Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe rotskunswerk by US se Tygerberg-kampus 'n simbool van diversiteit en verandering
Outeur: Faculty of Medicine and Health Sciences/Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Gepubliseer: 02/05/2024

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag 'n betekenisvolle nuwe kunsinstallasie by die ingang van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Kliniese Gebou op die Tygerberg-kampus onthul. Die imposante kunswerk, wat uit 'n leisteen van drie ton bestaan, dien as 'n kragtige simbool van die Universiteit se voortgesette verbintenis tot diversiteit, inklusiwiteit en die aanpak van ongeregtighede van die verlede.

“Die nuwe kunswerk is 'n kragtige simbool van ons reis," sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die US. “Dit beliggaam ons ryk linguistiese tapisserie, wat die aard en doel van ons universiteitsgemeenskap weerspieël. Dit gee ook erkenning aan ons verlede en die pad wat ons na 'n meer inklusiewe toekoms bou."

Dié stuk, deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Jenna Burchell, behels dat goudpoeier met lakvernis op 'n historiese klip aangebring is (in die Japannese “Kintsukuroi"-styl). Burchell se kenmerkende Songsmith-tegniek is ook in die klip aangebring. Dit behels dat 'n klank uitgestraal word wat afkomstig is van die oppervlak se radareggo en dit  voeg 'n laag interaktiwiteit by die kunswerk. Die kunsinstallasie strek wyer as die sentrale klip, en frases in 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale en in Braille is in 'n kraalformasie in die omliggende bakstene ingegraveer.

“Ons wil nie ons geskiedenis vernietig nie, maar ons wil wys dat iets verander het," sê prof Elmi Muller, die FGGW se Dekaan. “Deel van die verandering wat ons nodig gehad het, was die persepsie wat geskep word wanneer mense ons Fakulteit betree."

Die klip is aanvanklik in 1974 geïnstalleer met die amptelike opening van die Kliniese Gebou met die inskripsie “'n beitel moet kan klip breek as hy 'n beitel is – N.P. van Wyk Louw", daarop. Dit is 'n uittreksel uit die gedig “Die Beiteltjie" van die Suid-Afrikaanse digter Van Wyk Louw.

“In onlangse jare het studente, personeel en besoekers aan die Fakulteit die aard, doel en simboliek van die rots en sy inskripsie begin bevraagteken," verduidelik Van Rooi. “Daar is toe in hierdie verband  besluit om op die rots se storie uit te brei."

Suid-Afrika se ryk taaldiversiteit ten toon gestel

Die US omarm die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing en streef daarna om meertaligheid in sy akademiese en sosiale ruimtes te bevorder. Vir hierdie doel is 'n inklusiewe regstellingsproses in 2022 van stapel gestuur om te verseker dat die klip die breër universiteitsgemeenskap verteenwoordig.

“Die oorspronklike klip het net 'n Afrikaanse inskripsie gehad, so die sleutelfokus was om die ander 11 amptelike tale te integreer," sê Florence de Vries, visuele regstellingsprojekleier van die FGGW. “Ons het dit bereik deur frases, gesegdes en idiome van studente en personeel oor die Tygerberg-kampus heen in te samel. Hierdie frases is in 12 werksessies bespreek, en uiteindelik is een finale frase vir elke taal gekies.

Die steen word omring deur 12 frases in Suid-Afrika se amptelike tale, wat in 'n kraalformasie in die omringende bakstene ingeëts is. Die oorspronklike Afrikaanse inskripsie van “Die Beiteltjie" bly deel van die toevoegings.

“Die gekose frases resoneer met die Fakulteit se visie, wat fokus op temas van onderwys, persoonlike groei en genesing – gepaste konsepte vir 'n instelling wat toegewy is aan lewenslange leer en vooruitgang in gesondheidswetenskappe," merk De Vries op. 

Selfoongebruikers kyk hiervir meer oor die nuwe kunsinstallasie

Foto: Stefan Els