Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale kundiges bespreek biogebaseerde ekonomie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/01/2016

'n Biobrandstofkenner van die Universiteit Stellenbosch, prof. Emile van Zyl, is een van 24 internasionale deskundiges wat vandeesweek op uitnodiging van die Hollandse Koninklike Akademie by die Nederlandse Instituut vir Gevorderde Studies (NIAS) in Leiden vergader.

Die doel van die werkswinkel is om die deurslaggewende aksies te identifiseer wat dit moontlik sal maak om'n biogebaseerde ekonomie te vestig ten einde die impak van klimaatsverandering te temper en volhoubare ontwikkeling te ondersteun.

Prof. van Zyl beklee die Die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in biobrandstof en ander skoon alternatiewe brandstowwe aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens prof. Patricia Ossenweijer, organiseerder van die werkswinkel, erken die meeste planne en projekte die potensiaal van biogebaseerde tegnologie, maar bied nie oplossings oor hoe om die struikelblokke, soos gevestigde belange en kulturele waardestelsels te hanteer wat in die pad van verandering staan in die oorgang tot so 'n ekonomie nie.

"Dit is nodig om die kompleksiteit van die hele sisteem te verstaan voordat 'n mens suksesvolle oplossings kan begin ontwikkel," sê sy in 'n mediaverklaring wat deur die Hollandse Koninklike Vereniging uitgereik is.

Gedurende die werkswinkel sal die internasionale deskundiges uitgedaag word om die groter prentjie in ag te neem en kwessies soos biodiversiteit, geleenthede vir biomassa-produksie deur armer lande, energie en voedselsekureiteit én sosiale ontwikkeling aan te spreek. Die implementering van biobrandstof- en bioenergiestelsels in westerse samelewings sal ook bespreek word.

Die gevolgtrekkings wat uit die werkswinkel voortvloei sal belangrike insette lewer tot aksieplanne wat die impak van klimaatsverandering moet temper, soos geïdentifiseer by die onlangse klimaatsveranderingonderhandelinge wat in Parys plaasgevind het.

Vir meer inligting, besoek

https://www.lorentzcenter.nl/lc/web/2016/780/info.php3?wsid=780&venue=Snellius