Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dieet kan kanker veroorsaak of stuit
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 03/02/2016

» Mediaverklaring: Wêreld Kankerdag

 

Verlede jaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die  aankondiging gemaak dat rooi- en verwerkte vleis 'n mens se kans vir kolorektumkanker verhoog.

Dit was veral slegte nuus vir Suid-Afrika, 'n land met 'n groot aptyt vir rooivleis en verwerkte vleisprodukte soos wors, biltong en polonie.

"Gegrond op die bewyse van 800 studies het die Internasionale Agentskap vir Navorsing oor Kanker (die WGO se kanker-afdeling) verwerkte vleis geklassifiseer as 'karsinogenies vir mense', terwyl rooivleis gekategoriseer is as 'waarskynlik karsinogenies vir mense'," sê prof Vikash Sewram, direkteur van die Afrika Kanker-instituut by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Die Wêreld-kankernavorsingsfonds beveel aan dat 'n mens nie meer as 500g rooivleis per week eet nie, en verwerkte vleis heeltemal vermy. Rooivleis sluit bees-, skaap-/lam- en varkvleis in, en verwerkte vleis is vleis wat gepreserveer word deur dit te rook, te pekel of te sout, of chemiese preserveermiddels by te voeg.

"Wetenskaplike bewyse toon dat 500g of minder rooivleis per week nie 'n beduidende toename in 'n mense se risiko vir dikdermkanker het nie. Rooivleis is ook 'n goeie bron van waardevolle voedingstowwe soos proteïene, sink en vitamiene B12, en kan dus bydra tot 'n gesonde, gebalanseerde dieet," sê Irene Labuschagne, 'n dieetkundige van die FGGW se Voedinginligtingsentrum, NICUS (Nutritional Information Centre Stellenbosch University).

"In teenstelling het verwerkte vleis heelwat minder voedingswaarde en kan dit baie vet en sout bevat, so as jy rooivleis eet moet dit verkieslik vars en onverwerk wees."

Daar is 'n ingewikkelde verhouding tussen dieet en kanker. Terwyl sommige dieetfaktore bydra tot die ontwikkeling van kanker, beskerm ander daar teen. Ontleding van wêreldwye navorsing deur die Wêreld-kankernavorsingsfonds het bevind dat ongeveer 'n derde van die algemeenste kankers verhoed kan word deur 'n goeie dieet te volg, 'n gesonde gewig te handhaaf en gereelde fisiese oefening te doen.

"Navorsing het al herhaaldelik getoon dat oorgewig en vetsug die risiko vir verskeie kankers verhoog," sê Labuschagne.

Daar is oortuigende bewyse wat oormatige ligaamsvet koppel aan borskanker in postmenopousale vroue. Ander dieetfaktore wat die risiko vir borskanker verhoog is versadigde vette (botter, room en ander produkte wat van dierevet gemaak is) en alkohol. "Vroue wat een alkoholiese drankie per dag neem het 'n klein verhoging (11%) in die risiko vir borskanker terwyl twee alkoholiese drankies per dag die risiko tot 25% laat styg," sê Labuschagne.

Alkoholverbruik word ook gekoppel aan 'n verhoogde kans vir verskeie kankers in die maagdermkanaal. Daar is oortuigende bewyse dat alkoholiese drankies die kans vir mond-, keel- (farinks en larinks), slukderm-, kolon- en rektum-kanker verhoog.

"Daar is 'n dosis-respons verhouding tussen alkohol en kanker, en hoe meer jy drink, hoe groter is die gevaar. Die risiko verdubbel as mense wat alkohol drink ook tabak rook," sê Labuschagne. "Dit wil voorkom of helderkleurige nie-stysel groente en vrugte (soos wortels, soetrissies, broccoli en aarbeie) beskerming teen hierdie kankers te bied."

Daar is ook 'n sterk verband tussen dieet en leefstyl, en kankers van die kolon en rektum (kolorektum). "Oorgewig en min fisiese aktiwiteit word gekoppel aan 'n hoër risiko vir kolorektum-kankers wat toeneem met ouderdom, terwyl kosse wat baie vesel bevat, asook knoffel, melk en kalsium blyk beskerming te bied teen hierdie kanker," sê Labuschagne.

"Navorsing is besig om te bevestig dat die klein keuses wat ons elke dag maak 'n belangrike impak het op ons kanker-risiko. Wat ons eet, hoe ons kos voorberei, of ons alkohol drink en of ons ons gewig dophou, hierdie eenvoudige besluite maak 'n groot verskil," sê Labuschagne.

Dieetaanbevelings om kanker te voorkom:

  • Bereik en behou 'n gesonde gewig – wees so skraal as moontlik.
  • Vermy drankies wat suiker bevat en verwerkte vleis.
  • Beperk jou inname van energie-digte kos, soos skyfies, lekkers en ander produkte met 'n hoë olie- en/of suiker-inhoud.
  • Beperk jou inname van alkohol.
  • Beperk jou inname van souterige kos en rooivleis.
  • Eet meestal kos wat van plante afkomstig is – eet daagliks 'n verskeidenheid nie-stysel groente en vrugte, en eet onverwerkte grane en/of peulplante saam met elke maaltyd.

» Kliek hier vir 'n feiteblad van NICUS vir meer inligting