In die vinnig veranderende wêreld van vandag staan entrepreneurskap uit as ʹn kragtige aandrywer van ekonomiese transformasie. By die Universiteit Stellenbosch (US) is IGNITE een van die toonaangewende inisiatiewe wat studente bemagtig om entrepreneurskap as ʹn lewensvatbare beroepsrigting te oorweeg. Dié innoverende projek is daarop gemik om een van Suid-Afrika se knellendste uitdagings – werkloosheid onder die jeug – die hoof te bied terwyl dit aansluit by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se eeufeestema, naamlik die “transformasie van die ekonomie en samelewing.”
IGNITE, wat in 2024 ontwikkel is, is ʹn universiteitswye ervaringsleer- en ko-kurrikulêre inisiatief wat daarop gemik is om die entrepreneursgees onder voor- en nagraadse studente aan te wakker. Deur hulle met die vaardighede toe te rus om hul eie ondernemings te begin, bevorder die projek nie net selfstandigheid nie, maar maak ʹn bydrae tot breër gemeenskapsverandering, aangesien dit ʹn geslag entrepreneurs opvoed wat die dryfkrag agter ekonomiese ontwikkeling kan wees.
Bemagtiging van toekomstige entrepreneurs
Die Departement Ondernemingsbestuur en die Skool vir Rekeningkunde van die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het saamgewerk om die IGNITE-projek die lig te laat sien. Sabrina Matthee (Departement Ondernemingsbestuur), Sher-Lee Fourie en Juan Ontong (albei van die Skool vir Rekeningkunde) staan gesamentlik aan die spits van die inisiatief. Volgens Ontong deel die projekkoördineerders ʹn visie: “Ons was almal al by entrepreneurskapsverwante projekte by die Universiteit betrokke en ons doel is om seker te maak dat studente toegang tot entrepreneurskapsopleiding het ongeag hul fakulteit of agtergrond.”
Deur IGNITE verkry studente toegang tot gratis aanlyn leer teen hul eie pas, en word hulle blootgestel aan fundamentele entrepreneurskapsbeginsels en -praktyke. Die kern van die program is die besigheidsmodelraamwerk (Business Model Canvas of BMC), ʹn strategiese hulpmiddel wat ontluikende entrepreneurs help om ʹn besigheidsplan te konseptualiseer en te ontwikkel. Die BMC stel studente in staat om die belangrikste komponente van ʹn onderneming te identifiseer en te ontwikkel, soos sy teikenkliënte, waarde-aanbod, inkomstestrome en operasionele struktuur. Op hierdie wyse kry studente ʹn holistiese begrip van wat dit behels om ʹn suksesvolle onderneming te begin en te bestuur.
ʹn Gids vir entrepreneuriese sukses
IGNITE is gebaseer op ʹn praktiese benadering tot leer. Studente voltooi ʹn reeks kursus-aktiwiteite wat ontwerp is om hul entrepreneuriese kennis uit te brei. Die hoogtepunt van die program is wanneer studente die kennis wat hul verwerf het, aanwend om hul eie besigheidsidee te ontwikkel en dan hul eie besigheidsmodelraamwerk te skep. Daarna lê hulle hul BMC voor, tesame met ʹn kort aanbieding wat hul sake-idee uiteensit. Studente kry ook geleenthede vir eweknie-evaluasie en nabetragting oor hul entrepreneuriese reis.
Matthee verduidelik, “Hierdie benadering verseker dat studente nie net die teorie van entrepreneurskap verstaan nie, maar ook die geleentheid gebied word om hul idees prakties toe te pas. Teen die einde van die kursus het studente ʹn besigheidsplan ontwikkel wat hulle onafhanklik of saam met ander kan voortsit indien hulle verkies om ʹn entrepreneuriese koers in te slaan ná graduering.”
Werksgeleenthede en ekonomiese transformasie
Die groter doelwit van IGNITE is om die hardnekkige kwessie van werkloosheid onder die jeug te help verlig. Studente word van die kennishulpmiddels voorsien om hul eie ondernemings te begin; gevolglik moedig die inisiatief hulle aan om entrepreneurskap as ʹn legitieme en opwindende beroepsopsie te oorweeg. Boonop sluit dit aan by die Fakulteit se missie rakende die “transformasie van die ekonomie en samelewing,” aaangesien die bevordering van entrepreneurskap direk tot ekonomiese groei, werkskepping en maatskaplike vooruitgang bydra.
“Hoe meer jongmense by entrepreneurskap betrokke raak, hoe groter is die potensiaal dat dit tot ʹn positiewe verandering in die samelewing kan lei” sê Fourie. “Terwyl studente hul idees ontwikkel en ondernemings op die been bring, verander hulle nie net hulle eie toekoms nie; hulle dra ook by tot die ekonomiese weefsel van die nasie.”
Studente kry die geleentheid om gedurende die eerste en tweede semester aan die inisiatief deel te neem en die totale tydsduur van elke kursus is ongeveer 24 uur. Diegene wat die program suksesvol voltooi het, sal amptelike erkenning op hul akademiese rekords ontvang vir hul entrepreneuriese pogings en toewyding.
Katalisator vir verandering
Die IGNITE-inisiatief is meer as net ʹn opvoedkundige program; dit is ʹn katalisator vir verandering. Die projek dra daadwerklik by tot die transformasie van beide die ekonomie en die samelewing omdat dit entrepreneurskap bevorder en studente van die kennishulpmiddels voorsien om hul idees in werklikheid te omskep. Namate al hoe meer studente ʹn entrepreneuriese koers inslaan, sal die voortgesette impak van IGNITE nuwe geleenthede skep, werkloosheid verminder en ʹn toekoms inspireer waar innovasie die dryfkrag van ekonomiese groei is.
- Die eerste IGNITE-kursus sal na verwagting in die eerste semester van 2025 aangebied word.