Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beurse vir nagraadse studente in Statistiek en Aktuariële Wetenskap
Outeur: Media: EBW / EMS
Gepubliseer: 14/02/2016

Beurse, befonds deur Schroders se Multi-asset Investments and Portfolio Solutions (MAPS)-afdeling, is in 2016 aan vyf nagraadse studente in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch ​(US) toegeken. ​

‘n Ooreenkoms wat nagraadse beurse, navorsingsamewerking en ’n jaarlikse hoëprofiel-beleggingseminaar behels, is reeds in November 2015 tussen die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap en MAPS gesluit. 

Schroders is 'n wêreldwye batebestuursmaatskappy wat ontwikkel is onder stabiele eienaarskap vir meer as 200 jaar. Dit is een van die grootste onafhanklike beleggingsbestuurfirmas genoteer op die Londen Aandelebeurs, met meer as $430 mjd. onder sy bestuur (soos op 30 Junie 2015).

Vanaf 2017 sal Schroders en individuele donateurs: 

  • 40 volle nagraadse beurse vir ‘n tydperk van twee jaar verskaf aan studente in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, sowel as in die breër Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, met voorkeur aan kandidate uit benadeelde agtergronde; 
  • Twintig R20 000-toekennings aanbied vir die beste navorsingsvoorstelle in finansies; 
  • gesamentlike navorsingsprojekte oor nuwe onderwerpe, sowel as verdere navorsing oor bestaande MAPS-artikels ondersteun; 
  • ’n beleggingsforum vir studente gemik op debat oor tendense in beleggingsbestuur daarstel; en
  • ’n jaarlikse hoëprofiel-beleggingseminaar met bydraes van internasionale kenners befonds. 

Die eerste seminaar vind op 5 en 6 April by STIAS plaas.

Op die foto verskyn die studente saam met prof Niel Krige (Voorsitter van die Ontwikkelingskantoor van die US) heel links, dr Nico Marais (Hoof van MAPS) 5de van links en prof Willie Conradie (voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap) heel regs. 

Die vyf studente is van links na regs: Justin Perrang (Hons BCom Finansiële Risikobestuur), KJ Sebitlo (Hons BCom Finansiële Risikobestuur), Briance Mathebula (Hons BCom Aktuariële Wetenskap), Simonn Benjamin (Hons BCom Wiskundige Statistiek) en Purishlin Govindasamy (Hons BCom Aktuariële Wetenskap).