Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US rekenaarwetenskaplike ontvang A-gradering
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/01/2016

'n Spesialis in sagteware-ontwikkeling van die Universiteit Stellenbosch, prof. Willem Visser, is slegs die tweede rekenaarwetenskaplike in Suid-Afrika om 'n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) te ontvang.

A-graderings word toegeken aan navorsers wat onomwonde deur hul eweknieë as leidinggewende internasionale navorsers in hul vakgebied erken word vir die uitstaande gehalte en impak van hul onlangse navorsing.

Prof. Visser het erkenning ontvang vir sy navorsing oor die toets en analise van rekenaarsagteware. Hy is tans mede-voorsitter van die programkomitee vir die Internasionale Konferensie oor Sagteware-ontwikkeling (ICSE), die grootste akademiese konferensie in dié vakgebied. Hy is ook mede-redakteur van ACM Transactions on Software Engineering and Methodology, een van die belangrikste vaktydskrifte in die vakgebied. Hy dien op die raad van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rekenaarwetenskaplikes en Inligtingstegnologie.

Terwyl hy by die NASA Ames Navorsingsentrum in die Verenigde State van Amerika gewerk het, was prof. Visser instrumenteel tot die ontwikkeling van Java Path Finder (JPF), 'n model wat die programmeringstaal Java kan nagaan. In 2012 is hy verkies tot die Uitvoerende Komitee van die ACM Spesiale Belangegroep vir Sagteware-ontwikkeling. Hy het ook bygedra tot die skryf van die 2014 riglyne vir sagteware-ontwikkeling kurrikulum.

In Februarie 2015 was prof. Andries Engelbrecht van die Universiteit van Pretoria die eerste rekenaarwetenskaplike in Suid-Afrika om 'n A-gradering te ontvang.