Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jonathan Jansen besin oor demokrasie, die Amerikaanse president Donald Trump, en die rol van SA universiteite
Outeur: Centre for the Advancement of Social Impact and Transformation
Gepubliseer: 19/05/2025

​As deel van die 2025 Imbizo-kalender van betrokkenheidsgeleenthede het die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie op Dinsdag, 6 Mei 2025, 'n lesing in die Ou Luckhoff-gebou aangebied. Gedistingeerde Professor in Opvoedingsbeleidstudie, Jonathan Jansen, is genooi om die programrede te lewer oor “Die hantering van die effek wat die Trump Administrasie op Suid-Afrika het".

Prof Jansen het begin deur te sê hy wil vier punte oor die effek van die Trump Administrasie uitsonder, naamlik:

“Die eerste is, wat presies gebeur in die land van die bevrydes? Tweedens, wat maak die opkoms van die outoritêre leier moontlik in 'n land wat al vir dekades as 'n baken van demokrasie aan die wêreld voorgehou word? Derdens, hoe verklaar jy die oorweldigende steun vir Donald Trump onder wit evangeliese Christene? En laastens, hoe word Suid-Afrikaanse universiteite in geheel hierdeur geraak?"

Jansen het oor die term outoritarisme in die konteks van die Verenigde State van Amerika uitgewei en gesê Amerikaners het die res van die wêreld in 'n krisis gedompel toe hulle president Donald Trump vir 'n tweede termyn as president van die VSA verkies het. Hy het aangevoer dat Trump, sedert sy terugkeer vir 'n tweede termyn, uit sy pad gaan om enige instelling wat hy meen teen hom werk, van mag te stroop.

Jansen het president Trump se leierskapstyl vervolgens as outoritarisme bestempel: “Outoritarisme is die onderdrukking van jou teenstanders. Dit is nie genoeg dat jy van hulle verskil nie. Jy moet hulle onderdruk. Hierdie man wil dus nie alleen die mag in homself vestig nie, hy wil verseker dat hy dié mag oor kulturele instellings uitoefen."

Jansen, 'n evangeliese Christen, het aangedui hoe verbaas hy was dat 'n meerderheid Trump-ondersteuners evangeliese Christene is.

“Die waarheid maak seer," het Jansen gesê. “Maar wanneer evangeliste so 'n figuur verdedig en verhef, verraai dit 'n ontstellende waardebelyning nie met Christus nie, maar met mag, witheid, en beheer."

Jansen het beklemtoon dat hy die lojaliteit van Trump se evangeliese volgelinge met 'n dieper kulturele en rasse-angs verbind, en 'n vrees om mag te verloor in 'n toenemend diverse samelewing. Volgens Jansen het Trump 'n “simbool van uittarting teen verandering" geword.

Die huidige vlaag xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika is 'n kwessie wat ons universiteite nie durf ignoreer nie. “Wanneer demokrasie in een deel van die wêreld bedreig word, veral onder die invloedryke nasies, word die gevolge wêreldwyd gevoel. Deur die ondermyning van akademiese vryheid, en die normalisering van die neiging om ras die sondebok te maak, sypel hierdie gesindhede na ons eie instellings deur," sê Jansen.

Hy waarsku dat Suid-Afrikaanse universiteite waaksaam moet bly en akademiese integriteit moet beskerm, terwyl daar teen politieke inmengery gewaak moet word.

“Oor die afgelope paar weke was daar 'n georkestreerde veldtog van waninligting oor die getal en die kenmerke van aansoekers van elders op die vasteland, en veral uit Zimbabwe, wat aangestel word," sê Jansen. Hy meen die afkoms van individue mag nooit 'n faktor wees wanneer daar oor indiensneming by universiteite besluit word nie. “'n Universiteit is nie 'n land nie. Jy bekom die beste talent van oral oor die wêreld."

Teen die einde van die lesing het die gehoor verskeie vrae en opmerkings gehad, en van hulle wou weet of die voormalige president Barack Obama se ampstermyn moontlik tot die terugkeer van Trump en die outoritêre leierskapstyl gelei het.

Prof Guy Midgley, Direkteur by die US se Skool vir Klimaatstudies, het prof Jansen se siening oor evangeliese Christene bevraagteken en gesê: “Dit strek veel dieper as 'n simplistiese siening van wit evangeliese Christene." Prof Midgley het ook sy mening bevestig dat daar geen vergelyking tussen swart steun vir die Demokratiese Alliansie in Suid-Afrika en swart steun vir Trump in die VSA te tref is nie.

Jansen het die lesing afgesluit deur die behoefte te beklemtoon dat mense die uitkringeffek van internasionale gebeure op hulle daaglikse lewe moet verstaan.