Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verband tussen hart- en geestesiektes bekyk
Outeur: Olivia Rose-Innes
Gepubliseer: 04/03/2016

Verband tussen hart- en geestesiektes bekyk.

'n Ambisieuse multidissiplinêre projek word aan die Universiteit Stellenbosch (US) bedryf om te bepaal of daar 'n verband tussen neuropsigiatriese en kardiovaskulêre siektes is. Internasionale navorsing het getoon dat mense met neuropsigiatriese siektes geneig is om korter te lewe as die algemene bevolking en dat hulle meestal as gevolg van kardiovaskulêre siektes sterf.

Die Shared Roots-projek het ten doel om die oorsake van dié patroon beter te verstaan. Die projek word deur 'n vlagskip-beurs van die Mediese Navorsingsraad gefinansier.

Prof Soraya Seedat, hoof van die Departement Psigiatrie en die hoofnavorser van Shared Roots, sê: "Daar heers 'n wanopvatting by die publiek dat mense met geestesiektes hoofsaaklik aan onnatuurlike oorsake soos selfdood of gevaarlike gedrag sterf. Selfs dokters buite die gebied van die psigiatrie is soms verras om te hoor dat pasiënte met erge geestesiektes 'n beduidend hoër risiko as gesonde mense het om weens algemene natuurlike oorsake soos hartsiektes te sterf."

"Ons weet dat gene en die omgewing (insluitend die sosiale omgewing) bydra tot die hoë vlak van komorbiditeit met kardiovaskulêre siektes, maar ons wil die meer ingewikkelde verbande opspoor en 'n geïntegreerde benadering tot die oorsake vind," sê prof Seedat.

Shared Roots berus op die samewerking van 'n groot groep navorsers met belangstellings wat mekaar aanvul, hoofsaaklik uit die Departement Psigiatrie en Afdelings Neurologie asook Molekulêre Biologie en Mensgenetika aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) op die Tygerberg-kampus en die Departement Genetika aan die US se hoofkampus op Stellenbosch. Breinbeelding vorm 'n belangrike deel van die projek en word behartig deur radioloë by die Breinbeeldingsentrum (CUBIC) op die terrein van die FGGW. Shared Roots sal ook nou saamwerk met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bio-informatikainstituut by die Universiteit van Wes-Kaapland omdat daar soveel data is om te verwerk.

Die Shared Roots-projek fokus op drie neuropsigiatriese siektes wat nie net belangrik is in terme van 'n hoë voorkomssyfer en siektelas in Suid-Afrika en die res van die wêreld nie, maar ook strook met die fakulteit se navorsingbelange: skisofrenie, posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en Parkinson se siekte.

Kliek hier om die volledige artikel te lees.

Foto: Proff Soraya Seedat (links) en Jonathan Carr saam met drr Leigh van der Heuvel en Sian Hemmings

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se jaarlikse publikasie verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.