Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor beloof ondersteuning aan Maties Sport
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 02/02/2016

"Ek gaan Maties Sport kragtig ondersteun. Dit vorm 'n belangrike deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se handelsmerk."

Prof Wim de Villiers, rektor van die US, het hierdie sentiment met werknemers van Maties Sport gedeel toe hy hulle onlangs op Coetzenburg besoek het.

Personeellede het die geleentheid gehad om hulself aan die rektor voor te stel.

"Dit is 'n plesier om julle passie, entoesiasme en energie te sien," het hy vir hulle gesê. "Ek deel dit met julle."

Hy het ook iets oor homself gesê.

"Ek hou baie van sport – ek hou daarvan om daaraan deel te neem en ek hou ook daarvan om dit te kyk.

"Ek hardloop vir ontspanning, ek is definitief geen Keniaan nie," het hy gegrap. Hy het egter al elf marathons voltooi, onder meer die 'groot vyf': Boston, Chicago, New York, Londen en Berlyn.

De Villiers het vir die personeel gesê dat hy as rektor baie opgewonde is en bemoedig voel deur die mensekapitaal van die US.

"Maties Sport is baie belangrik vir die universiteit. Ons erken die waarde van sport en fisieke aktiwiteit: Mens sana in corpore sano ('n gesonde gees in 'n gesonde liggaam)."