Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is vleiland leeus geneties verskillend van ander leeus?
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 02/02/2016

Grootskaalse veranderinge in Afrika leeus se paleo-omgewing die afgelope vyf miljoen jaar mag die rede wees vir die verrassende genetiese verskille tussen vleiland- en savanna leeus.

Onlangse genetiese studies van die kontinent se bedreigde leeubevolkings het 'n merkwaardige onderskeid tussen leeus van verskillende streke getoon, en veral tussen vleiland- en savanna leeus. Daar is egter min tot geen navorsing al gedoen oor hoe en waarom dit plaasgevind het nie.

'n Onlangse artikel in die aanlyn weergawe van die vaktydskrif Journal of Heredity, met die titel 'Commentary on the genetic variation of Africa's lions (Panthera leo)', steun op bewyse uit die geologie en paleoklimaatstudies om hierdie onvoorsiene verskil tussen vleiland- en savanna-leeus te verklaar.

Dr Woody Cotterill, 'n evolusionêre geobioloog van die Universiteit Stellenbosch en een van die vyf medeskrywers van die artikel, sê geneties staan die Etosha en Okavango leeubevolkings apart van hul naaste bure in die droër Hwange-Chobe en Kaladgadi habitatte.

"Aanhoudende siklusse van nat en droeë klimaatstoestande gedurende die afgelope vyf miljoen jaar kan moontlik verklaar waarom kruisteling tussen leeus uit hierdie kontrasterende habitatte al vir geruime tyd nie meer plaasvind nie."

Maar hulle is nog onseker oor hoe en wanneer die vleiland- en die savanna-leeubevolkings geneties van mekaar geïsoleerd geraak het.

"Ons hipotese is dat Afrika se voorvaderleeubevolking hul oorsprong in die binnelandse vleilande van Suid-Sentraal-Afrika gehad het. Ons redeneer dat die geologiese geskiedenis van hierdie vleilande moontlik die sleutel tot die raaisel is."

Met ander woorde, neem byvoorbeeld Botswana se Okavango Delta, Namibië se Etosha-panne en die Bangweulu-panne in Noordwes-Zambië. Elkeen van hierdie vleilande is die moderne weergawe van 'n mosaïek van vleilande wat oor die afgelope vyf miljoen jaar op verskillende tye en plekke in suid-sentraal Afrika gevorm het.

Wanneer uitgestrekte woestyntoestande die hoë plato gedomineer het, het hierdie vleilande as geïsoleerde eilande bly voortbestaan. Sulke woestyn verruimings het herhaaldelik oor die afgelope drie miljoen jaar plaasgevind. So byvoorbeeld het die Mega-Kalahari woestyn eens vanaf die suidelike Kongo tot die Oranjerivier gestrek!

Gedurende hierdie droë periodes het die oervoorvaders van moderne leeus van die vleilande geïsoleerd geraak en moes hulle in die graslande aanpas ter wille van oorlewing.

Die navorsers voer verder aan dat Afrika se grasvelde gedurende die natter tydperke weer ten koste van woestyne uitgebrei het. Dit het die vinnige bevolkingsuitbreiding en diversifikasie van savanna-leeus gestimuleer. Die resultaat daarvan was die evolusie van nuwe ekologiese en gedragsaanpassings om savanna-spesialiste te word. Hierdie aanpassings het op hul beurt veroorsaak dat die savanna-leeus geneties geïsoleerd geraak het van die vleilandbevolkings.​

Volgens Dr Cotterill is hierdie bevindings belangrik vir pogings om Afrika se leeubevolking te bewaar.

In 2015 het die Internasionale Unie vir Natuurbewaring Afrika se leeus op die Rooilys van Bedreigde Spesies geplaas.

Die ander navorsers betrokke by die studie is Dr Andy Moore (Departement Geologie, Rhodes Universiteit), Christian en Hanlie Winterbach (Sentrum vir Wildlewebestuur, Universiteit van Pretoria), Agostinho Antunes (Porto Universiteit, Portugal) en Stephen J. O'Brien (Theodosius Dobshansky Sentrum vir Genoom Bioinformatika, St Petersburg Staatsuniversiteit, Rusland).

Foto 1: 'n Leeuwyfie met welpies swem deur die Okavango seisoenale vleiland.  Foto: Matthew Copham, Safari Footprints, Maun, Botswana

 Foto 2: Vleiland leeus van die Okavango Delta. Foto: Andy Moore

Kontakbesonderhede

Dr Woody Cotterill

T: 021 808 2684

E: fcotterill@gmail.com

 

Dr Andy Moore

C: +267-71-704005

E: andy.moore.bots@gmail.com

Mediaverklaring uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, science@sun.ac.za, 021 808 2684, 071 0995721