Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Politieke kwessies bepaal gesondheidsuitkomste – Prof Pieter Fourie
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/11/2024

​Prof Pieter Fourie van die Departement Politieke Wetenskappe in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het sy intreerede op Dinsdag, 12 November 2024 gelewer. Die titel van sy lesing was “Die leuen waardeur ons die waarheid vertel".

Fourie het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor die belangrikheid daarvan om die aandag op die politieke bepalers van gesondheid te vestig om gesondheidsuitdagings beter te verstaan en aan te pak.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belang stel het.

Die politiek van gesondheid – of dit nou nasionaal of internasionaal is – hou ʼn spieël vir die samelewing en vir die wêreld op: Wie wen? Wie verloor? Wie leef? Wie sterf? Wie betaal? Ek kan aan min kwessies dink wat meer polities is en wat tans belangriker in die wêreld is.

Hoe sal jy die relevansie van jou werk beskryf?

Om die verbetering van gesondheidsuitkomste in die wêreld te verstaan en te verbeter is ʼn sleutelmaatstaf en -bepaler van ʼn samelewing se welsyn en sukses. As ons gesondheidsuitdagings beter kan verstaan, sal ons beter toegerus wees om te weet waar om aandag op beleid – en begrotings – te fokus. Dit kan ons ook leer om met groter empatie op te tree.

Met jou ervaring van die akademie en ander sektore, hoe sou jy die komplekse verhouding tussen armoede, politiek en gesondheid beskryf?

Die maatskaplike – en al hoe meer die politieke – bepalers van gesondheid het oor die afgelope twee dekades as sleutel- akademiese en beleidskwessies vir beleidmakers na vore getree, of dit nou nasionaal (regerings), internasionaal (oor grense heen) of multilateraal (byvoorbeeld binne die Verenigde Nasies-stelsel) is. Mense manifesteer nie bloot spontaan morbiditeit of mortaliteit nie – dit word in enorme mate deur politieke kwessies bepaal, soos inkomstevlakke en die verspreiding van ongelykhede binne samelewings en oor die hele wêreld heen.

Gebaseer op jou navorsing, wat is sommige van die sleuteluitdagings van globale gesondheidsbestuur?

Die versterking van gesondheidstelsels, siektes wat met armoede verband hou, asook die bou van konsensus rondom kritiek belangrike multilaterale inisiatiewe soos ʼn globale ooreenkoms vir die verspreiding van entstowwe.

Hoe kan hierdie uitdagings aangepak word?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se jaarlikse begroting is net minder as $7 miljard – vir die hele wêreld. Amerika se jaarlikse verdedigingsbegroting alleen is $1 triljoen, en die wêreldwye militêre begroting is bykans $2,4 triljoen. Regte geld moet op die regte dinge en op die regte manier bestee word. Regerings moet saamwerk aan globale probleme eerder as om terug te trek in ʼn nasionalistiese/proteksionistiese houding wat meer verdeeldheid as enigiets anders saai. Virusse en bakterieë floreer in toestande van onenigheid – en hulle respekteer beslis nie grense nie.

Hoe kan fiktiewe narratiewe help om globale gesondheid en ander uitdagings te verstaan en aan te pak?

Mense onthou stories en staaltjies waarmee hulle meer as enige passievolle aanbieding van data kan identifiseer. Ons het die data nodig, maar ons moet dit op ʼn manier aanbied wat besluitnemers sal help om die ware aard van uitdagings te verstaan. Fiktiewe vertellings kan daarmee help.

Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak??

My studente. Ek leer elke dag by hulle.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Onderrig en toesig. Ek geniet die uiteenlopende aard van die werk, dat ek soveel verskillende dinge kan doen.

Jy het verskeie romans geskryf. Watter temas ondersoek jy en wat inspireer jou stories?

Skryf is hoe ek my wêreld filtreer en daarvan sin maak. Ek het nie ʼn lys temas nie.

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

In my jonger dae het ek valskerm gespring. Ek het (dalk) goed van grafte gesteel. En in November 2003 het ek dit reggekry om Beyoncé by ʼn spoggerige sosiale geleentheid in Londen te beledig. (Hierdie drie goed hou nie verband nie).

 

​