Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe… Anne Havemann-Serfontein
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 09/05/2025

Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.

Anne Havemann-Serfontein help studente floreer deur hulle van eerstejaaruitdagings na loopbaansukses te lei. Sy bied langtermyn- persoonlike bystand aan beursstudente en ruim sodoende hindernisse uit die weg, help baan die weg na sukses, en sorg dat elke student gewaardeer, ondersteun en bemagtig voel om hulle volle potensiaal te bereik.

Wat behels jou werk by die US?

As die programbestuurder van Studentesuksesprogramme in die verantwoordelikheidsentrum van Leer en Onderrig, hou ek toesig oor drie kernsteuninisiatiewe: die Dell Young Leaders- (DYL-)program wat deur die Michael & Susan Dell-stigting gefinansier word, die Ikusasa-finansiëlehulpprogram vir studente (ISFAP), en die Carl & Emily Fuchs-stigting- (CEFF-)Kanseliersbeursprogram.

Ek bestuur die aktiwiteite van hierdie programme, en saam met 'n toegewyde span ondersteun ek studente se sukses deur hulle hele universiteitsreis tot en met gradedag én gedurende hulle oorgang na betekenisvolle loopbane. Ons bied persoonlike, verhoudingsgebaseerde bystand met finansiële, akademiese, welstands- sowel as loopbaankwessies.

Ons werk sy aan sy met verskillende vennote by die US én met die onderskeie stigtings, wat nie net ons werk finansier nie, maar ook strategiese leiding en 'n gemeenskaplike visie vir studentesukses voorsien. My werk is om sterk bande met sowel interne rolspelers as eksterne diensverskaffers te bou en te handhaaf. 'n Ál hoe belangriker fokus van my werk is om aktief tot die algemener institusionele agenda vir die verbetering en uitbreiding van studentesteun en -sukses deur die hele Universiteit by te dra. Boonop neem ek aan nasionale en streeksamewerkingsprojekte met ander beursprogrambestuurders deel om kennis, insigte en beste praktyk uit te ruil.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?

Geen twee dae is dieselfde nie, en dis presies wat ek van die werk geniet! Elke dag bring nuwe uitdagings, gesprekke, en geleenthede om te leer. Samewerking is die kern van ons werk, so 'n groot gedeelte van die dag behels skakeling met belanghebbendes by die Universiteit, waaronder kollegas in Studentesake, die verantwoordelikheidsentrum van die Registrateur en van Leer en Onderrig, fakulteite, Beurse en Lenings, Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, en die Sentrum vir Besigheidsintelligensie. Ons bly ook in noue verbinding met ons vennote van die stigtings.

Ek bestee baie van my tyd saam met ons span programkoördineerders en studentesuksesvennote om intervensies te beplan, doeltreffende gevallebestuur te verseker, gepaste bystand te fasiliteer, en aan maniere te dink om hindernisse vir studentesukses uit die weg te ruim en studente vir die werkswêreld voor te berei.

Wat ook nogal heelwat van my aandag in beslag neem, is finansiële bestuur, die monitering van studentevordering, en verslagdoening oor ons programme. Ons steun swaar op tegnologie en data om ons intervensies te rig en bystand te optimaliseer. Daarbenewens is ek betrokke by verskeie institusionele platforms en forums om tot algemener studentesuksesinisiatiewe by te dra. Maar die beste deel van my dag is ongetwyfeld om met studente te werk – dit laat my onthou waarom dié werk saak maak.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei?

Ek het nog altyd 'n sterk passie vir die studentelewe en hoër onderwys gehad. Ek het in my studentedae as prim van die koshuis Nerina gedien, en ek was verantwoordelik vir die Studentesake-portefeulje in die Studenteraad. My loopbaan het as 'n skakelbeampte in Studentesake by die US begin, waarna ek 'n meestersgraad verwerf en as 'n voorligtingsielkundige by die Gesondheidsberoepsraad van Suid-Afrika geregistreer het.

My daaropvolgende werk by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling het my akademiese en persoonlike voorligtingsvaardighede gebou en geslyp, en by die Sentrum vir Studentewerwing het ek weer vaardig geword in loopbaanvoorligting. Hierdie rolle het 'n sterk grondslag gelê vir my begrip van wat studente nodig het en hoe om hulle holisties te ondersteun. Ek het ook vir meer as 'n dekade as konsultant in die korporatiewe sektor gewerk waar ek gemoeid was met psigometriese assesserings, die keuring en ontwikkeling van gegradueerdes, en die skep van sake-omgewings waar mense kan groei en floreer. Dít alles het 'n invloed gehad op hoe ek nou my werk benader, naamlik om strategiese denke met studentegerigte sorg te integreer.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Wat my die naaste aan die hart lê, is die daaglikse skakeling met studente, en om deel te wees van 'n ongelooflike span wat professioneel en passievol is én ten diepste toegewyd aan studentesukses. Hulle deernis en kundigheid is vir my 'n konstante inspirasie. Die impak van hulle werk weerspieël hulle passie en toewyding.

Ons programme ondersteun studente oor 'n hele aantal jaar, dikwels vanaf hulle eerste studiejaar tot en met gradedag. Danksy hierdie langtermynbetrokkenheid kan ons persoonlik ons studente se groei, veerkragtigheid en suksesse beleef. Dis ongelooflik vervullend om te sien hoe hulle uitdagings te bowe kom, as individue ontwikkel, en selfversekerd hulle plek as beroepslui en gemeenskapsleiers inneem.

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek het aanvanklik Drama studeer, want ek was oortuig my toekoms lê op die verhoog. Maar ek het langs die pad my liefde vir sielkunde ontdek en van rigting verander. Daar's steeds hope drama, maar geen verhoog nie!

Musiek was nog altyd 'n groot deel van my lewe. Ek het in die Tygerberg-kinderkoor en die US Koor gesing, en is steeds 'n trotse lid van die Libertaskoor. Ek het selfs in 'n jazzgroep gesing.

En vir 'n snaakse kinkel: As 'n baie dapper 18-jarige, het ek eenkeer gaan rekspring ... en ironies genoeg ly ek sedertdien aan hoogtevrees!

FOTO: Stefan Els