Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe oorsig herdenk die “botanis van Belvidere” se nalatenskap
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 30/04/2025

​Die lewendige nalatenskap van Dr Augusta Vera Duthie (1881–1963), stigter van die Departement Plantkunde by Victoria Kollege in 1902 (herbenoem as die Universiteit Stellenbosch in 1918), is vasgevang in 'n oorsigartikel wat in 'n spesiale uitgawe van die South African Journal of Botany gepubliseer is. Die spesiale uitgawe fokus op die stand van botaniese wetenskap in Suid-Afrika.

Die artikel, met die opskrif “The botanist from Belvidere – the living legacy of Augusta Vera Duthie", is een van verskeie om die 50ste jaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Botaniste, te herdenk. Tog is dit slegs die tweede artikel sedert 1967 wat in 'n vaktydskrif gepubliseer word wat 'n meer omvattende oorsig gee van Duthie se ryk nalatenskap.

Prof. Léanne Dreyer, senior outeur van die artikel en 'n botanis in die US se Departement Plant- en Dierkunde, sê die artikel is ook 'n poging om die onderverteenwoordiging van vroue se betrokkenheid by botanie in suider-Afrika en internasionaal aan te spreek.

Sy het saamgewerk met Dr Paul Hills van die US se Instituut vir Plantbiotegnologie, en met Wiida Fourie-Basson, mediabeampte en wetenskapskrywer vir die Fakulteit Natuurwetenskappe, om dieper ondersoek te doen na die skatkis van dokumente en briewe wat in die A.V. Duthie-versameling in die US Biblioteek se Spesiale Versamelings gehou word. In die proses het hulle ook afgekom op 'n versameling dokumente, briewe en skyfies wat verband hou met die vestiging van die Duthie Reservaat in die 1950s. Dié dokumente, wat in die Departement Plant- Dierkunde se argief gestoor was, is intussen aan die US Argief oorhandig.

Volgens die US se senior argivaris, Karlien Breedt, is hierdie dokumente en skyfies onvervangbare primêre bronne wat die vestiging en ontwikkeling van die Duthie Reservaat dokumenteer: “Sonder hierdie inligtingsbronne sou ons nie 'n idee kon vorm van die fauna en flora wat daar voorgekom het nie. Dit verseker ook dat Duthie se nalatenskap nie verlore gaan nie."

Meer oor Ave Duthie

Ave Duthie (uitgespreek as “A-Vee" op grond van haar voorletters) was slegs 20 jaar oud toe sy in 1902 aangestel is om die tweede Botanie departement in Suid-Afrika te begin. Haar aanstelling het destyds, in haar eie woorde, “something of a nine day's wonder" veroorsaak aangesien sy die enigste vroue dosent was. Haar werk by Victoria Kollege het begin met 'n handjievol studente in 'n kamertjie in die Ou Hoofgebou, met min tot geen toerusting nie.

Figure_4_VC Senaat 1904 (2).jpg

Duthie was een van drie prominente vroue botaniste wat deur die Amerikaans-gebore botanis, Dr Bertha Stoneman (1866-1943), by die Hugenote Kollege vir Vroue in Wellington opgelei is. Stoneman was getaak om die nuwe botanie departement en herbarium by die kollege te stig, en het later in 1921 hoof van die kollege geword. Duthie het in 1901 haar graad verwerf, en Ethel Doidge in 1907. In 1914 het Doidge die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om 'n doktorsgraad te verwerf. Duthie het haar meestersgraad in 1910 aan die Universiteit van die Kaap van Goeie Hoop voltooi en haar doktorsgraad in 1929 by die Universiteit van Suid-Afrika met 'n dissertasie oor die plantegroei en flora van die Stellenbosch Vlakte.

As stigter en hoof van die botanie departement vir 19 jaar, het Duthie 'n omvattende infrastruktuur gevestig wat onder meer 'n biblioteek, herbarium, botaniese tuin en navorsingsfasiliteite, veral vir morfologiese navorsing, ingesluit het. Die meeste van hierdie infrastruktuur bestaan vandag nog en is steeds van deurslaggewende belang vir navorsingsaktiwiteite in die huidige Natuurwetenskappe gebou wat in 1916 voltooi is. In 1921 het Duthie egter 'n terugslag beleef toe die nuwe leerstoel in botanie aan een van haar voormalige studente, Dr Gert C. Nel, toegeken is. 'n Brief van Nel wat in 'n spesiale versameling in die US Biblioteek gehou word, toon dat die besluit toegeskryf kan word aan 'n langdurige taaldebat by die US, en dat Nel aktief voorbrand gemaak het daarvoor dat botanie in Afrikaans aangebied moet word. Duthie het weer 'n gewone dosent geword en die ekstra tyd tot haar beskikking gebruik om intensiewe veldwerk te doen op die vlaktes rondom Stellenbosch, tot en met haar aftrede in 1939.  

Duthie se botaniese opnames, en die herbariumplate van die Stellenbosch Vlakte, is van onskatbare waarde, aangesien die area hoofsaaklik uit Renosterveld bestaan het, 'n tipe plantegroei wat vandag hoogs bedreig word. Baie van hierdie herbariumplate is gedeponeer in die Stellenbosch Herbarium in die Natuurwetenskappe gebou. Haar belangrikste lewendige nalatenskap is egter in die vorm van die Duthie Reservaat, waar die laaste oorblywende lewensvatbare bevolking van die krities bedreigde poeierkwaslelie (Haemanthus pumilio) voorkom. Die reservaat is in 1952 deur die voormalige hoof van die botanie departement, Prof. P.G. Jordaan, gestig en in 1960 amptelik na Dr Duthie vernoem ter erkenning van haar baanbrekerswerk oor die flora en plantegroei van die Stellenbosch Vlakte. In 1987 is die Duthie Reservaat as 'n Suid-Afrikaanse Nasionale Erfenisgebied verklaar, met die oorspronklike sertifikaat wat steeds in die Stellenbosch Herbarium pryk.

Uit die Duthie-versameling blyk dit duidelik dat Duthie 'n ywerige briefskrywer was en met prominente botaniste en wetenskaplikes van oor die hele wêreld gekorrespondeer het oor Suid-Afrikaanse flora én plantmateriaal uitgeruil het. Die artikel beklemtoon ook Duthie se pogings om die tradisie en atmosfeer van haar geboorteplaas, Belvidere, te bewaar soos neergelê deur George Rex, haar oupagrootjie en die stigter van Knysna. Die huis waarin Duthie grootgeword het op die Belvidere landgoed is vandag 'n geproklameerde Nasionale Monument.

Menige plantliefhebber en botanie-student mog in die toekoms dit oorweeg om 'n besoek te bring aan die ouwêreldse kerkie by Belvidere wat deur Duthie se oupa in 1855 gebou is. Duthie, wat nooit getrou het nie, is in die familie begrafplaas aan die suidekant van die kerk begrawe. 'n Klein gebrandskilderde venster oorkant 'n kerkbank aan die noordekant van die kerk, geïnstalleer in 1972, herdenk haar rol as weldoenster van die kerk en haar liefde vir botanie. Saam met die Knysna loerie en engel wat daarop uitgebeeld word, is daar ook 'n paneel wat agt blomplante uitbeeld wat sy as 'n jong botanis bestudeer het.

image00002.jpeg

Die artikel “The botanist from Belvidere – the living legacy of Augusta Vera Duthie (1881-1963) het in die South African Journal of Botany verskyn en is aanlyn beskikbaar by  https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0254629925001942?via%3Dihub