Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.
Candice Egan bekom ruimhartige skenkings om in studentebehoeftes soos beurse, kos en steundienste te voorsien. Haar fondsinsamelingswerk help ruim hindernisse uit die weg om te sorg dat méér US-studente kan floreer en hulle toekoms selfversekerd kan tegemoetgaan.
Wat behels jou werk by die US?
Kort gestel, is ek 'n fondswerwer. Ek skakel met maatskappye, trusts, stigtings en individue – sowel alumni as nie-alumni – en vra hulle om te belê in dinge wat vir die US belangrik is. My hooffokus is studentesteun en alles wat studente op hulle reis na en deur universiteit en tot in die werkswêreld sal help. Hierdie steun is gewoonlik in die vorm van beurse, maar sluit ook inisiatiewe in wat in ander studentebehoeftes voorsien, soos toegang tot kos en geleenthede om met moontlike werkgewers te skakel.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?
Om deel te wees van 'n dinamiese span in 'n hoë-energieomgewing beteken daar's elke dag iets anders.
Ek bestee nogal baie tyd aan skakeling met interne rolspelers soos die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings sowel as verskeie projekleiers deur die hele Universiteit om te begryp watter studente-ontwikkelings op voetsoolvlak plaasvind en waar daar behoeftes bestaan. Nes met enige ander werk, is daar ook heelwat administrasie om te doen, nie net om 'n skenking te kan ontvang nie, maar ook om te sorg dat dit volgens die skenker se wense én ooreenkomstig die Universiteit se beleide en riglyne aangewend word.
Die belangrikste deel van my dag is egter my gesprekke met die Universiteit se huidige en moontlike skenkers. In hierdie interaksies verduidelik ek waarom die US 'n goeie belegging én hulle ondersteuning werd is, spog ek met ons studente en personeel se talent, en help maak ek skenkers se ervaring saam met ons 'n betekenisvolle en impakryke een.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei?
Ek het die grootste deel van my loopbaan tot dusver in die hoëronderwyssektor deurgebring, en ek werk reeds langer as 20 jaar op die gebied van filantropie en projekbestuur. Ek het kwalifikasies aan sowel Rhodes-universiteit as die Universiteit van Kaapstad verwerf en ook by albei instellings gewerk. Daardie ervaring én my huidige rol by die US het my al met generasies studente uit alle omgewings en omstandighede in aanraking gebring, en hulle bly 'n oneindige bron van inspirasie.
Dis moeilik om 'n direkte verband te lê tussen wat ek studeer het en wat ek vandag doen. Nogtans was ek self 'n student en het ek ook maar my eie finansiële, akademiese en sosiale uitdagings gehad, so dít help my om die kwessies wat deesdae opduik ten minste gedeeltelik te verstaan.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Stellenbosch is natuurlik pragtig, die kampus is vol energie, en ek het wonderlike kollegas. Maar die waarheid is dat ek dit ongelooflik baie geniet om geld in te samel en 'n impak te hê.
Dis regtig bevredigend om 'n opregte en sinvolle versoek om ondersteuning te rig, en om dan te sien hoe mense wat in die saak glo en graag 'n verskil wil maak dit ter harte neem.
Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek was nog altyd 'n ywerige hokkiespeler – ek het vir my skool, klub en provinsiaal regdeur my hoërskool- en universiteitsloopbaan gespeel. Noudat ek kyk hoe my seun op die veld opdraf, verstaan ek uiteindelik hoe my ma moes gevoel het om my te sien speel – 'n mengsel van trots, opgewondenheid en 'n bietjie vrees tegelyk. Ek sien uit na menige koue Saterdagoggend op die kantlyn om hom aan te moedig.
FOTO: Stefan Els