Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Militêre Akademie verwelkom nuwe studente
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 05/02/2016

"Skenk 100% aandag aan jul studies van die eerste dag. Gryp dié geleentheid met beide hande aan en moenie daarvan afstand doen nie. Dit is jou sleutel tot die lewe. Nie net kan dit jou keuses verbreed nie, maar stel jou ook in staat om ʼn daadwerklike bydrae tot die land te lewer."

Met dié raad het brigadier-generaal Lawrence Mbatha, Bevelvoerder van die Militêre Akademie op Saldanha, onlangs nuwe studente tydens die Verwelkomingsparade (MA 18) by die Militêre Akademie se paradeterrein verwelkom.

Die Verwelkomingsparade en Akademiese Opening lui die jaar vir die Militêre Akademie in. Mnr Francois Schippers, Uitvoerende Burgemeester van die Saldanha Munisipaliteit, luitenant-generaal Norman Yengeni, Hoof: Menslike Hulpbronne, en ander hooggeplaastes van die Suid-Afrikaanse weermag, het die parade, gelei deur die Suid-Afrikaanse Weermagorkes van Youngsfield, bygewoon.

In sy toespraak tydens die Akademiese Opening van die Militêre Akademie, het prof Nico Koopman, waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê studente het by die Akademie aangesluit om omvattende menslike veiligheid en vrede in Suid-Afrika, die vasteland en die wêreld te bou. 

"Ons sluit 'n verbintenis met julle dat julle sal groei in kennis, waardes en vaardighede vir die algemene welstand van Suid-Afrika en die res van Afrika."

Klik hier vir die volledige verklaring.