Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tegnologie maak deure oop vir samewerking en kapasiteitbou tussen Afrika-universiteite
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/02/2016

'n Kapasiteitsbouprojek wat met die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Agriwetenskappe verbind word en deur die Europese Unie gefinansier word, het die weg gebaan vir die US se Sentrum vir Leertegnologieë om sy voetspoor na Uganda en Kenia uit te brei.

As deel van die PASUFONS-projek is twee telematiese leersentrums by die Makerere Universiteit in Uganda en die Jomo Kenyatta Universiteit vir Landbou en Tegnologie in Kenia geopen. Hierdie historiese gebeurtenis is Woensdag (10 Februarie) gevier met 'n regstreekse interaktiewe satelliet-uitsending vanuit Stellenbosch na hierdie sentrums in Kampala en Nairobi.

Die PASUFONS-projek is 'n samewerkingsprojek wat deur die Europese Unie onder die ACP-EU EDULINK II-program gefinansier word. Dit word gekoördineer deur prof John Muyonga by Makerere Universiteit, prof Marena Manley by die US en dr Arnold Onyango by Jomo Kenyatta Universiteit vir Landbou en Tegnologie. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Voedselwetenskap en Tegnologie en die Streeksforum vir Kapasiteitbou in Landbou is medevennote.

Die beweegrede agter die PASUFONS-projek lê daarin dat die meeste Afrikalande se ekonomieë hoofsaaklik op landbou berus. Ten spyte hiervan heers daar voedselonsekerheid en wanvoeding op die kontinent. Universiteite kan bydra tot die verligting van voedsel- en voedingonsekerheid deur belangrike navorsing en graduandi met die nodige vaardighede te lewer.

Die projek beoog om: voedsel- en voedingswetenskapopleiding en -navorsing by universiteite in Oos- en Suider-Afrika op te skerp; die bydrae deur voedsel- en voedingswetenskapdepartemente aan universiteite te verhoog om die kontemporêre menslikehulpbron- en navorsingsbehoeftes van die voedsel-, voeding- en landbousektore te kan aanspreek; en die samewerking tussen deelnemende instansies te bevorder om die uitruil van inligting en die deel van opleiding- en navorsingshulpbronne aan te moedig. 

Die gebruik van die telematiese platform sal die uitruil van inligting bevorder en een van die beoogde aktiwiteite sal behels dat kundiges in die veld lesings regstreeks na die drie leersentrums uitsaai.

Om te illustreer hoe dit sal werk, het vier paneellede Woensdag deelgeneem aan 'n regstreekse uitsending terwyl mense die regstreekse video-voer in die onderskeie sentra kon volg en vrae, kommentaar en gelukwense via 'n webvorm, SMS of Whatsapp kon stuur om die interaktiewe aard van die diens ten toon te stel.

Die paneellede was: dr Antoinette van der Merwe, senior direkteur: Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking by die US, prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig by die US, prof John Muyonga, PASUFONS se projekleier en verteenwoordiger van Makerere University en prof Glaston Kenji van die Departement Voedselwetenskap en Tegnologie aan die Jomo Kenyatta Universiteit vir Landbou en Tegnologie.​

Dr Van der Merwe het verduidelik dat om deel van die projek te wees, 'n baie opwindende geleentheid vir die US is aangesien dit die eerste keer is dat die telematiese diens verder noord in Afrika as Namibië uitgebrei is.

"Dit was ons droom om ons dienste na die res van Afrika uit te brei, maar ons het vennote nodig gehad. Dit is nie sinvol om 'n leersentrum en 'n satellietverbinding sonder enige doel of inhoud te hê nie. Daarom is ons verheug om hierdie vennootskap te hê wat ons toelaat om die universiteit se voetspoor as kennisvennoot in Afrika uit te brei en wat samewerking en kapasiteitbou moontlik maak."

Prof Schoonwinkel het na die PASUFONS-projek verwys as 'n egte Afrika-vennootskap. "Ander projekte sal hopelik ook van hierdie platform gebruik maak om samewerking te verbeter."

Hy het bygevoeg dat dit goed inpas by die US se visie om toekomsgerig en innoverend te wees.

Prof Muyonga het die bekendstelling as 'n mylpaal vir die PASUFONS-projek beskryf.

"Dit was 'n lang reis," het hy gesê. Een van die grootste uitdagings was om toestemming by die plaaslike uitsaai-owerhede in Uganda en Kenia te kry om ontvangsentra by die onderskeie vennootuniversiteite in te rig.

"Ek is baie bly dat ons uiteindelik hierdie projek van stapel kan stuur. PASUFONS het in hierdie infrastruktuur belê en ons wil dit gebruik, maar dit ook deel. Die tegnologie maak dit makliker om kundigheid te deel en ons moedig ander eenhede aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak."

Prof Kenji het gepraat oor die belangrikheid van die voedsel- en voedingswetenskapveld in Afrika. Hy het verduidelik dat die aantal inrigtings wat kursusse in voedselwetenskap aanbied, toegeneem het en dat hierdie platform 'n groot rol gaan speel in die deel van menslikehulpbronkapasiteit sowel as navorsingsbevindings.

"Dit is 'n baie groot innovering en 'n goeie strategie om die doelwitte van PASUFONS te bereik," het hy bygevoeg.

​​