In die bedrywige sale van die Tygerberg-hospitaal se neonatale eenheid neem dr Gugu Kali ʼn mediese nalatenskap wat oor sowat ʼn eeu strek, vorentoe. As leier van ʼn span wat Suid-Afrika se mees kwesbare pasgeborenes versorg, volg sy in die voetspore van haar oupa wat dié weg eerste deur buitengewone vasberadenheid en opoffering gebaan het. Dit strek van die gesegregeerde gesondheidsorgstelsel van Suid-Afrika in die 1920's tot Kali se huidige pos as Hoof van Neonatologie by die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch en vertel ʼn kragtige verhaal van volharding in diens van genesing oor generasies heen.
Dr Rotoli Xaba, een van die eerste 20 swart dokters in Suid-Afrika, het in die 1920's voor oënskynlik onoorkombare struikelblokke in sy mediese opleiding te staan gekom. Omdat swart mense nie tydens apartheid die geleentheid gehad het om medies in hul vaderland te studeer nie, het Xaba eers na die VSA en later na Edinburg, Skotland gereis, waar hy op skepe gewerk en los werkies gedoen het om sy opleiding te finansier. Sy pa se beroerte het ʼn einde gemaak aan die klein bietjie finansiële steun wat hy gekry het en geldelike ontberings het hom gedwing om sy studies ʼn dekade lank te laat vaar. Ondanks hierdie uitdagings het Xaba volhard, uiteindelik in 1936 as ʼn dokter gekwalifiseer en teruggekeer om gemeenskappe in die voormalige Transkei te bedien, waar toegang tot gesondheidsorg uiters beperk was.
Vandag sit sy kleindogter, Kali, daardie nalatenskap voort as Hoof van die Eenheid Kliniese Neonatologie aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal, waar sy die afgelope vier jaar diens gedoen het. Die band tussen die generasies is onmiskenbaar en vind vergestalting in ʼn verbintenis tot die versorging van diegene wat dit die nodigste het.
“Ek is altyd baie dankbaar vir die pioniers wat die weg vir my gebaan het, veral my oupa aan moederskant," vertel Kali. “Hy het gesien hoe swaar die mense rondom hom kry wat nie toegang tot goeie sorg gehad het nie. En hy wou ʼn verskil maak."
Kali se pad na geneeskunde was so te sê voorbestem danksy haar grootwordjare in ʼn familie waar gesondheidsorg ʼn roeping was. Haar pa was ʼn algemene praktisyn wat haar gereeld saamgeneem het as hy pasiënte in hul tuisdorpie Butterworth in die voormalige Transkei gaan versorg het. Haar ma, geïnspireer deur Xaba, het ʼn verpleegster geword.
“Dit het solank ek kan onthou soos ʼn natuurlike pad gelyk," sê Kali oor haar besluit om geneeskunde te studeer. “Ek kan nie eens onthou dat ek ooit iets anders oorweeg het nie."
Nadat sy haar mediese opleiding gedurende die laaste jare van apartheid aan die Universiteit van Natal in Durban voltooi het, het Kali aan die Universiteit van Kaapstad in pediatrie gespesialiseer. Haar reis het vier jaar in akademiese eenhede in die Verenigde Koninkryk en Ierland ingesluit, waar sy ervaring in omgewings sonder hulpbronbeperkings opgedoen het. Sy het in 2008 na Suid-Afrika teruggekeer om by die Tygerberg-hospitaal se neonatale eenheid aan te sluit.
As Hoof van Neonatologie fokus Kali op die versorging van pasgeborenes vanaf geboorte tot 28 dae oud. Sy het besondere kundigheid ontwikkel in die behandeling van hipoksiese isgemiese enkefalopatie (HIE), ʼn toestand wat meebring dat babas nie genoeg suurstof tydens geboorte kry nie en wat tot ernstige breinskade of die dood kan lei.
“Dit is een van die topdrie oorsake van babasterftes. Babas wat die neonatale tydperk oorleef, kan langtermyn-ontwikkelingsprobleme ervaar. Hulle kan serebrale gestremdheid opdoen en hul visie en gehoor kan aangetas wees," verduidelik Kali.
Kali se werk oor verkoelingsterapie vir HIE was die grondslag van haar PhD, wat in 2021 voltooi is. Hierdie behandeling, wat sy in 2008 aan die Tygerberg-hospitaal bekend gestel het, behels dat ʼn baba se kerntemperatuur drie dae lank met sowat vier grade verlaag word voordat hulle weer stadigaan verwarm word. Dit word nou as standaardpraktyk in die meeste areas beskou en as ʼn bewese behandeling wat die uitkoms verbeter van babas wat deur HIE geraak word.
Tans doen Kali navorsing oor hoekom babas met ʼn oënskynlik soortgelyke suurstoftekort verskillend op behandeling reageer deur ondersoek in te stel na potensiële genetiese faktore wat uitkomste kan beïnvloed. Sy werk ook daaraan om verkoeling met ander neurobeskermende terapieë te kombineer om selfs beter resultate te behaal.
Ondanks die feit dat sy in omstandighede werk waar hulpbronne beperk is, streef Kali daarna om ʼn omgewing te skep waarin pasiënte waardige sorg ontvang en haar span kan gedy. Haar toewyding werp dikwels hartroerende vrugte af – soos toe ʼn voormalige pasiënt wat 27 weke te vroeg gebore is en net 900 g geweeg het, as ʼn gesonde 16-jarige teruggekeer het na die plek wat haar lewe gered het om haar verjaardag te vier.
“Dit was lekker om vir die ma's te wys hulle kan regtig uitsien na ʼn dag wanneer hulle ʼn gesonde baba het," vertel Kali.
In die gange van die Tygerberg-hospitaal verpersoonlik Kali die volharding en deernis wat haar oupa se pioniersreis gekenmerk het. Deur haar kliniese leierskap, haar voortgesette navorsing en haar benadering tot die onderrig van die volgende generasie mediese beroepslui, neem sy ʼn familienalatenskap van die oorkoming van struikelblokke en die genesing van gemeenskappe vorentoe – as ʼn lewende getuigskrif van die blywende impak wat vasberadenheid in die aangesig van teëspoed maak.