Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons Tuiskoms-program vir BSc-alumni
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/02/2016

​Wil jy self kom beleef watter voorpuntnavorsing die Fakulteit Natuurwetenskappe onderneem? Ons nooi BSc-alumni en ander belangstellende partye om vir begeleide toere met van ons voorste wetenskaplikes, nagraadse studente en navorsingsgenote te registreer.

​Makromolekules wat jou lewe kan verander

Die Departement Chemie en Polimeerwetenskap van die Universiteit Stellenbosch is een van die voorste navorsingsdepartemente op die gebied van chemie in Suid-Afrika, en is onder meer die land se sterkste navorser oor polimeerwetenskap. Prof Bert Klumperman, uitgelese professor en bekleër van die SARChI-navorsingsleerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture, bied ’n blik op van die jongste navorsingsontwikkelings op die gebied van polimeerwetenskap, waaronder opwindende nuwe ontwikkelings op nanogeneeskundige terrein.

Die program sluit ’n begeleide toer deur die laboratoriums in, sowel as ’n plakkaatsessie deur nagraadse studente om huidige en onlangse navorsingshoogtepunte ten toon te stel.

Die visserman, die wetenskaplike en die oorlewing van Suid-Afrika se witdoodhaai

Die populasie witdoodhaaie om die Suid-Afrikaanse kuslyn het so ’n lae vlak van genetiese diversiteit bereik dat dit dié spesie se toekomstige oorlewingsvermoë ernstig in gevaar kan stel. Dít is een van die bevindinge van ’n groot navorsingsprojek oor die DNS van witdoodhaaie langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Dr Sara Andreotti, wat as deel van haar doktorale navorsing aan die US genetikamonsters ingesamel het, het op die kundigheid van Mike Rutzen, bekende ‘haaiman’ en bewaarder, staatgemaak om dié reuse van die see langs die Suid-Afrikaanse kuslyn op te spoor. Die veldwerk het hulle vier jaar besig gehou, soms tot twee maande op ’n slag. Teen die einde van 2014 het hulle meer as 302 genetikamonsters en 5 000 foto’s bymekaargemaak.

Proefnemings met vasgevange enkelatome – kwantumverskynsels baan die weg na die tegnologie van die toekoms​

Ons vermoë om ione (atome met een positiewe lading) vas te vang en daarmee te eksperimenteer lê die grondslag vir die volgende generasie kwantumtegnologieë. Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Universiteit Stellenbosch het in 2015 ’n gesamentlike navorsingsleerstoel in Kwantum-, Optiese en Atomiese Fisika tot stand gebring. Sluit by dr Hermann Uys, die eerste bekleër van hierdie navorsingsleerstoel, aan vir ’n bekendstelling aan die wonderlike wêreld van kwantumfisika en ’n begeleide toer deur die ioonvasvanglaboratorium.

Registreer by http://www.matiesalumni.com/product/homecoming-weekend-faculty-of-science/