdien gemiddeld 20% minder as hul eweknieë wat tydens hulle kinderjare goeie voeding ontvang het.

Die direkte koste van wanvoeding op gesondheid word wêreldwyd in die omgewing van 20 tot 30 biljoen dollar per jaar geraam. Swak voeding het ʼn invloed op ʼn land se bruto binnelandse produk, wat tot twee of drie persent swakker kan wees.

Goeie voeding moet reeds tydens swangerskap begin. ʼn Moeder met goeie gesondheid voorsien belangrike voedingstowwe aan die ontwikkelende fetus. Na die geboorte is eksklusiewe borsvoeding gedurende die eerste ses maande die heel belangrikste stap vir kinderoorlewing. "Babas in ontwikkelende lande wat in die eerste ses maande van hulle lewens uitsluitlik geborsvoed word, het 'n ses keer groter kans op oorlewing teenoor babas wat nie geborsvoed word nie," sê Kruger.

Ná die eerste ses maande het die baba toegang tot gesonde gebalanseerde voeding nodig. Kruger verduidelik dat dwerggroei met 20% verminder kan word as kinders tot op 12 maande gesonde voeding ontvang.

In baie arm lande soos Brasilië, Senegal en Tunisië is kindervoeding goed ondanks swak nasionale rykdom, terwyl daar swak kindervoeding in lande is met relatiewe verhoogde nasionale rykdom soos gevind in Suid-Afrika, Botswana en Mexiko.

"Dit is daarom interessant dat arm lande soos Malawi, Madagaskar en Peru se kinders in die eerste twee jaar van lewe goeie voeding ontvang," sê Kruger, "wat bewys dit is moontlik om selfs in armoedige omstandighede goeie voeding aan kinders te bied."

"Om die probleem van wanvoeding aan te spreek, is dit belangrik dat daar ʼn politieke wilsbesluit is om doeltreffend strategieë daar te stel," sê Kruger.

Gesondheidswerkers speel ʼn kritieke rol in die verbetering van voeding van die moeder en kind tydens die eerste duisend dae van lewe. In arm lande is dit veral die gemeenskapsgesondheidswerker en vroedvroue wat hierdie belangrike rol vervul.

"Dikwels is dokters onbeskikbaar en klinieke of hospitale te ver of te duur vir die gemiddelde bevolking," sê sy. Gesondheidswerkers doen sifting vir wanvoeding; opleiding in gebalanseerde voeding; bevorder borsvoeding, higiëne en sanitasie; en help met die vroeë opsporing van behandelbare algemene siektes soos diarree.

"Veral Malawi en Nepal behaal sukses deur gesondheidswerkers strategies te plaas," sê Kruger. "Dit is nodig om te belê in gesondheidswerkers, veral diegene wat betrokke is tydens swangerskap en in primêre gesondheidsorgklinieke."

Regeringsaksies waardeur wanvoeding aangespreek word, moet ook versterk word. Vennootskappe tussen die openbare en privaatsektor kan baie help om te verseker dat die nodige voedingsplanne en hulp aan alle moeders en kinders verleen kan word.

"Landswette, beleide, regulasies en ander aksies, wat selfs vir arm lande bekostigbaar is, moet verander en verbeter word om die eerste duisend dae van ʼn kind se lewe te bevorder," sê Kruger.

Dit sluit in belegging in lae-koste oplossings soos borsvoeding, toepaslike komplementêre voeding, aanvullings soos yster (verbeter weerstand teen infeksies), vitamiene A (voorkom blindheid en verlaag risiko om te sterf aan algemene kinderinfeksies), sink en goeie higiëne (voorkom sterftes as gevolg van diarree).

Borsvoeding is een van die belangrikste aksies, maar word nie oral in openbare plekke toegelaat nie. "Moeders moet kan borsvoed in die werksplek," sê Kruger. "Openbare vervoer moet ook toegerus wees met spesiale sitplekke, gereserveer vir moeders wat borsvoed."

Volgens Kruger is dit nie net arm lande wat moet fokus op die eerste duisend dae nie. "Dit is jammer dat die VSA, ʼn land met ʼn sterk ekonomie, die land is met die onvriendelikste ingesteldheid teenoor moeders wat wil borsvoed," sê sy.

Toekomstige moeders moet opgelei word sodat hulle wanvoeding met die nodige kennis kan beveg. "Alle meisies moet volledig geskoold wees, wat beteken hulle moet twaalf jaar skoolopleiding voltooi," sê Kruger.

Regte Begin, Blink Toekoms

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid stuur vanjaar ʼn veldtog, getiteld "Regte Begin, Blink Toekoms" met die fokus op die eerste duisend dae van lewe van stapel.

Die drie pilare van die program is die versekering van gesondheid van die moeder en baba; ondersteuning van moeders en babas deur die vaders, families en gemeenskappe; asook die regte stimulering vir die baba se leerbehoeftes, naamlik ʼn gemeenskap wat vry is van middelmisbruik en waar gesondheid bevorder word.

Een so ʼn aksie wat gemik is daarop om veral kinderbreinontwikkeling te stimuleer is die leesprojek wat verlede jaar by die Tygerberg-kinderhospitaal begin is. Moeders word geleer om van geboorte af vir hul kinders uit kinderboeke voor te lees en so intellektuele ontwikkeling te stimuleer.

Lees meer oor die Leesprojek.

 

Einde

 

Medianavrae

Bemarkingskoördineerder

Mandi Barnard

+27 (0)21 938 9505

mandi@sun.ac.za

Afdeling Bemarking en Kommunikasie

Fakulteit Geneeskunde en            Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch  

 

Webwerf:       www.sun.ac.za/health

Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci

Twitter:           @SUhealthsci