Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Merkwaardige ingenieurstudent jaag haar drome na ondanks lewensveranderende ongeluk
Outeur: Faculty of Engineering [Amber Viviers]
Gepubliseer: 28/03/2024

​Jay-Dee Meyer, ʼn student in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan Universiteit Stellenbosch (US) ontvang haar graad in Maart, ondanks ʼn lewensveranderende voorval kort voor haar finale jaar.

Oorspronklik van Johannesburg, het sy en haar gesin na die Wes-Kaap getrek toe sy ses jaar oud was. Sy het haar hoërskoolopleiding begin by ʼn skool in Stellenbosch waar sy in die koshuis gebly het. Sy het verlief geraak op dié skilderagtige dorp, wetende dat dit is waar sy eendag wil studeer. Om ʼn BIng-graad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US te volg was die keuse vir haar voor die hand liggend aangesien sy ʼn passie het vir elektrisiteit (“electricity must be the coolest invention ever!") en probleemoplossing (“to be able to make a difference in the world").

Haar lewe het egter aan die einde van 2022 ʼn onverwagse wending geneem toe sy noodlottig vier meter ver uit ʼn boom geval en op beton te lande gekom het. Sy het haar ruggraat ontwrig en gebreek, wat haar lewenslank van haar heupe af verlam gelaat het.

Twee maande van rehabilitasie en heraanpassing aan haar nuwe lewe het gevolg, en sonder om ontmoedig te word deur die gru-ongeluk, het sy besluit om terug te gaan en haar finale jaar te voltooi.

Jay-Dee sê daar is meer emosionele as fisiese uitdagings. Sy sê die Universiteit is reeds redelik toeganklik en dat die Dekaan, Prof Wikus van Niekerk, seker gemaak het dat sy alles het wat sy nodig gehad het.

Sy onthou dat sy selfbewus was met haar terugkeer na die Fakulteit, en dat almal vir haar gekyk het. ʼn Paar dae later het sy egter iets wonderlik besef: dat niemand haar aanstaar met bejammering nie, maar eerder met bewondering. Haar hele lewe is onderstebo gekeer, maar tog is sy hier, het sy opgedaag en glimlag sy, bly om op universiteit te wees wetende dat dit ʼn voorreg is.

Om gemotiveerd te bly te midde van teëspoed was egter nie altyd maklik nie. Jay-Dee sê daar was dae wat sy so oorweldig was deur die lewe dat sy nie eers ʼn boek kon oopmaak nie. Maar sy was geduldig met haarself en het bly onthou dat stadige vordering beter is as geen vordering.

Toe sy regtig motivering nodig gehad het om haar deur die meer uitdagende dae te dra, het sy bly visualiseer hoe sy tydens gradeplegtigheid oor die verhoog rol in haar rolstoel, en haarself ook herinner aan haar groter doel om ingenieur te word. Sy sê die truuk met ʼn moeilike dag is om nie toe te laat dat dit twee dae word nie. Sy sê verder om tydens teëspoed die balans te vind tussen dissipline en genade kan moeilik wees, maar dat dit ʼn belangrike vaardigheid is.

Haar finalejaarprojek is iets wat haar na aan die hart lê: die ontwerp van ʼn batterybestuurstelsel vir ʼn windenergie-omskakelingstelsel (Wind Energy Conversion System (WECS)) wat deur die Suid-Afrikaanse Antarktiese Navorsingsbasis (South African Antarctic Research Base (SANAE IV)) gebruik word. Sy het die projek vreeslik geniet aangesien sy reeds bewus was van haar passie vir hernubare energie. Jay-Dee voeg by dat enigiemand wat Ingenieurswese studeer weet, hoe meer jy weet, hoe meer weet jy wat jy nie weet nie.

Sy beskryf die navorsing as ʼn amper-ongelooflike reis wat uitdagend en soms frustrerend was, maar dat sy op die ou end ongelooflik dankbaar is vir hoeveel sy kon leer en dat sy ʼn nuwe waardering het vir hóé kompleks hernubare energie wel is.

Soos sy terugkyk op haar haar pad oor die afgelope maande, deel sy waardevolle advies vir ander wat teëspoed in die gesig staar. Sy sê geluk in die lewe is nie die afwesigheid van probleme nie, maar wel die vermoë om dit te oorkom.

Verder sê sy dat elke enkele uitdaging in die lewe óf gesien kan word as ʼn struikelblok in jou pad, óf as ʼn geleentheid om jouself te bewys en iets waardevols te leer. Alles hang af van jou ingesteldheid.

Waar sy nou ʼn nuwe hoofstuk in haar lewe aanpak, as Beheeringenieur by Sasol in Sasolburg in die Vrystaat, bly haar strewe geanker in haar verbintenis tot hernubare energieprojekte. Haar droom is om in Suid-Afrika aan hernubare energie- en mikronetwerk-projekte te werk, wat hopelik ons land se koolstofvoetspoor sal verklein, wat ʼn stap in die regte rigting sal wees vir ʼn meer volhoubare toekoms vir Suid-Afrika.

Benewens haar loopbaan hoop Jay-Dee om eendag ʼn nie-regeringsorganisasie (NGO) te stig wat tweedehandse rolstoele verskaf aan behoeftiges, wat haar toewyding beklemtoon om ʼn verskil in ander se lewens te maak.

Foto: Stefan Els