Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Lourens se navorsing daag konvensionele persepsies van sekswerk uit
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 28/03/2024

As jy 'n blonde vrou met 'n rooi toga en die breedste glimlag denkbaar op die laaste dag van die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheidsweek by die Coetzenburg-sentrum gesien het, was dit heel waarskynlik dr Marna Lourens van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid. Sedert sy vroeër vanjaar haar finale LLD-eksamen aan die Fakulteit Regsgeleerdheid met vlieënde vaandels geslaag het, het sy nog nie ophou glimlag nie.

Lourens het ses jaar gelede hierdie navorsingsreis aangepak wat 'n groot deel van haar lewe in beslag geneem het en haar vasberadenheid beproef het. Haar proefskrif fokus op die omstrede onderwerp van die dekriminalisering van sekswerk in Suid-Afrika en is 'n kritiese beoordeling van transformerende geregtigheid in ons grondwetlike bedeling vir volwasse, ongedwonge sekswerkers.

Sy het haar onderwerp deur 'n interseksionale lens beskou en haar navorsing werp nie net lig op die geleefde ervarings van sekswerkers nie, maar dit beklemtoon ook die behoefte aan 'n meer inklusiewe en deernisvolle benadering tot hierdie omstrede kwessie.

Lourens se verkenning het met deurslaggewende vrae oor die agentskap en keuses van vroue wat by sekswerk betrokke is, begin. "Ek het aanvanklik navorsing oor mensehandel gedoen. Hoe meer ek egter oor vroue se ervarings in die seksbedryf gelees het, hoe meer het ek gewonder oor die kwessie van keuse. As lewensbestaansoekers bevind vroue hulle soms in situasies waar hulle weet hulle kan in sekswerk ingeforseer word."

Suid-Afrika se armoede- en werkloosheidskrisis beteken dat sekswerk vir baie vroue 'n manier is om kos op die tafel te sit. Vir sommige bied betaalde sekswerk agentskap in 'n konteks waar hulle andersins nie beheer sou hê nie, sê Lourens.

Haar belangstelling in die onderwerp is verder aangewakker deur 'n ontmoeting met 'n  sekshandelslagoffer terwyl sy met 'n kunsuitreikprojek by 'n veilige skuiling op Stellenbosch besig was. Afgesien van Lourens se liefde vir die reg en sosiale geregtigheid, is sy ook 'n bekwame visuele kunstenaar. Sy het destyds met lyfafdrukke – waar die onderwerp hulle klere uittrek en hulle verfbedekte lyf op 'n doek afdruk – geëksperimenteer.

“Een van die vroue het vrywillig aan die lyfafdrukoefening deelgeneem. Hoewel sy haarself as 'n oorlewende beskou het, kon sy nie regtig oor haar ervaring van seksuele uitbuiting praat nie. Nadat ons die lyfafdruk gedoen het, het sy na my toe gedraai en gesê: 'Maar ek is pragtig.' Dit het my diep geraak. Ek het besef sy het haarself vir die eerste keer op 'n manier gesien wat nie uitbuitend was nie."

Hierdie gesprek het Lourens dieper laat delf in die kompleksiteite van vroulike sekswerkers se uiteenlopende ondervindings en die wetlike raamwerke wat hulle lot bepaal. Lourens het deur haar omgang met die verhale van volwasse sekswerkers se geleefde ervarings 'n verhaal van kwesbaarheid ontbloot wat met agentskap verweef is en wat konvensionele persepsies van sekswerk uitdaag.

Lourens het ook 'n mondelinge voorlegging aan die parlement gedoen oor die bestaande regsbenadering tot ongedwonge volwasse vroulike sekswerk in Suid-Afrika, waar verdere interaksie met sekswerkers haar voorneme verder versterk het om 'n regsbenadering te vind wat sekswerkers nie van grondwetlike beskerming ontneem nie.

Die Wysigingswetsontwerp op die Strafreg oor Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede, wat daarop gemik is om sekswerk te dekriminaliseer, het in Desember 2022 verskyn, verduidelik Lourens. Dié konsepwetsontwerp dekriminaliseer sekswerk om onder meer beter beskerming vir sekswerkers teen geweld te verseker. Dit maak egter nie voorsiening vir hoe hierdie verandering in wetgewing bestaande regulasies sal beïnvloed nie.

“Die probleem met die wetsontwerp is dat hoewel dit seks dekriminaliseer, dit steeds sekswerkers aan munisipale regulasies sal onderwerp. Op 'n manier is dit erger, want dit sal plaaslike owerhede toelaat om sekswerkers onder verordeninge te teiken. Hulle kan in hegtenis geneem word vir rondslentery of omdat hulle seks uitgelok het." Wat volgens Lourens ook kommerwekkend is oor hierdie scenario, is die feit dat die ergste misbruik wat sekswerkers ervaar, van die polisie af kom.

“Terwyl die wetsontwerp hersien word, bly sekswerk ten volle gekriminaliseer. Dus het nog niks verander nie byna 24 jaar nadat die Regshervormingskommissie met hulle ondersoek na volwasse, ongedwonge sekswerk in Suid-Afrika begin het."

Behalwe om sekswerk te dekriminaliseer, moet daar regulasies binne 'n menseregteraamwerk wees wat sekswerkers toegang tot geregtigheid en mediese sorg bied, sê Lourens.

“Die uitdaging is om 'n regsbenadering tot sekswerk te vind wat vroue se kwesbaarheid én hulle agentskap erken en terselfdertyd hulle regte beskerm. Daar is soveel redes waarom vroue sekswerkers word; die wet moet voorsiening maak vir die genuanseerde werklikhede van sekswerkers se lewens."

Wette wat sekswerkers eendimensioneel as slagoffers beskou, help nie, voeg Lourens by. “Ek wou deur my navorsing 'n benadering vind wat die stemme van vroulike sekswerkers sentreer en vroue se veelvlakkige en veelsydige werklikhede oorweeg."

Om deur 'n interseksionale lens na hierdie kwessies te kyk, het Lourens gehelp om te verstaan hoe patrone van ongelykhede in die verlede en die hede die normatiewe raamwerke inlig wat die samelewing vorm.

Lourens wil graag haar werk in gender en die reg voort te sit, maar sy gaan eers vir 'n paar dae ná die gradeplegtigheid 'n welverdiende blaaskans neem by die gesin se huis op Bettysbaai. Haar man Max en kinders Caterina en Max, wat albei aan die US studeer, is baie dankbaar dat Lourens vir die eerste keer in ses jaar nié oor die Paasnaweek aan haar LLD gaan werk nie.

“Nadat ek vir so lank met my kop in die boeke gesit het, is dit ongelooflik om weer naweke en vakansies te geniet en my volle aandag aan my gesin en vriende te kan wy. Mense sê nie vir jou presies hoe eensame die pad is om jou LLD te doen nie. Maar ek is nie spyt dat ek hierdie uitdaging aangepak het nie. Die reis was meer as om 'n LLD te doen – ek het soveel gegroei. Wat ek geskryf en nagevors het, het van my oneindig verryk. Ek het die waarde besef van selfbesinning en om ander mense se werklikhede en stories te waardeer.

“Dit het my bemagtig om my sê te sê oor geregtigheid in die konteks van 'n baie gemarginaliseerde groep mense. Ek wil hê hierdie vroue se lewens moet ten goede verander. Ek wil hê mense moet luister en nadink oor hoe ons ander oordeel. Deernis en gedeelde menslikheid moet ons rigsnoer wees."

FOTO: Stefan Els