Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Robuuste debat in koshuise na voorval en skorsing van studente
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 06/02/2016

 

7 Februarie 2016

Robuuste debatte word die naweek in koshuise op Stellenbosch gevoer na 'n 'blackface'-voorval by 'n verwelkomingsgeleentheid in die Heemstede-koshuis vandeesweek. Twee vrouestudente is intussen uit dié koshuis van die Universiteit Stellenbosch (US) geskors hangende 'n ondersoek wat aan die gang is. Een van die studente is ook tydelik van haar rol as studentementor onthef.

Die Universiteit het vinnig opgetree nadat die Bestuur Vrydag (5 Februarie 2016) oor die voorval ingelig is. Die saak is onmiddellik aangemeld by die Eenheid vir Gelykwaardigheid wat onlangs gevestig is om alle vorme van onbillike diskriminasie te ondersoek, en dit is ook by die Sentrale Dissiplinêre Komitee aangemeld. Die Bestuur van die US het Saterdagoggend in 'n brief aan die kampusgemeenskap bevestig dat alle ondersoekbeamptes wat by die dissiplinêre proses betrokke sal wees, verteenwoordigend sal wees in terme van ras en geslag.

Oor die naweek was universiteitskoshuise 'n geroesemoes van werkswinkels, gefasiliteerde gesprekke en geselskringe om die voorval te gebruik as 'n geleentheid vir bewusmaking en die kweek van begrip. Die Universiteitsbestuur het Sondag sy dank en waardering uitgespreek vir die vinnige en gepaste optrede deur personeel van die afdeling Studentesake, inwonende hoofde, studenteleiers, fasiliteerders en studente. Bestuur het die robuuste en gesonde interaksie oor transformasiekwessies wat die voorval ontketen het, verwelkom, veral ook die manier waarop studente die proses hul eie gemaak het. Die Universiteit Stellenbosch veroordeel alle vorme van rassisme en diskriminasie, en erken die ernstige negatiewe uitwerking van die trauma en seerkry op studente, personeel en lede van die publiek.

In die lig van ʼn soortgelyke insident in 2014, sowel as die nasionale debat oor rassisme in ons land, beskou die Bestuur die situasie in ʼn baie ernstige lig.

Studente het Vrydagaand by 'n vergadering in Heemstede hul woede, misnoeë en seerkry na die voorval bespreek. Die geleentheid is bygewoon deur 'n groot groep studente, die Studenteraad, die koshuis se huiskomitee, inwoners van Heemstede en universiteitspersoneel, onder andere ook prof Nico Koopman, Waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en prof Arnold Skoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig. Van die gesprekke het tot diep in die nag voortgeduur.

Die Fakulteit Regsgeleerdheid het Vrydag 'n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle met kommer kennis van die beweerde betrokkenheid van 'n Stellenbosse regstudent in 'n 'blackface'-voorval op kampus gedurende die week. "Die relevante Universiteitstrukture is tans besig met 'n ondersoek. Die Fakulteit sal 'n verdere verklaring uitreik so gou as wat verdere inligting ontvang word," lui die verklaring.

Alle studente wat deur die voorval geraak is, en ondersteuning benodig, word versoek om met die vertroulike krisisdiens in verbinding te tree by 082 557 0880.

Klik hier vir 'n skakel na 'n skrywe deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.