Wêreldtelekommunikasie- en Inligtingsgemeenskapsdag word jaarliks op 17 Mei gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf dr Sonja Strydom van die Sentrum vir Leertegnologieë dat nog baie in Suid-Afrika gedoen moet word om die digitale kloof te oorbrug. Sy meen die impak van kunsmatige intelligensie in die onderwys kan nie sonder ʼn behoorlike, volhoubare infrastruktuur, kundige, digitaal-geletterde studente en dosente, en pedagogies-gesonde praktyke verder ondersoek word nie.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Sonja Strydom*
Wêreldtelekommunikasie- en Inligtingsgemeenskapsdag word jaarliks op 17 Mei gevier. Vanjaar se tema, “Digitale Innovasie vir Volhoubare Ontwikkeling", benadruk die belang van digitale oplossings om groot globale uitdagings aan te pak en vordering op sleutelgebiede te versnel. Een so ʼn gebied is onderwys.
Die Verenigde Nasies het 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte geïdentifiseer, waarvan onderwys van gehalte die vierde een is. Hierdie strewe het inklusiewe en billike onderrig en die bevordering van lewenslange leergeleenthede vir almal ten doel. Die fundamentele onderbou van hierdie doelwit is om konstruktiewe transformasie te bevorder deur die aandag te vestig op die krag van onderrig om tot ʼn volhoubare en billike wêreld by te dra. Die doelwit se uitgangspunt beklemtoon die transformerende vermoë van onderwys om positiewe verandering teweeg te bring, wat uiteindelik vordering na ʼn volhoubare en billike globale samelewing voortdryf.
Digitale onderwys word gereeld geprys as die vernaamste dryfkrag in die modernisering van onderwysstelsels. Dit hou die belofte in om billike leergeleenthede vir almal te verseker en om leerders en studente met die nodige vaardighede toe te rus om in die professionele wêreld te gedy.
Talle voorbeelde in ons onlangse geskiedenis dui hierop. Die Massive Open Online Course (MOOC)-beweging het byvoorbeeld in die vroeë 2010's momentum gekry en kan teruggevoer word na die aanbieding van gratis aanlyn kursusse deur die Stanford-universiteit in 2011. Hierdie beweging het die belofte ingehou om onderwys te demokratiseer en dit vir individue toeganklik te maak ongeag hul geografiese ligging, sosio-ekonomiese status of finansiële beperkings. Dit het terselfdertyd die lewering van opvoedkundige inhoud aan groot getalle studente gelyktydig nagestreef. MOOC's is voorts gevisualiseer as ʼn bekostigbare en buigsame alternatief vir tradisionele opvoedkundige modelle, wat vir uiteenlopende studentebehoeftes en -skedules voorsiening maak.
Ten spyte van aanvanklike entoesiasme het die beweging nie daarin geslaag om momentum te behou en te voldoen aan die hoë verwagtinge wat gestel is nie. Swak voltooiingsyfers van verskeie MOOC-aanbiedinge is waargeneem, wat twyfel oor die doeltreffendheid van dié leerervaring laat ontstaan. Boonop het MOOC-verskaffers met die uitdaging geworstel om volhoubare inkomstestrome te vestig. Wat hierdie kwessies vererger het, was die wydverspreide gebrek aan geloofwaardigheid en erkenning vir die gehalte van MOOC-kursusse onder werkgewers en tradisionele akademiese instellings. Die enorme omvang van MOOC's het dit inherent onmoontlik gemaak om persoonlike ondersteuning en terugvoer aan studente te bied.
ʼn Vergelykbare situasie het tydens die Covid-19-pandemie ontvou, waar opvoedkundige instellings deur ʼn skielike oorgang na die verskaffing van aanlyn leer in die gesig gestaar is. Skole en hoëronderwysinstellings met die nodige finansiële hulpbronne en tegnologiese infrastruktuur het met relatiewe sukses daarin geslaag om van konvensionele aangesig-tot-aangesig- na afstandsonderrig oor te skakel.
Maar opvoedkundige instellings met min hulpbronne het uitdagings ervaar wat verband hou met ʼn skerp digitale kloof wat tussen leerders en studente bestaan. Talle uit lae-inkomste-huishoudings of landelike gebiede het nie oor toegang of digitale toestelle gepas vir leer beskik nie. Ander uitdagings sluit in diegene met leergestremdhede en spesiale behoeftes, asook taalhindernisse waar studente uit nie-Engelssprekende agtergronde of met beperkte taalvaardigheid talle bykomende struikelblokke geskep het. Ander faktore het die gebrek aan voorbereiding van onderwysers en/of dosente ingesluit, asook die impak wat aanlyn leer op assesseringspraktyke gehad het.
Die huidige opvoedkundige landskap ervaar ʼn herlewing van belangstelling en investering in digitale leermodaliteite, met die vinnige vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI) as katalisator. Hierdie hernieude entoesiasme vir KI-gedrewe opvoedkundige oplossings is die aanporing vir innoverende benaderings met die potensiaal om die manier waarop ons onderrig en leer, te transformeer.
Die integrasie van KI in die onderwys hou groot potensiaal in om konvensionele leerbenaderings te transformeer. ʼn Oortuigende argument word gevoer vir die gebruik van KI om verpersoonlikte leerpaaie te skep wat vir elke student se unieke behoeftes pasgemaak is. Intelligente tutorstelsels, aangedryf deur KI, kan intydse terugvoer en leiding verskaf wat die rol van ʼn menslike tutor naboots en studente in hul opvoedkundige reis ondersteun. Daarbenewens kan KI-gedrewe aanpasbare leervermoëns die inhoud, tempo en moeilikheidsgraad van leermateriaal dinamies aanpas op grond van ʼn student se vordering en begrip, wat ʼn meer deelnemende en effektiewe leerervaring verseker. Voorts kan KI groot taalmodelle en generatiewe KI (GenAI) tot die skep van opvoedkundige inhoud bydra, wat moontlik toeganklikheid kan verbeter en koste verbonde aan inhoudontwikkeling kan verlaag.
Met erkenning aan die gedeelde uitdagings en beperkings van vorige opvoedkundige inisiatiewe soos MOOC's en die vinnige oorgang na aanlyn leer tydens die Covid-19-pandemie, ontstaan ʼn kritieke vraag: Kan hierdie jongste golf van entoesiasme rondom KI in die onderwys werklik tot die bereiking van billike en hoëgehalte-leerervarings vir alle studente bydra, of sal dit bloot bestaande ongelykhede laat voortbestaan? Die belofte van KI- opvoedkundige tegnologieë is onteenseglik fassinerend, maar hul ware potensiaal om opvoedkundige geleenthede te demokratiseer en te verbeter bly tans onseker as ons nie uit die verlede leer nie.
Ongelukkig moet nog baie in Suid-Afrika gedoen word om die digitale kloof te oorbrug. Die impak van KI in die onderwys kan nie sonder ʼn behoorlike, volhoubare infrastruktuur, kundige, digitaal-geletterde studente en dosente, en pedagogies-gesonde praktyke verder ondersoek word nie.
Daar is reeds breë aanbevelings vir die gebruik van KI vir opvoedkundige doeleindes, soos die oorweging van etiese raamwerke, dosentopleiding en -ondersteuningsinisiatiewe en die ontwikkeling van robuuste assesseringspraktyke. Meer is egter nodig om verdere moontlike ontnugtering met digitale tegnologie te vermy. Bykomende en robuuste stappe moet pogings insluit om vooroordele te temper deur te verseker dat KI-algoritmes en -stelsels met ʼn sterk fokus op diversiteit, gelykheid en insluiting ontwikkel word. Dit behels diverse en verteenwoordigende datastelle, streng toetsing vir vooroordeel, asook die insluiting van kultureel-responsiewe en inklusiewe pedagogiese benaderings. Voorts is die ontwikkeling van bewysgebaseerde begrip van die samewerking tussen die mens en KI – veral in die plaaslike konteks – van deurslaggewende belang.
Om kennis en begrip te bevorder moet interdissiplinêre samewerking in die opvoedkundige sfeer geprioritiseer word. Die aanmoediging van samewerking tussen KI-kundiges, akademici in die onderwys, kundiges in die dissipline, sosiale wetenskaplikes en beleidmakers wat nie net tegnologiegedrewe is nie, maar ook grondig in gesonde pedagogiese beginsels en maatskaplike impak-oorwegings opgelei is, moet prioriteit geniet. Om die strewe na lewenslange leer te bevorder kan oop opvoedkundige hulpbronne geprioritiseer word om koste te verminder en toeganklikheid te verhoog, veral vir instellings en gemeenskappe met min hulpbronne.
Daarbenewens moet opvoedkundige innovasie en eksperimentering prioriteit geniet, waar loodsprojekte, sandbakke of inkubasieruimtes aangemoedig word om nuwe toepassings te ondersoek deur ʼn omgewing van verantwoordelike innovasie en voortdurende verbetering te bevorder. Studente is belangrike belanghebbendes en rolspelers. Deur studente-agentskap en medeskepping aan te moedig, kan studente as aktiewe deelnemers by die ontwerp en ontwikkeling van KI-bemiddelde opvoedkundige oplossings en inisiatiewe betrek word.
Die vinnige vooruitgang van digitale tegnologie, met GenAI aan die voorpunt, het ʼn wêreld van moontlikhede vir die opvoedkundige veld oopgemaak. Maar te midde van hierdie opwindende tegnologiese revolusie is dit die plig van alle belanghebbendes – opvoeders, dosente, tegnologiekundiges en beleidmakers – om hierdie immer-ontwikkelende landskap krities te evalueer.
Ons moet voortdurend en konsekwent bevraagteken en evalueer of hierdie voorpunt-innovasies werklik geleenthede vir billike en lewenslange leer bevorder, om te verseker dat geen leerder of student agterbly nie. Deur aan voortdurende dialoog deel te neem en ʼn holistiese, konteksspesifieke, inklusiewe benadering te omarm, kan ons daarna streef om uit vorige foute te leer en die krag van KI te benut om billike leerervarings en toegang tot onderwys vir almal te bied.
*Dr Sonja Strydom is die Adjunkdirekteur van die Sentrum vir Leertegnologieë en ʼn navorsingsgenoot by die Sentrum vir Hoër en Volwasse Onderwys aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die menings wat uitgespreek word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van die US nie.