Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kenners wêreldwyd doen ’n oproep vir groter naaldekokerbewaringsaksie
Outeur: Corporate Communication and Marketing [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/05/2025

​Naaldekokers is natuurlike bewakers van ons varswaterbronne en dui die gesondheid van akwatiese ekostelsels aan. Om die langtermyn-oorlewing van hierdie insekte en ander lewende wesens wat hulle habitatte deel, te verseker, moet ons hulle wyer insluit by biodiversiteitsbewaringspogings en -beleide.

Dit is een van die belangrikste aanbevelings van 'n groep internasionale naaldekokerkundiges, insluitende wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

​Aksieplan

In 'n onlangse oorsig* wat in Insect Conservation and Diversity verskyn het, het hulle die volgende vyfpunt-aksieplan voorgestel om naaldekokers in varswater- en rivieroewerbewaring te bevorder: uitbreiding en verbetering van naaldekokerassessering en -monitering; insluiting van naaldekokers in standaard omgewingstoksikologiese risikobepaling; leer by naaldekokers om landskapbewaringspogings te verbeter; verseker die integrasie van naaldekokers by ander plant- en dierebewaringsinisiatiewe; en die bevordering van naaldekokers in omgewingsopvoeding.

 


  • Selfoongebruikers klik hier video.

Volgens die wetenskaplikes hang wêreldwye naaldekokerbewaring af van hierdie vyf stappe wat in verskillende streke en landskappe en deur verskeie belanghebbendes geïmplementeer word.

Hulle verduidelik waarom die bewaring van naaldekokers saak maak: “Naaldekokers is 'n sleutelkomponent van varswater- en naburige landekostelsels. Wat veral belangrik is, is dat hulle veral waardevol is vir die beoordeling van water- en grondgehalte. Groepe naaldekokerspesies in 'n gedefinieerde habitat kan ons baie vertel oor verslegtende omgewingstoestande en die vereistes om afgebreekte habitatte te herstel."

Hulle wys daarop dat naaldekokers deur 'n reeks faktore, insluitende habitatverlies, landskaptransformasie, besoedeling, veranderinge in waterbeweging en -bestuur en die verspreiding van indringerspesies, bedreig word. Hierdie word alles deur menslike aktiwiteite aangeblaas.

“Die oorkoepelende faktor van hierdie bedreigings—wat dikwels op mekaar inwerk—is die voortdurende uitdaging van wêreldwye klimaatsverandering en die gepaardgaande uiterste weersomstandighede."

Die wetenskaplikes voeg by dat naaldekokers ons ook kan help om die sukses van bewaringspogings te meet. Enkele voorbeelde sluit die wêreldwye vermindering van menslike uitbuiting van vleilande deur volhoubare grondgebruikpraktyke, herbekendstellingsprogramme van bewers in Europa, habitatherstelprogramme, insluitende die bestuur van indringerspesies, volhoubare dreineringstelselontwikkeling in stede om veerkragtigheid teen uiterste weer en waterverwante gebeure te verbeter (wat ook nuwe naaldekokerhabitatte skep) en skoon energieprojekte in.

Die navorsers sê dit is belangrik om voort te gaan met die assessering en monitering van die grootte van naaldekokerbevolkings, verspreiding en die groepe spesies wat in spesifieke gebiede woon. Hierdie inligting dra by tot internasionale bewaringsprioritiseringsraamwerke en inisiatiewe om bewaringsrisiko's en -afname relatief tot menslike druk en voortgesette klimaatsverandering te verstaan.

“Monitering en evaluering gedurende die vroeë stadiums van bewaringsprogramme is van uiterste belang om te verseker dat naaldekokerbevolkings, habitatte en ekostelsels mettertyd doeltreffend beoordeel word. Hierdie benadering help ook om bedreigings te kwantifiseer en die vlak van bewaringsukses te meet. Inligting wat deur assessering en monitering ingesamel word, moet omgeskakel word in praktiese bewaringspogings en beleidsbesluite.

“Deur naaldekokers by breër bewaringsinisiatiewe in te sluit, sal bewaringsbeleide en bestuur wêreldwyd meer doeltreffend word. Ons het beleide nodig wat op algehele beskerming van biodiversiteit fokus, met naaldekokers as 'n belangrike komponent."

Plaaslike kundigheid

Die wetenskaplikes sê naaldekokers se vermoë om onder verskillende omgewingstoestande te oorleef, hang van die kenmerke of eienskappe van individuele spesies af.

“Vir sommige spesies kan hierdie eienskappe hulle help om aan te pas by of voordeel te trek uit menslike aktiwiteite, soos die skep van damme. Ander mag egter moontlik nie hierdie eienskappe hê nie, wat hulle kwesbaar maak vir plaaslike uitwissing. Terwyl databasisse oor die eienskappe van naaldekokers uitbrei, kan ander onbekende eienskappe ook 'n rol in hulle vermoë speel om by veranderende omgewings aan te pas."

Die navorsers doen 'n oproep om bewaringspogings wat water en grond te verbind, die verbinding tussen habitatte te verbeter en water- en grondgehalte beter te handhaaf. Volgens hulle is die landskapbenadering op die idee gegrond dat pogings om naaldekokers te beskerm, ook ander organismes sal bevoordeel wat soortgelyke habitatte deel en soortgelyke vereistes het.

Hulle voeg by dat die vestiging van 'n stewige kennisbasis en die verbetering van plaaslike kundigheid die sleutel is om naaldekokers beter te verstaan en bewaringspogings te verbeter.

“Die bywerking van plaaslike spesielyste en die ontwikkeling van veldgidse en digitale toepassings help met spesie-identifikasie. Hierdie hulpbronne het ook groot potensiaal om kennis te ontwikkel oor hoe hulle in ekostelsels leef en interaksie met plante en diere het waarmee hulle hierdie ekostelsels deel."

Naaldekokers is ikonies en charismaties, wat tot hulle aantrekkingskrag in omgewingsopvoeding regoor verskeie ouderdoms- en rassegroepe bydra, sê die wetenskaplikes. Hulle beklemtoon die waarde van burgerwetenskap in die verbetering van navorsing oor bewarings- en bestuursvereistes.

“Om die kulturele rol van naaldekokers in verskeie streke te verstaan, sal belangstelling in hulle wek, 'n begeerte aanmoedig om hulle te beskerm en tot beleidskepping bydra.

“Die beskerming van naaldekokers moet wyer bevorder word deur 'n verskeidenheid mediaplatforms te gebruik om die publiek se aandag op die bewaring van hulle habitatte te vestig. Nuwe maniere om uiteenlopende samelewings te betrek kan help om te verseker dat die werklike waarde van naaldekokers as bewakers van bewaring verwesenlik word."

  • Bron: M Samways et al (2025). Scientists' warning on the need for greater inclusion of dragonflies in global conservation. Insect Conservation and Diversity. DOI: 10.1111/icad.12819

*Wetenskaplikes van Suid-Afrika, Meksiko, Portugal, Australië, Nederland, Brasilië, die Verenigde State van Amerika, Duitsland, Spanje, België, Tsjeggië, Japan, die Verenigde Koninkryk, Kanada, Argentinië, Colombia en Swede het saamgewerk aan hierdie oorsig.​