Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US reageer op ‘verkragtingskultuur’
Outeur: Corporate Marketing
Gepubliseer: 11/03/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) neem geruime al tyd sterk standpunt in teen alle vorm van seksuele wangedrag en geweld teenoor vroue. Die Rektor se Bestuurspan (RBS) het dus met kommer kennis geneem van onlangse bewerings van ʼn ‘verkragtingskultuur’ by die instelling. Daar is besluit om ʼn Taakspan oor Beweerde Seksuele Oortredings aan te stel sodat daar dringend na hierdie kwessie gekyk en die nodige aanbevelings gemaak kan word.

Die RBS het tydens sy weeklikse vergadering op 8 Maart 2016 die Universiteit se benadering van zero verdraagsaamheid teenoor seksuele wangedrag herbevestig. Verkragting is ʼn ernstige kriminele oortreding wat in die jurisdiksie van die Suid-Afrikaans Polisiedienste (SAPD) en die regstelsel val. Die Universiteit verleen sy volle samewerking in alle kriminele ondersoeke.

Voorts word seksuele wangedrag ingevolge die Universiteit se Dissiplinêre Kode vir Studente en Seksuele Teisteringsbeleid (vir personeellede) hanteer. Die US se Afdeling Regsdienste ondersoek aantygings, en die US se Advieskomitee oor Seksuele Teistering hoor aangemelde sake aan en neem gepaste stappe.

Wat egter nou ter sprake is, strek verder as regtelike en dissiplinêre aspekte. Daar is klagtes oor ʼn algemene kultuur van minagting en teistering van vrouestudente, en dat dit as normaal beskou word. Ons samelewing in die geheel staar uitdagings in hierdie verband in die gesig.

Die US se bestaande teenmaatreëls sluit bewusmaking oor geslagskwessies en seksuele teistering op ons onderskeie kampusse in. Gesprekke en opleidingsessies vir personeellede en studente vind in koshuisverband en daarbuite plaas. Meer stelselmatige ingrypings word dalk benodig om gevestigde wanpraktyke teë te werk. Die Taakspan sal aanbevelings hieroor maak.

Die US verskaf berading en ondersteuning aan studente wat hulp benodig weens voorvalle van seksuele wangedrag. Ons Kampusgesondheidsdiens, Kampussekuriteit, die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling en ons nuwe Eenheid vir Gelykwaardigheid is daar om te help, en daar is ook ʼn 24-uur Krisisdiens vir studente wat dringend bystand benodig.

Beleide en prosedure word deurgaans hersien met die doel om die US se institusionele respons op seksuele wangedrag, aanranding en teistering te versterk.

Verkragting aangemeld

Die Bestuur het onlangs met skok kennis geneem van ʼn aangemelde geval van verkragting van ʼn vrouestudent buite die US se Harmonie Koshuis in Februarie. Die insident het in die vroeë oggendure plaasgevind.

Die student is deur die distriksgeneesheer ondersoek en behandel, en die Universiteit se Krisisdiens het sy bystand aangebied. Die saak word deur die SAPD se Eenheid vir Seksuele Oortredings ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het sy ontsteltenis oor die voorval laat blyk. “Seksuele wangedrag van enige aard is verwerplik, en ons doen ʼn ernstige beroep op die polisie om seker te maak dat hierdie voorval deeglik ondersoek word sodat geregtigheid kan geskied. Gebeure soos dié is baie traumaties, en spekulasie in die sosiale media vererger net die situasie.”

Hy het bevestig dat die Universiteit ʼn veilige omgewing vir alle studente en personeellede nastreef. “Die US het kampusveiligheid die afgelope paar jaar opgeskerp, maar omstandighede verander voortdurend.

“Boonop gaan dit nie net oor veiligheidsmaatreëls nie, maar oor die psige van ons samelewing. Die besef moet insink dat vernederende opmerkings, seksuele teistering, en om vir vroue te fluit en seksuele aanmerkings te maak nie aanvaarbaar is nie. Ons moet mekaar almal met respek behandel.”

Hy het ʼn beroep op die Universiteitsgemeenskap gedoen om saam te staan teen seksuele wangedrag, en om inisiatiewe van die Studenteraad en ander belanghebbers in hierdie verband te steun. Vrouens en mans wat seksueel geteister, misbruik of verkrag word, moet dit sonder huiwering aanmeld by die US se Krisisdiens (082 557 0880) of Kampussekuriteit (021 808 2333; en 021 938 9507 vir Tygerberg). Verkragting is ʼn kriminele oortreding en moet by die naaste polisiestasie aangemeld word.

Dit voel onregverdig dat ons studente se bewegingsvryheid ingeperk word, maar misdaad is ongelukkig ʼn maatskaplike werklikheid waarmee rekening gehou moet word. Daarom doen die bestuur ʼn beroep op studente om hul eie veiligheid ernstig op te neem en om na mekaar om te sien.

Daar is aanduidings dat die aanvaller nie ʼn student was nie, maar sou ’n ondersoek die teendeel bewys, sal die Universiteit nie huiwer om streng teen die beweerde oortreder op te tree nie.

Die Universiteit gee sy volle samewerking aan die SAPD. Enigeen met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, Speursersant LD February, op selnommer 082 469 149 of telefoonnommer 021 809 9168/5 te kontak.

Enige student wat ʼn behoefte aan berading het, kan die Krisisdienste kontak op selnommer 082 557 0880.