Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Waardes moet die rigsnoer wees vir openbare debat aan US
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 10/02/2016

Die Rektor se Bestuurspan (RBS) aan die Universiteit Stellenbosch het sy ondersteuning vir oop en waagmoedige gesprekke herbevestig, maar terselfdertyd 'n beroep op die studentegemeenskap gedoen om te verseker dat alle gesprekke in 'n gees en etos plaasvind wat die waardes van die instelling weerspieël. Lees die volledige ​epos-boodskap wat op 10 Februarie 2016 aan alle studente gestuur is hieronder.

Die Rektor se Bestuurspan (RBS) aan die Universiteit Stellenbosch is sterk verbind tot  oop en eerlike gesprekvoering op ons kampusse. Dit lê aan die hart van die universiteitslewe om 'n kultuur van oop en waagmoedige gesprekke en diskoers te bevorder oor die uitdagings van ons samelewing, en wat 'n positiewe impak kan hê op openbare denke, openbare beleid, openbare gedrag en openbare praktyke.

Die RBS bevestig opnuut dat hierdie gesprekke moet plaasvind in ʼn gees en etos wat die sentrale waardes van die Universiteit Stellenbosch weerspieël, soos verwoord in die Institusionele Voorneme en Strategie. Hierdie waardes is empatie, mede-verantwoordbaarheid, diensbare leierskap, uitnemendheid en innovasie.

Waar hierdie waardes uitgeleef word, word veilige ruimtes vir dialoog en samewerking geskep waar daar nie 'n plek is vir intimidasie, manipulasie, dreigemente, haatspraak, rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van diskriminasie en ontmensliking nie.

Die RBS moedig enige iemand wat aan sulke wanpraktyke blootgestel word, om dit by die Eenheid vir Gelykwaardigheid aan te meld by unfair@sun.ac.za of tel: 021 808-3136. Voorvalle kan anoniem aangemeld word.