Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitstalling belig vroeë geskiedenis van Stellenbosch
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 24/02/2016

ʼn Argeologiese uitstalling oor die vroeë geskiedenis van Stellenbosch is Dinsdag (23 Februarie 2016) by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) geopen. Die uitstalling bevat meestal kulturele artefakte wat ʼn interessante blik bied op die dorp en sy mense in veral die 17de-, 18de- en 19de eeu. Sekere voorwerpe dateer uit die Steentydperk.

Die artefakte, wat sedert 1972 oor ses opgrawingsperiodes by die Fakulteit ontgin is, sluit in Chinese porselein, rysbakke, bottels, klein bierglasies, rookpype, visborde en kamerpotte. Daar is selfs voorwerpe wat toon dat potjiekos reeds vroeg in Stellenbosch gemaak is.

Die dorpsargeloog, mnr Hennie Vos, het gesê baie van artefakte is van Oos-Asië afkomstig en wys hoe die Oosterse en die Westerse kulture in die Kaap ontmoet het.

Prof Matilda Burden, kurator van die Universiteit Stellenbosch Museum, het oor die waarde van die uitstalling gepraat en gesê die argeologiese vondtse vertel meer oor die leefwyse en interaksie van gewone dorpsmense, slawe en die welgestelde landros en sy amptenare.

"Die uitstalling lig heelwat sluiers oor die leefwyse en denkpatrone van die generasies wat ons voorafgegaan het en wat die grondslag gelê het vir dorp en gemeenskap waarin ons vandag leef."

Burden het gesê hoewel die uitstalling hoofsaaklik op argeologiese vondtse gebaseer is dit in wese kultuurgeskiedenis is met interessante artefakte wat ook die verhaal van die Khoi se leefwyse vertel.

"Dit is die verhaal van Simon van der Stel se soeke na ʼn geskikte plek vir ʼn nuwe nedersetting, die verhaal van die uitgee van plase aan vryburgers, die uitlê van ʼn nuwe dorpie, van die eerste Drostdy en al sy daaropvolgende weergawes, en van 17de- en 18de eeuse se mense van hierdie vallei se grootste vyand, naamlik vernietigende brande."

Prof Hendrik Bosman, dekaan van die US se Fakulteit Teologie, het die uitstalling as ʼn spesiale ruimte beskryf en die hoop uitgespreek dat dit ʼn viering van ons kulturele diversiteit sal wees.

Die uitstalling sal permanent wees en inligting oor toegang en besoektye sal binnekort bekendgemaak word. ʼn Brosjure oor die uitstalling sal ook later saamgestel word.

  • Skakel met Helette van der Westhuizen by 021 808 9560 of hvdwest@sun.ac.za vir meer inligting.

Foto: Sommige van die artefakte wat by die Fakulteit Teologie uitgestal word.

Fotograaf: Hennie Rudman