Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit AgriWetenskappe spog met 'n rekordgetal PhD's
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/03/2016

'n Rekord-oes van 37 studente het in die afgelope akademiese jaar hul doktorsgrade danksy studies in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. In die proses het hulle deur hul navorsing bygedra tot die uitbreiding van kennis wat die bedrywighede van onder meer plaaslike wildboere, bosbouers, die voedselsektor en die vrugte- en wynbedryf ondersteun.

Op 16 Maart het 24 van hierdie studente hul doktorsgrade ontvang, nadat 13 ander in Desember 2015 gegradueer het. Hierdie studente het onder meer navorsing gedoen oor Suid-Afrikaanse lemoene, wyngis, die hergebruik van water vanaf wynkelders en olyfprodusente, asook aspekte rondom die kwaliteit van wildvleis en Forelle-pere.

Ses studente het hul studies in Voedselwetenskap voltooi. Hulle is Shuaibu Bala, Theresa Beelders, Rufina Chukwumalume, Cindy Hunlun, Jeannine Marais en Nikki Neethling. Twee plantpatoloë, dr Lindy-Joy Rose en dr Reuben Ssali, het aspekte rondom die plantfungus Fusarium ondersoek. Dr Algina Stofberg, wat haar PhD in Veekundige Wetenskappe ontvang het, het 'n protokol vasgestel waarvolgens volstruisemen suksesvol gevries en geberg kan word tot dit benodig word vir kunsmatige inseminasiedoeleindes. Dr Mathew Ayoola, wat ook sy graad in Veekundige Wetenskappe ontvang, het die gebruik van bentonietklei as aanvulling in die kos van katvis ondersoek. 

Die ander studente wat ook hul PhD-grade ontvang het, is: Daphne Bitalo, (Genetika), Boredi Chidi, Yu Gao en Margaret Whitener (Wynbiotegnologie), Adriaan Engelbrecht, Monlee Swanepoel en Inam Yekwayo (Bewaringsekologie), Carolyne Howell en Obiageli Umeugochukwu (Grondkunde), Tarquinio Magalhaes (Woudkunde), Rebogile Mphahlele en Tavagwisa Muziri (Hortologie), Victor Omeje (Akwakultuur) en Nomakholwa Stokwe (Entomologie).