Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom nuwe studente (algemene inligting)
Outeur: Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 21/01/2016

Die Universiteit Stellenbosch het verlede week nagenoeg 5 000 nuwe studente by die Universiteit te verwelkom, en sien uit om al sy senior studente vandeesweek terug te verwelkom.

Die verwelkomingsprogram van die Universiteit het verlede Donderdag afgeskop met die amptelike verwelkomingsgeleentheid vir nuweling studente en hul ouers by die Danie Craven Stadium, Coetzenburg, op die Stellenbosch-kampus. Die doel van die verwelkomingsprogram is om te verseker dat alle nuwe studente tuis voel en dat om deel te raak van die Universiteit Stellenbosch 'n positiewe, verrykende ervaring in 'n koesterende omgewing sal wees.  

"Die Universiteit Stellenbosch wil vir almal 'n inklusiewe, verwelkomende tuiste bied en ons sien uit daarna om alle nuwe studente hartlik en vriendelik te verwelkom by die Universiteit Stellenbosch," sê dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake. "Oor die afgelope paar maande het die Universiteit hard gewerk om te verseker dat die meeste van die klagtes en bekommernisse wat studente het aangespreek word. Die Universiteit is byvoorbeeld werklik besorg oor die bekostigbaarheid van hoër onderwys en sal aanhou om studente so ver as moontlik te ondersteun. ​

"Studente word ook aangemoedig om mekaar te respekteer en te waardeer, ongeag van skynbare verskille. Almal, ongeag van ras, kleur, gender, geloof of seksuele oriëntasie, is geregtig daarop om met menswaardigheid behandel te word. Gegewe dat die Universiteit baie jare gelede al weggedoen het met dooppraktyke, word studente wat enige skendings van menseregte of menswaardigheid, of hoegenaamd enige ongerymdhede ervaar, versoek om sulke insidente so gou as moontlik te rapporteer. Die e-pos-adres vir die rapportering van insidente is unfair@sun.ac.za. 

Daar is ook groot waardering vir die Studenteraad (SR) en ander studenteleiers wat sedert Maandag nuwe studente op kampus bygestaan het. Die Universiteitsbestuur ondersteun ook 'n inisiatief van die SR, die #RegisterAll-veldtog, om studente met finansiële uitdagings te help om te kan registreer. "Ons is baie opgewonde oor die inisiatief van die SR om geld in te samel vir studente wat vir studies by die US aanvaar is, maar nie voldoende fondse het om te registreer nie. Ons moedig alle personeel, alumni, studente en lede van die publiek aan om 'n donasie te maak vir dié wonderlike ondersteuningsprojek van die SR om onderwys vir almal toeganklik te maak. Die fonds sal deur die Universiteit se Kantoor vir Beurse en Lenings bestuur word," sê prof Arnold Schoonwinkel, Viserekor: Leer en Onderrig.

Registrasie

Aanlyn registrasie (by my.sun.ac.za) het reeds begin, maar eerstejaarstudente wat op die Stellenboschkampus studeer en dalk nie self aanlyn kan registreer nie, kan direk op kampus registreer op 25 en 26 Januarie. Registrasie word gedoen aan die hand van die registrasieskedule wat aan die einde van laas jaar aan studente verskaf is. 

Op-kampus-registrasie aan die Tygerbergkampus vind plaas op Vrydag, 22 Januarie, ook aan die hand van die registrasieskedule wat verskaf is. 

Registrasie vir senior studente het reeds aanlyn begin, maar senior studente kan ook direk op kampus registreer vanaf 26 tot 28 Januarie. 

Alle studente wat vir die eerste keer registreer word versoek om seker te maak dat hulle die regte dokumente byderhand het om toegang tot die Admingebou te verkry om te kan registreer. 

Die Universiteit Stellenbosch het nie 'n registrasiefooi nie, maar benodig wel die betaling van die eerste paaiement van studiegelde (meer inligting beskikbaar op die Universiteit se webwerf by www.sun.ac.za). Studente kan egter aansoek doen vir 'n vertraagde betaling wat beteken dat hulle die eerste paaiement oor drie maande (Januarie, Februarie en Maart) kan betaal. 

Met betrekking tot uitstaande skuld (sien inligting hieronder) sal 'n student wat 'n beurs vir 2016 ontvang wat ten minste die uitstaande skuld én die eerste paaiement vir 2016 dek, toegelaat word om te registreer.

Laat aansoeke 

Ongelukkig is die Universiteit nie in staat om laataansoeke vir voorgraadse programme te aanvaar nie. Die Minister van Hoër Onderwys het baie ernstig versoek dat alle universiteite binne die toegewese gesubsidieerde studente-inskrywingsteikens bly. Die Universiteitskoshuise is ook vol en die name van studente wat nog steeds van Universiteitshuisvesting wil gebruik maak, sal op 'n waglys geplaas word. 

Finansiële ondersteuning

In 2016 sal die Universiteit Stellenbosch meer as R650 miljoen in beurse (voorgraads en nagraads) uitbetaal. Dit sluit merietebeurse in. Proporsioneel is dit meer as ander universiteite: 55% van alle inkomste uit studentegelde word as beurse uitbetaal. 

Die Universiteit het diep meegevoel vir die finansiële druk waaronder Suid-Afrikaanse gesinne moet voorsiening maak vir studentegelde. Daarom doen die Universiteit sy uiterste bes om, so ver as moontlik, finansieel behoeftige studente wat akademies verdienstelik is te help. Die Universiteit gebruik sy eie en bestemde fondse om 'n verskeidenheid van beurse en lenings te kan aanbied, en het ook reeds beskikbare befondsing toegewys en moontlike tekorte aangeteken. 

Die Universiteit Stellenbosch erken die vereffening van studente se uitstaande skuld as een van die mees kritieke kwessies om deur die #FeesMustFall-veldtog uitgewys te word. Meeste universiteite, insluitende die Universiteit Stellenbosch, moet egter rekening hou met die realiteit van onvoldoende institusionele reserwes om bloot studente se skuld af te skryf. Hierdie saak maak 'n integrale deel uit van huidige besprekings wat op 'n nasionale vlak met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding gevoer word. Die uitkomste van hierdie besprekings behoort groter duidelikheid te verskaf oor die benadering wat universiteite oor hierdie saak in die komende jare kan volg. 

Veiligheid

Soos meeste ander Suid-Afrikaanse universiteite is US ook besig om voor te berei vir verskeie scenario's met die nuwe jaar in gedagte. Die veiligheid van studente en personeel en die beskerming van eiendom is nie onderhandelbaar nie, en die Universiteit sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die verwelkomingsproses en registrasieproses sonder ontwrigting plaasvind. 

Rakende protesaksies op kampus, erken die Universiteit die reg van personeel en studente om deel te neem aan protesaksies, solank akademiese en administratiewe aktiwiteite nie ontwrig word nie; die reg van medestudente om te kan studeer nie belemmer word nie; en daar geen kriminele dade, soos eiendomsbeskadiging of besering van ander mense, plaasvind nie. 

Persoonlike veiligheid

Ongelukkig is daar 'n wanpersepsie dat Stellenbosch veilig en geïsoleer is, met die gevolg dat baie studente hulself onnodig kwesbaar vir misdaad maak. Die realiteit is dat die Universiteit se Stellenboschkampus 'n oop kampus is en nie immuun teen misdaad en kriminele elemente is nie. Dit is van kritieke belang dat studente, met die hulp van Kampussekuriteit, ekstra waaksaam op kampus is en seker maak dat hulle nie sagte teikens vir misdaad is nie. Studente word dus versoek om dieselfde veiligheidsvoorsorgmaatreëls in Stellenbosch toe te pas as op enige ander plek in die land. 

Algemeen

Die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, bevat al die inligting wat voornemende studente nodig mag hê. Die verwelkomingsprogram, wat ook aan alle eerstejaarstudente uitgedeel sal word, is aanlyn hier beskikbaar. Die boekie bevat inligting oor die Afdeling Studentesake, die registrasieskedule, die Universiteit Stellenbosch se behuisingsgemeenskappe en klusters, parkering, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek, die Akademiese Belangeraad, gratis skryfadvies en Maties Mad2, 'n lekker, student-gedrewe fondsinsamelingsprojek wat hulp aan Matie Gemeenskapdiens verskaf. 

Sien ook www.sun.ac.za/welkom vir meer inligting oor onder andere die verwelkomingsprogram, loopbaanontwikkeling, rekenaargebruikersareas, gesondheid, biblioteek- en inligtingsdiens, spesialeleerbehoeftes en welwees. Inligting oor die Eerstejaarakademie, beurtkrag, Maties Sport, mentors, verenigings en Volhoubaarheid is ook aanlyn beskikbaar. 

Die Universiteit is opgewonde om die nuwe jaar te begin en te sien wat studente kan vermag in hulle akademiese vordering, persoonlike ontwikkeling en die positiewe sosiale impak wat hulle in die samelewing kan maak. 


• Kontak die Universiteit by 021 808 9111 of info@sun.ac.za vir meer inligting. Kennisgewings word op sosiale gedoen via die hutsmerker #WelcomeMatie.