Dr Janette Verster se passie lê by die kruispunt tussen geneeskunde en die reg. As Hoof van die Afdeling Geregtelike Geneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en Hoof van die Kliniese Departement van die Tygerberg-lykshuis se forensiese patologiedienste, bied sy ʼn unieke mengsel van mediese kundigheid en ondersoekvaardighede in ʼn veld wat baie mense as somber kan ervaar.
Maar waar ander duisternis sien, sien Verster geleenthede – om raaisels op te los, antwoorde te verskaf en te verseker dat geregtigheid geskied.
“Dis ʼn baie stimulerende, baie interessante veld," sê Verster oor forensiese geneeskunde. “Nie een dag is dieselfde as die vorige een nie. Geen geval is dieselfde nie. Jy moet altyd op jou voete dink, fokus en probeer om die raaisel op te los."
Noodlot gryp in
Verster het nie aanvanklik beplan om geregtelike geneeskunde te studeer nie. As mediese student wou sy nog altyd ʼn pediater word. Die noodlot het egter ingegryp toe haar beplande elektiewe vak net twee weke voor dit geskeduleer was, deur die mat geval het.
“Ek was mal oor anatomie en het die forensiese rotasie baie geniet omdat dit raakpunte met anatomie het," onthou sy. Terwyl sy ter elfder ure na ʼn plasing op soek was, het sy wyle prof Johan Dempers, voormalige Hoof van die Afdeling Geregtelike Geneeskunde, genader en slegs die tweede elektiewe student geword wat deur dié afdeling ingeneem is.
“Dis waar my liefde vir forensiese geneeskunde ontwikkel het, want dit het regtig raakpunte met alle vakke: alles in geneeskunde, asook tale en die reg. Dit is die perfekte werk as jy ʼn perfeksionis en lief vir detail is," verduidelik Verster.
Vooruitgang
In haar huidige rol, wat meer bestuur as gevallestudies behels, het Verster ambisieuse planne vir haar Afdeling. “Ons het ʼn visie vir ʼn sentrum vir uitnemende beelding by die US en om op forensiese nadoodse beelding te fokus," sê sy met entoesiasme.
Nadat Verster ʼn Sertifikaat in Gevorderde Studies in Forensiese Beelding en Virtopsie (virtuele lykskouing) aan die Universiteit van Zürich voltooi het, beskou sy digitale beelding as die toekoms van forensiese patologie. “Dit is wêreldwyd waarheen forensiese ondersoeke op pad is," verduidelik sy. Die tegnologie stel patoloë in staat om permanente digitale rekords van gevalle te skep, 3D-rekonstruksies van beserings uit te voer, asook gevalle selfs ná die verloop van jare op te los.
“Mens kan soveel met nadoodse CT-skanderings doen omdat jy ʼn permanente rekord het," merk sy op. “Mens kan skedelfrakture ook baie mooi en veel beter met 3D-rekonstruksies sien."
Benewens beelding fokus die Afdeling Geregtelike Geneeskunde op twee ander sleutelareas: geslagsgebaseerde geweld en skielike, onverwagse babasterftes (SIDS). Die Afdeling is betrokke by die Thuthuzela- en Inspire-sentrums in Idasvallei, wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld help.
“Die Thuthuzela-sentrum is nou ʼn jaar lank operasioneel. In daardie jaar het hulle meer as 400 gevalle gesien en skokkend genoeg was sowat 41% van hulle kinders," sê Verster. Haar Afdeling dra by tot kliniese opleiding by dié sentrum en hoop om ʼn nagraadse navorsingstroom deur die Inspire-sentrum te vestig.
Elke dag iets nuuts
Vir Verster is die hoogtepunte van forensiese patologie die onvoorspelbaarheid en relevansie daarvan. “Jy weet nooit wat om te verwag nie," sê sy. “Jy sien letterlik die gevalle waaroor in die media berig is. Jy moet die raaisel oor die oorsaak van die sterfte oplos."
Sy heg ook waarde aan die menslike aspek van haar werk: “As dit ʼn skielike dood is, en die familie nie weet hoe die persoon dood is nie en antwoorde soek, kan jy ʼn antwoord vind en verskaf."
Verster wil graag toesien dat die hindernisse tussen forensiese patologie en ander mediese dissiplines afgebreek word. “Tradisioneel sien mense ons as deel van die polisie of die regstelsel, maar ons is steeds mediese praktisyns en kollegas. Die bespreking van ʼn geval of die bywoning van ʼn vergadering oor sterftes weens siektes bied soveel waarde," verduidelik sy.
Sy beskryf haar span as “jonk, lewendig, entoesiasties en baie toeganklik", en rig ʼn openlike uitnodiging aan kollegas regoor die Fakulteit om saam met hulle te werk. “As hulle ʼn vraag het, hetsy of dit met ʼn geval verband hou of net patologieverwant is, kan hulle na ons uitreik en ons leer ken."
Onder Verster se leierskap bevorder die Afdeling Geregtelike Geneeskunde patologiedienste met die nuutste tegnologie en deernisvolle sorg. Hetsy dit die oplossing van raaisels oor sterftes of hulp aan slagoffers behels, bied haar werk antwoorde vir diegene wat dit die nodigste het – om te. verseker dat waardigheid en geregtigheid selfs in die dood seëvier.