Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leesprojek inspireer verandering by Tygerberg-kinderhospitaal
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 04/02/2016

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.

​Moeders van pasgebore babas en kinders is aan die vreugde en voordele van lees bekendgestel met ʼn projek wat onlangs by die Tygerberg-kinderhospitaal begin is.

Die projek is deur dr Miemie du Preez, ʼn neonatoloog by die hospitaal, begin met die doel om ʼn liefde vir lees by ma’s en babas te kweek en terselfdertyd die band tussen hulle te versterk.

Die leesprojek het met vroeggebore babas begin, waarvan party van hulle minder as een kilogram weeg, maar dit sal uitgebrei word om kinders en tieners in te sluit. Du Preez het gesê dit was ʼn natuurlike eerste stap om met vroeggebore babas te begin.

“Omdat vroeggebore babas minder tyd in die moederskoot spandeer het, is dit nodig dat hulle die klank van hul ma se stem moet hoor. Dit is bewys dat die lees van kinderrympies die baba se brein stimuleer. Die baba se brein verhelder wanneer ʼn ouer vir hom of haar lees.

Du Preez het gesê ʼn studie het bewys dat vroeggebore babas vir wie daar drie keer per week vir 15 minute lank gelees word, beter neurologiese uitkomste het. “Jy groei letterlik hulle brein deur vir hulle te lees.”

Elke moeder kry ʼn boekie met wiegeliedjies en kinderrympies, wat in Engels, Afrikaans, isiXhosa en ander tale beskikbaar is. Elkeen word individueel met ʼn voet- en handafdruk van hulle babas gemerk. Die ma’s, wat by hulle vroeggebore babas bly totdat hulle sterk genoeg is om huis toe te gaan – dikwels vir ʼn paar maande lank – hou boek van hulle leestye.

Ncumisa Mzinjani, ʼn ma wat van Mfuleni in Kaapstad af kom, sê dit was vir haar en haar babaseuntjie ʼn bevredigende ervaring.

“Hy weet dit is ek. Hy herken my stem. Dit is kalmerend en hy geniet die ritme. Ek kan aanvoel dat hy daarvan hou. Dit maak my ook gelukkig. Ek wil doen wat die beste vir my baba is en hom help om goed groot te word.

Mzinjani het gesê sy sal aanhou om vir Indiphile te lees, wat binne ses weke van ʼn brose 750 gram tot ʼn baie sterker 1,2 kilogram gevorder het.

Die biblioteek by die Tygerberg-kinderhospitaalskool het sy deure vir al die kinders oopgemaak, insluitend die buite-pasiënte van die hospitaal, sodat almal die pret en genot van lees kan ervaar. 

“Die biblioteek is ʼn veilige plek waarbinne gedeelde lees geniet kan word. Ons hoop dit sal die kinders se verbeelding prikkel en ʼn liefde vir boeke en lees op ʼn jong ouderdom laat posvat,” het Du Preez gesê. 

ʼn Gedeelde leeservaring op ʼn jong ouderdom is een van die sterkste aanwysers van ʼn kind se akademiese sukses.

“Lees kan ʼn groot verskil maak in geletterdheid en sukses op skool. Ons kan nie daarsonder nie. In Suid-Afrika het 51% van die kinders in graad een nie ʼn enkele ontspanningsboek by die huis nie. Ons moet ʼn bewuste poging aanwend om kinders te laat lees. Deur die voordele van gedeelde lees te versprei, kan ons moontlik die opleidingsuitkoms van Suid-Afrika verander, het Du Preez gesê.”

Studente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, verpleegkundiges en vrywilligers neem die moeders en kinders na die biblioteek op die hospitaalterrein waar hulle gedeelde lees aan die moeders demonstreer.

Boektrollies sal boeke na die sale neem vir kinders wat nie gesond genoeg is om biblioteek toe te gaan nie. Du Preez het gesê dokters is ook aan boord en sal voorskrifte uitmaak wat lees aanmoedig as deel van die kind se bestuursplan.

Verpleegkundiges by die hospitaal het die projek verwelkom. 

“Dit is baie belangrik en stimulerend vir die babas. Dit is ook goed vir die ma en oppassers. Dit is bemagtigend,” het verpleegkundige Martha Gertze gesê.

Du Preez hoop dat lees deel sal word van ma’s, babas en kinders se lewens wanneer hulle die hospitaal verlaat en dat hulle sal besef hoe belangrik die rol van lees in die ontwikkeling van ʼn mens se woordeskat is.

Du Preez sal graag wil hê dat elke kind wat ʼn pasiënt in die hospitaal was met ʼn boek moet huis toe gaan.

Du Preez se projek word gerugsteun deur die Tygerberg-kinderhospitaaltrust, wat fondse insamel vir die versorging van meer as 16 000 babas en kinders wat jaarliks in die hospitaal opgeneem word.

Kontak Malcolm Kling, die Tygerberg-kinderhospitaaltrust se fondswerwer by 021 938 9583 of mkling@sun.ac.za om hierdie projek te ondersteun. Kontak Laticia Pienaar by 021 938 5454 of laticia.pienaar@westerncape.gov.za om boeke of jou tyd aan die leesprojek te skenk.

Foto: Neonatoloog, dr Miemie du Preez, en Susan Potgieter, die Hoof van die Tygerberg-kinderhospitaalskool, moedig jong pasiënte aan om die biblioteek te besoek en te lees.