Prof Karl Storbeck van die Departement Biochemie in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdag 20 Mei 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was 'Benewens testosteroon: herbesinning oor androgeenbiologie in menslike gesondheid en siekte'.
Storbeck het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing oor steroïedhormone ons begrip van hulle rol in gesondheid en siektes kan verbeter en help om beter diagnostiek en behandelingstrategieë te ontwikkel.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke vakgebied begin belangstel het.
Ek was van kleins af aangetrokke tot wetenskap en het altyd geweet ek wil 'n loopbaan in navorsing volg. Ek het egter gedurende my laaste jare op hoërskool dit moeilik gevind om tussen my twee gunstelingvakke — biologie en chemie — te kies. My besluit het duidelik geword toe ek as 'n finalis in die Wetenskapolimpiade vir hoërskole 'n toekenningseremonie by die Universiteit van Pretoria bygewoon het, waar ek vir die eerste keer aan die vak Biochemie bekendgestel is. Dit was vir my duidelik dat hierdie vak 'n perfekte kombinasie van my belangstellings is en ek onthou duidelik ek het daar en dan besluit ek wou 'n PhD in Biochemie doen. Ek het gedurende my honneursjaar aan die Universiteit Stellenbosch met steroïedhormoonnavorsing kennis gemaak het, en dit het gou my groot liefde en die fokus van my wetenskaplike loopbaan geword.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
My navorsing fokus op die biosintese en metabolisme van steroïedhormone, wat belangrike fisiologiese prosesse reguleer, insluitende metabolisme, immuunfunksie, die stresrespons en voortplantingsgesondheid. Steroïedhormone is dus nie net noodsaaklik in die regulering van fisiologiese funksie by gesonde individue nie, maar speel ook 'n rol in siektetoestande (spesifieke toestande waar die liggaam weens siekte of besering nie normaal funksioneer nie). My groep het 'n belangrike rol gespeel in die toeligting van die biosintese van 'n voorheen miskende klas adrenaal-afgeleide steroïedhormone, bekend as die 11-oksiegeneerde androgene, by mense. Deur 11-ketotestosteroon en 11-ketodihidrotestosteroon as kragtige androgene te identifiseer (hormone wat 'n sleutelrol in die ontwikkeling en instandhouding van manlike eienskappe en reproduktiewe gesondheid speel – ook gevind in vroue), het ons werk die lang gevestigde paradigma uitgedaag dat testosteroon en dihidrotestosteroon die enigste toepaslike androgene by mense is.
Ons bevindinge is wyd in die endokriene gemeenskap aanvaar en navorsing oor 11-oksiegeneerde androgene het aansienlik gegroei. Ons en ander het 11-oksiegeneerde androgene as rolspelers in verskeie siektetoestande, insluitende polisistiese ovariumsindroom ('n afwyking wat die werking van vroue se eierstokke beïnvloed), aangebore adrenale hiperplasie ('n groep genetiese afwykings wat die byniere — wat belangrike hormone produseer — beïnvloed), voortydige adrenarg (wanneer kinders vroeër as gewoonlik tekens van puberteit begin toon), en kastrasieweerstandige prostaatkanker ('n tipe prostaatkanker wat aanhou groei, selfs wanneer testosteroonvlakke baie laag of byna nul is) geïmpliseer. Deur die biosintese van hierdie steroïede en hulle rol in gesondheid en siektes te bestudeer, kan ons hierdie kennis gebruik om verbeterde diagnostiek en behandelingstrategieë te ontwikkel.
Hoe lig jou navorsing kastrasieweerstandige prostaatkanker en polisistiese ovariumsindroom toe?
Ons navorsing het aangedui dat die 11-oksiegeneerde androgene, wat voorheen oor die hoof gesien is, 'n beduidende rol in albei siektetoestande speel. Prostaatkanker is 'n androgeenafhanklike siekte en as sodanig is die primêre behandeling vir die siekte in 'n gevorderde stadium androgeenontnemingsterapie deur middel van fisiese of chemiese kastrasie. Terwyl die kanker goed op hierdie verlaging van sirkulerende testosteroon reageer, keer die siekte altyd in die vorm van kastrasieweerstandige prostaatkanker terug. Hier pas die gewasselle by die laer sirkulerende testosteroon aan deur ensimatiese masjinerie vry te stel (groep ensieme en verwante proteïene in die sel wat saamwerk om spesifieke biologiese prosesse uit te voer) wat hulle in staat stel om sirkulerende adrenaal-afgeleide androgeenvoorlopers na aktiewe androgene om te skakel wat die kanker se vordering dryf. Ons navorsing het getoon dat 11-oksiegeneerde androgene 'n groot bydra tot hierdie adrenaal-afgeleide androgeenpoel lewer en dat dit in ag geneem moet word wanneer toekomstige behandelingstrategieë oorweeg word.
Polisistiese ovariumsindroom (PCOS) is die algemeenste endokriene toestand wat vroue affekteer, met 'n voorkoms van 10%. Hoewel PCOS tradisioneel as 'n voortplantingsversteuring beskou word, is dit nou duidelik dat PCOS deur lewenslange metaboliese wanfunksie (probleme met hoe die liggaam energie verwerk en gebruik) gekenmerk word, insluitende verhoogde risiko van insulienweerstandigheid, tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes, dislipidemie (abnormale vlakke van lipiede of vette in die bloed) en metaboliese wanfunksie-geassosieerde steatolitiese ('n abnormale vetdeponering) lewersiekte. Hierdie verhoogde metaboliese risiko word deur die oortollige androgeenproduksie gedryf wat algemeen by vroue met PCOS voorkom. Die werk wat ons saam onder leiding van prof Wiebke Arlt by die MRC Laboratorium vir Geneeskundige Wetenskappe in die Verenigde Koninkryk gedoen het, het aangedui dat 11-oksiegeneerde androgene aansienlik tot die hiperandrogenisme (hoë vlakke van manlike hormone in die liggaam) bydra wat in PCOS waargeneem word en dat hierdie androgene waarskynlik tot die metaboliese wanfunksie bydra.
As jy 'n voorspelling moet waag, watter ontwikkelings sien jy op die gebied van steroïedhormoonnavorsing?
Vooruitgang in massaspektrometrie (wetenskaplike metode wat gebruik word om chemikalieë te identifiseer en te meet deur na hulle molekulêre gewig te kyk) het ons vermoë om steroïedhormone te kwantifiseer en te profileer heeltemal verander om die voorheen ongewaardeerde kompleksiteit van menslike steroïedbiosintese en metabolisme te onthul. Ons is besig om in samewerking met prof Jacky Snoep, ook van die US, berekeningsmodelle van menslike steroïedbiosintese te ontwikkel wat, wanneer dit met omvattende steroïedprofilering gekombineer word, reeds belowende voorspellende vermoëns toon. Ek verwag hierdie modelle sal as waardevolle hulpmiddels in navorsings- én kliniese omgewings dien. Prof Arlt het 'n sleutelrol gespeel om te toon hoe steroïedprofileringsdata doeltreffend met masjienleeralgoritmes vir diagnostiese toepassings gekoppel kan word. Namate hierdie tegnologieë aanhou ontwikkel, verwag ek dit sal 'n al hoe groter uitwerking op kliniese diagnostiek en die bevordering van verpersoonlikte geneeskunde hê.
Jy is al baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Hoewel ek van nature 'n introvert is, het ek 'n groot waardering vir samewerking en spanwetenskap ontwikkel. Om deel te wees van 'n ondersteunende en intellektueel stimulerende span het gehelp om my in moeilike tye geanker en gemotiveerd te hou. Ek is ook ongelooflik gelukkig om die onwrikbare ondersteuning van kollegas, vriende en veral my vrou te hê — wat ek vermoed geen idee gehad het waarvoor sy haarself inlaat toe sy met 'n aspirant-akademikus getrou het nie. Om 'n stokperdjie soos landskapfotografie buite die akademie te hê, is ook van onskatbare waarde om my perspektief te behou en vir my geestesgesondheid.
Watter aspekte van jou werk geniet jy as leier van 'n navorsingsgroep die meeste?
My dryfveer is nuuskierigheid en 'n begeerte om te verstaan hoe dinge werk, so niks maak my meer opgewonde as wanneer my span of dié van my medewerkers nuwe data skep wat bespreking en ontdekking aanspoor nie — veral as dit iets is wat 'n bestaande paradigma uitdaag, aangesien ek iemand is wat daarvan hou om buite die boks te dink en gevestigde idees te bevraagteken. Om studente te kan mentor en hulle groei eerstehands as wetenskaplikes en mense te ervaar, is ook 'n uiters lonende deel van wat ek doen. Ten slotte, as iemand wat vas glo in spanwetenskap, was ek gelukkig om sinergistiese samewerking met kliniese endokrinoloë te bewerkstellig — en sodoende my fundamentele biochemiese insigte met hulle kliniese kundigheid te kombineer, wat navorsingsuitsette met nog 'n groter impak opgelewer het. Om by te dra tot navorsing wat ons help om die menslike liggaam te verstaan en insigte te verskaf wat pasiëntuitkomste in die toekoms sal verbeter, is 'n voorreg en die mees vervullende deel van wat ek doen.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Afgesien van die wetenskap is landskapfotografie my ander groot liefde. Ek is daarvoor bekend dat ek 03:00 in die môre voor werk Leeukop uitklim om die mis wat die stad binnerol, op kamera vas te lê of om tot in die vroeë oggendure wakker te bly om die Melkweg af te neem. Wanneer ander slegte weer vermy, sal ek en my fotografievriende dit juis aandurf. Ek is gelukkig dat een van my beste vriende 'n professionele landskapfotograaf is en ek maak dit 'n prioriteit om aan avonture deel te neem wanneer my skedule dit toelaat. Ek geniet dit veral om spesifieke skote te beplan wat ons op kamera wil vaslê wanneer toestande dit toelaat, aangesien dit — net soos 'n goeie uitslag in die laboratorium — uiters lonend is wanneer dit 'n werklikheid word.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
As 'n introvert hou ek daarvan om my batterye te herlaai deur tyd by die huis saam met my vrou en ons katkind deur te bring of in die natuur te wees, gewoonlik met my kamera in die hand. Ek is 'n toegewyde Formule 1-aanhanger, en wedrennaweke is vir my heilige uitspantyd. Fotografie bly 'n topprioriteit. Ek het ook al geleer dat selfs wanneer ek nie lus is om uit te gaan nie, dit altyd die moeite werd is om die proses te omarm, aangesien die verstandelike fokus wat nodig is, altyd help om my kop skoon te maak.