Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale biobank-span ontvang befondsing vir EU-Afrika-vennootskap
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 12/02/2016

‘n Nuwe samewerkingsooreenkoms tussen die Europese Unie en Afrika-instansies, die B3Africa-projek (Bridging Biobanking and Biomedial Research across Europe and Africa), is ‘n multimiljoenrandse befondsingstoekenning om internasionale navorsing-infrastruktuur vir ʼn biobank en bioïnformatika te ontwikkel.

Elf vennoot-instansies van Afrika en Europa het ʼn samewerkingsraamwerk en infrastruktuur vir die uitruil van inligting ontwikkel om biomediese navorsing oor die kontinente heen te fasiliteer en te bespoedig en globale gesondheidsuitdagings aan te spreek.

Die Afdeling Hematologiese Patologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioïnformatika Instituut (SANBI), wat by die Universiteit van die Wes-Kaap gehuisves word, is die twee Suid-Afrikaanse vennote. Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste en die US se Biobank (NSB) wat by die Tygerberg-hospitaal en FGGW is, sal as ʼn beta-stoorplek dien vir die aanvanklike lewesvatbaarheidstudies en prototipe-planne vir die projek. 

Prof Akin Abayomi van die FGGW se Afdeling Hematologiese Patologie het die onlangse uitbreking van Ebola, asook die toenemende aantal ontluikende infeksiesiektes, uitgelig as ʼn aanduiding van die dringende behoefte aan meer doeltreffende maniere om gesondheidsuitdagings in die wêreld aan te durf en gesondheidsekerheid wêreldwyd te verbeter.

Prof Alan Christoffels, professor in Informatika by SANBI, het gesê sterk en intensiewe samewerking tussen die deelnemers van Afrika en Europa is ʼn noodsaaklike voorvereiste om die navorsingsproses tot voordeel van die mensdom te versnel.

Die B3Afrika-projek het twee strategiese doelwitte:

  • Om ʼn raamwerk wat etiese en regsoorwegings met mekaar versoek daar te stel vir die samewerking tussen die vennootinstansies van Europa en Afrika. So ʼn raamwerk is noodsaaklik vir die skep van ʼn aanvaarbare informatika-platform wat voorsiening sal maak vir die gedeelde gebruik van bio-hulpbronne en bio-data en ook om samewerking binne die Afrika-EU-biobank te verstewig.
  • Om ʼn oorspronklike en kreatiewe informatika-oplossing te bied wat databestuur en -prosessering en die gedeelde gebruik daarvan sal fasiliteer en wat onder moeilike netwerktoestande in Afrika en Europa gebruik kan word.

Die ander B3Afrika-vennote is die Sveriges Lantbruksuniversitet (SLU), die Biobanking and Biomolecular Resources Research Infrastructure Consortium (BBMRI-ERIC), die Karolinska Institutet (KI), die Centre for Research Ethics & Bioethics (CRB) by Uppsala Universiteit, die Universiteit van Wes-Kaapland, (UWK)), Makerere Universiteit (MAK), die International Agency for Research on Cancer (IARC), die International Livestock Research Institute (ILRI), die Medizinische Universitat Graz (MUG) en die Institute of Human Virology Nigeria (IHVN).

Biobank aan die US

Dit is die tweede befondsingstoekenning vir ʼn biobank-vennootskap wat aan die Afdeling Hematologie met Abayomi as die hoofnavorser toegeken is.

Abayomi en sy span het in 2014 befondsing wat oor ʼn tydperk van twee jaar duur ontvang om Biobankgeriewe te ontwikkel ter ondersteuning van die Human Heredity and Health in Africa consortium (H3Africa). Die doel van hierdie biobank is om studies van biodiversiteit, siekte en farmakogenomika van Afrikabevolkings te fasiliteer en om genoomnavorsing oor niersiektes, diabetes, hartsiektes, vetsug, tuberkulose en Afrika-slaapsiekte deur aanvangsbefondsing te ondersteun. Die befondsing is toegeken deur die Amerikaanse National Institutes of Health en die Wellcome Trust.

Abayomi is ook ʼn mede-hoofnavorser van die Vigs- en Kankerspesimen Hulpbron (ACSR) biobank met prof Johann Schneider van die Afdeling Anatomiese Patologie as hoofnavorser. Hierdie biobank word gebruik vir kankernavorsing, en spesifiek vir MIV-verwante kankers. Monsters wat by hierdie multimiljoenrandse fasiliteit bewaar word, word gratis beskikbaar gestel aan Afrika-navorsers en hulle medewerkers wat eties goedgekeurde en befondsde navorsingsprojekte het wat tot voordeel van die mense van Afrika se gesondheid sal strek. Dit word ook befonds deur die Amerikaanse National Institutes of Health.

“Die personeel van die NSB- en ACSR-biobanke werk nou saam om mekaar te ondersteun, en die fasiliteite bied ʼn bystandsdiens aan mekaar, wat ʼn noodsaaklike aspek van risiko- en rampbestuur in die biobank-bedryf is,” het Abayomi gesê.

Foto: Die verteenwoordigers van al die vennoot-instansies by die Universiteit van Wes-Kaapland waar die B3Afrika-konsortium tydens die inwydingsvergadering bekend gestel is

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.