Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese student wen top prys in Koran-kompetisie
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 27/01/2016

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.

​Qari* Hafiz** Muhammed Sheik, ʼn vierdejaar- mediese student aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Koran-memoriseringskompetisie gewen wat in Augustus 2015 by die Turkish Nizamiya Masjid*** in Midrand, Johannesburg gehou is. Hy sal Suid-Afrika verteenwoordig by die internasionale kompetisie wat in Oktober 2016 in Makkah in Saoedi-Arabië gehou word.

Muhammed het die Suid-Afrikaanse Moslem-gemeenskap oor die afgelope jare verteenwoordig by verskeie internasionale Koran Memoriseringskompetisies in Egipte, Soedan, Makkah, Rusland en Doebai. Hy is deur internasionale hooggeplaastes vereer vir sy toewyding tot die Koran – spesifiek deur die presidente van Egipte en Soedan.

“Een van die hoogtepunte van my lewe was toe ek gevra is om gedurende die heilige maand van Ramadaan die gemeentegebede te lei by Moskees wat naby aan die Militêre Hotel in Egipte geleë is,” sê Muhammed, wat sy eerste diens op die jong ouderdom van 12 jaar gelewer het. Hy is heel waarskynlik die jongste godsdiensleier, redenaar en raadgewer in die Suid-Afrikaanse Moslem-gemeenskap.

Muhammed is nie net ʼn ywerige student van geneeskunde en die Koran nie, hy is ook baie betrokke by sy gemeenskap, veral by die jeug. Hy is tans ʼn raadgewer vir die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg Islamitiese Vereniging (USTIS). Hy is voorsitter van die Moslem Studente Vereniging (MSA) van die Wes-Kaap en het reeds verskeie leierskapsposisies in die Tygerberg-studentegemeenskap beklee.

Hy doen in sy vrye tyd jeugberading wat godsdienstige, huweliks-, sosiale en emosionele welstand insluit en praktiseer ook aanvullende geneeskunde – spesifiek geuttrekterapie (cupping therapy). Hy stel ook baie belang in jeugdinamika en kwessies rakende maatskaplike regverdigheid onder Suid-Afrikaanse jongmense. Hy is ʼn geesdriftige deelnemer aan vergelykende godsdienstige besprekings en debatte. Muhammed is veeltalig en benewens sy moedertaal, Engels, praat hy ook vlot Afrikaans, Arabies en Oerdoe/Hindi.

Hy is in Suid-Afrika gebore en het later saam met sy ouers, dr Allie Bin Haroon en Apa Fareeha, na Saoedi-Arabië getrek waar hy sy primêre skoolopleiding ontvang het. Hy het met sy eerste opleiding in Koran-voordrag begin onder leiding van sy pa en ander onderwysers in Riad, die hoofstad van Saoedi-Arabië. Na sy terugkeer na Suid-Afrika in 2013 het hy die memorisering van die Heilige Koran voltooi by ʼn godsdienstige instelling vir inwonende studente in Camperdown, KwaZulu-Natal.

Muhammed het in 2011 matriek met agt onderskeidings geslaag. Hy het saam met sy skoolopleiding ook opleiding in die Aalame – Faadil kursus (ʼn godsdienstige opleidingskursus in klassieke Islamitiese tekste in filosofie, wetsgeleerdheid en teksverklaring) gedoen en in totaal vyf jaar voltooi. Hy bied ook lesings aan en lewer Arabiese Khutbahs (eredienste) regoor Kaapstad en ander plekke in die land.

Hierdie jong man, wat al op baie nasionale en internasionale radiostasies uitgesaai het, is ʼn gereelde aanbieder van die program ‘Borne to Serve” op die Voice of the Cape-radiostasie.

Oor sy loopbaanpad tot hier sê Muhammed: “Geneeskunde is ʼn veld waarin ʼn mens verantwoordelikheid en respek moet verdien sodat jy jou geloofwaardigheid vestig. Mik vir en glo aan elke ding wat jy graag wil behaal.”

*Qari – ʼn kundige voordraer van die Koran wat vertroud is met al die reëls van voordrag

**Hafiz – iemand wat die hele Koran van voor tot agter gememoriseer het

***Masjid – ʼn plek van Moslem-aanbidding

Foto: Qari Hafiz Muhammed Sheik (met wit klere) saam met hoogwaardigheidsbekleërs van die Ambassade van Saoedi-Arabië, en Anver Ebrahim Surty, Onderminister van die Departement van Basiese Onderwys (heel links) wat die Suid-Afrikaanse Koran-memoriseringskompetisie bygewoon het.