Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Individue skitter vir Steinhoff Maties
Outeur: Maties Krieket / Maties Cricket
Gepubliseer: 01/02/2016

Verskeie spelers van die Steinhoff Maties-krieketspan het 'n groot indruk gemaak by die pas afgelope Varsity Sport-kriekettoernooi.

Matieskaptein Dewald Botha is in die Suid-Afrikaanse Universiteitespan ingesluit wat wedstryde teen onder meer ‘n ontwikkelingspan van Sri Lanka gaan speel. Paaltjiewagter Soyisile Pono en boulers Kyle Simmonds en Brandon Glover is vir die Futuresbeker-span gekies. Pono het ook die toekenning vir Vangskoot van die Toernooi ontvang.

Maties het vyfde by die toernooi in Potchefstroom geëindig. Hulle het ná die uitspeelronde dieselfde hoeveelheid punte as UWK gehad, maar UWK het danksy ‘n beter netto lopietempo na die halfeindronde deurgedring

UWK het die Universiteit van Johannesburg geklop om die finaal te haal, waar hulle teen die verdedigende kampioene, UP-Tuks, verloor het. 

“Ek dink dit was ‘n goeie week. Daar was verskeie uitdagings en die vlak van spel was intens. Ons het goeie krieket gespeel, maar daardie laaste boulbeurt teen UWK was ons ondergang,” sê afrigter Andrew Wylie.

“Die sege oor Tukkies met nege paaltjies (in die uitspeelronde) was beslis die hoogtepunt. Hulle is die verdedigende kampioene en is tweemalige wêrelduniversiteitskampioene ook. Jean Bredenkamp se kolfwerk en die vertonings van verskeie van die jongelinge was ook lekker om te aanskou.”

Verskeie eerstejaars was in die span en volgens Wylie het die spelers hulle goed van hul taak gekwyt. “Dit was ‘n splinternuwe ervaring vir hulle en ek dink hulle het goed vertoon. Dit was goed vir hul selfvertroue en hulle het baie geleer.”

Bredenkamp het die beste kolfgemiddelde gehad van al die kolwers in die toernooi. Hy het 234 lopies in ses wedstryde aangeteken. Sy hoogste telling was ‘n onoorwonne 93. Simmonds and Neil Botha was onder die top10 boulers en Pono die voorste veldwerker. Dewald Botha was Maties se mees waardevolle speler. Bredenkamp, Simmonds en Neil Botha is by die Droomspan ingesluit.

Maties se fokus skuif nou weer na die Boland-liga.

Fotokrediet: SASPA