Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe meer wilde bye, hoe groter is kleinboere se oes
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/02/2016

Kleinboere kan hul oeste met tot 24% vermeerder as hulle moeite doen om wilde bye en ander bestuiwers na hul grondgebied te lok. Om die natuur se gratis bestuiwingsdiens beter te benut kan hulle stroke blomplante aanplant op hul grond, gifstowwe versigtiger gebruik en ongerepte gebiede rondom hul plase vertroetel. Dit is die advies na afloop van 'n vyf-jaar lange wêreldwye studie oor bestuiwers, waaroor geskryf is in die toonaangewende vaktydskrif Science. Dit sluit data in wat in Limpopo versamel is. Grootskaalse kommersiële landboubedrywighede sal nie dienooreenkomstig by hierdie metodes alleen kan baat nie, en sal afhanklik bly van bestuurde byeswerms om te verseker dat genoeg voedsel geproduseer word.

Een van die mede-outeurs van die Science-artikel is die ekologiese insekkundige dr Ruan Veldtman van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) en die Universiteit Stellenbosch. Die studie is 'n uitvloeisel van die Global Action on Pollination Services for Sustainable Agriculture Project (GPP). Dit is deur die Global Environmental Facility befonds en gekoördineer deur die Food and Agricultural Organisation (FAO).

Die projek het sedert 2010 data ingesamel in 344 landerye op klein- en grootskaalse plase in Argentinië, Brasilië, Colombië, Ghana, Indië, Kenia, Nepal, Pakistan, Suid-Afrika en Zimbabwe. Daardeur is die getal en verskeidenheid van bestuiwende insekte wat daarop voorkom oor 'n periode van vyf jaar getel, asook die opbrengs wat gelewer is. Die hulpbronne (soos nektar- of stuifmeel draende blomplante wat as voedselbron dien) wat nodig is om plaaslike wilde bye voldoende te onderhou sodat hulle hul gratis bestuiwingsdiens voldoende kan lewer, is ook in ag geneem.

Dr Veldtman was lid van 'n groot groep bestuiwingskundiges en insekkenners wat tot die studie bygedra het. Die Suid-Afrikaanse data wat in die studie gebruik is, is deur SANBI in 'n sonneblomsaadproduksiegebied in Limpopo versamel. Die GPP het daarby ook die nagraadse studies van twee MSc studente en twee PhD studente aan die Universiteit Stellenbosch ten volle of gedeeltelik bygedra/befonds. Die studente het gekyk na die bestuiwing van appels en hibriede saaduie, en die voedselbronne wat nodig is om bestuurde heuningbykorwe te onderhou.

"Bestuiwers is 'n allerbelangrike skakel in die siklus van voedselproduksie," sê dr Veldtman. Hy verduidelik dat die meeste blomplante (insluitend talle wat as voedsel dien) slegs bestuif word en dan saad produseer nadat hulle deur insekte of ander diere besoek word.

"Ons wilde byeswerms moet gekoester word, sowel as die bestuurde heuningbye wat ons byeboere in boorde en lande uitsit sodat bestuiwing kan plaasvind."

Die hoeveelheid beskikbare bestuiwende insekte is egter aan die daal. Dit is onder meer die gevolg van habitatvernietiging, die onoordeelkundige gebruik van gifstowwe en die verspreiding van verskillende siektes en parasiete die wêreld oor. Die beskikbare plantegroei wat as voedelsbronne dien vir sowel wilde as bestuurde byepopulasies is ook aan die kwyn weens veranderende grondgebruikspatrone.

Die Science-artikel het bevind dat kleinboere 'n beduidende toename in hul opbrengs kan sien as hulle moeite doen om wilde bestuiwende insekte na hul plasies te lok. Dit het die grootste impak op grondgebied kleiner as twee hektaar, en kan lei tot 'n toename van tot 24% in opbrengs.

"Die invloed van ekologiese intensifikasie danksy insekte se bestuiwingsdienste is groter vir kleiner as vir grootskaalse kommersiële plase," sê die studieleier, prof Lucas Garibaldi van die Nasionale Universiteit van Rio Negro in Argentinië.

Volgens die navorsers baat gewasse waarmee op grootskaal geboer word minder by die blote styging in die getalle van wilde bestuiwers in 'n omgewing. Dit is omdat die blomme van sulke gewasse gewoonlik besoek word deur bestuiwers wat vir voedselbronne kan soek oor langer (>1km) afstande heen. Dit sluit heuningbye in, wat meeste blommeplante kan bestuif.

Die navorsers het plase wat met meer as twee hektaar gewasse beplant is, as groot geklassifiseer. (Gemiddeld was die groter plase wat bestudeer is 14 ha groot). Sulke plase is geneig om naby of aangrensend aan ander landbougebiede van soortgelyke grote te lê. Sodoende word kilometers van aaneenlopende getransformeerde grondgebied geskep waarbinne slegs enkele kolle natuurlike plantegroei gevind word. Die drakrag van hierdie natuurlike veld is net genoeg om 'n handvol verskillende soorte wilde bestuiwers te onderhou, maar nie in groot genoeg getalle sodat die insekte aangrensende gewasse of boorde volledig kan bestuif nie.

"Die gebruik van bestuurde heuningbykorwe wat byeboere uitsit sal daarom altyd 'n belangrike deel van kommersiële boerderyebedrywighede bly, al is daar wilde populasies bestuiwers in die omgewing beskikbaar," verduidelik dr Veldtman.

Om die opbrengs van 'n tipiese grootskaalse kommersiële plaas te verhoog is daarom nie net so eenvoudig soos om 'n groter hoeveelheid en verskeidenheid wilde bestuiwers te probeer lok nie. Dit kan net gebeur as boere verseker dat genoeg bestuiwers beskikbaar is om elke enkele hektaar blomme van 'n gewas of boord te bestuif. In die praktyk beteken dit dus dat genoeg bestuurde heuningbykorwe uitgesit moet word.