Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe: Jeremiah Pietersen
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 02/05/2024

Jeremiah Pietersen speel 'n uiters belangrike rol om studente se leerervaring by die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek- en Inligtingsdiens uit te brei. Hy verseker dat almal maklike toegang tot noodsaaklike hulpbronne het vir optimale akademiese sukses en hy bestuur uiteenlopende opleidings- en leeraktiwiteite. Noudat ons Mei afgeskop het met 'n viering van Werkersdag, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydraes tot die Universiteit Stellenbosch (US). In hierdie onderhoud lig Pietersen die sluier oor die vele aspekte van sy werk.

Wat behels jou rol by die US?

Ek bestuur tans leer- en opleidingsaktiwiteite binne die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens. Dit beteken ek hou toesig oor twee van ons generiese opleidingsprogramme, #SmartStudent en #SmartResearcher. Eersgenoemde bestaan uit inleidende sessies tot biblioteekverwante onderwerpe soos verwysing-101 en die vind van tydskrifartikels, terwyl laasgenoemde meer op gevorderde navorsingsessies soos sistematiese beoordelings en die gebruik van datavisualiseringsinstrumente fokus. Op 'n bedryfsvlak sien ek om na die leersentrum en die Makerspace-innovasieruimte in die US Biblioteek. Ons kyk voortdurend na hoe ons studente die beste kan ondersteun deur ruimtes te bied wat bevorderlik is vir leer.

Hoe lyk jou normale werkdag?

Ek probeer my dag struktureer deur elke oggend my take vir die dag te bepaal, maar dit werk nie altyd nie! Ek sit fisies in die leersentrum en afhangend van die tyd van die jaar, kan ons baie besig raak om studente met verskeie navrae te help. Dit gaan meestal oor drukwerk of Wi-Fi. Wanneer ek nie met bedryfstake besig is nie, werk ek aan projekte. Ons beoordeel voortdurend na ons diensaanbiedinge om doeltreffendheid te verseker en, waar toepaslik, verbeteringe aan te bring.

Hoe het jou opleiding of vorige ondervinding jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het 'n BA-graad (Engels en Klassieke Studies), 'n nagraadse diploma in biblioteek- en inligtingswetenskap en 'n meestersgraad in biblioteek- en inligtingkunde aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Ek het voorheen by 'n ander universiteit in verskeie rolle gewerk. Dit het my in staat gestel om te sien hoe dinge inmekaar steek ten einde 'n akademiese biblioteek suksesvol te bestuur. Ek was ook bevoorreg om saam met kollegas regoor die Universiteit te werk (in my vorige werk én nou). Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om soms 'n treetjie buite jou omgewing te neem vir perspektief oor hoe jou werk by die groter institusionele visie en doelwitte inpas. Om naskoolse onderwyservaring te hê, help beslis om die hoëronderwysomgewing te verstaan en jou met studente te kan vereenselwig.

Wat is vir jou die lekkerste deel van jou rol en jou werk by die US?

Ek geniet dit om saam met kollegas in ander spanne regoor my omgewing te kan werk om doelwitte te bereik wat ons algehele dienslewering beïnvloed. Ek geniet dit dat kollegas regoor die Universiteit baie oop is vir samewerking en projekte. Ek het waardering daarvoor dat daar talle kollegas is wat ook ten doel het om die US 'n inklusiewe omgewing vir alle studente te maak.

Die US Biblioteek- en Inligtingsdiens is ook 'n uitstekende plek om met nuwe tendense in die akademiese biblioteekruimte te eksperimenteer. Een van die ruimtes wat ek bestuur, is die Makerspace-innovasieruimte in die US Biblioteek, 'n ruimte vir eksperimentering en innovasie. Dit is fassinerend om te sien hoe die ruimte deur studente en personeel van die Universiteit gebruik word. Van die 3D-skandering van akkedisse tot 3D-uitdrukke van Dungeons and Dragons-dobbelstene, tot selfs die bou van klein robotika is dit wonderlik om so 'n ruimte tot personeel en studente se beskikking te hê.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sal verwag.

Ek hou daarvan om kitaar te speel (hoewel ek nie baie goed kan speel nie) en ek sal aan karaoke deelneem as die geleentheid hom voordoen. My smaak is redelik eklekties – ek neig na indie- en akoestiese musiek. Een van die liedjies wat ek graag speel, is 'Hey there Delilah' (Plain White T's), maar ek hou ook van ietwat obskure nommers soos 'One of those days' deur Joy Williams. 

FOTO: Stefan Els


​​