Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldtuberkulosedag: Tuberkulose bly ʼn akute siekte wat chroniese aandag nodig het
Outeur: Dillon Wademan and Amrita Daftary
Gepubliseer: 26/03/2024

​Wêreldtuberkulosedag (TB-dag) is op 24 Maart gedenk. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick skryf drr Dillon Wademan (Desmond Tutu TB-sentrum) en Amrita Daftary (Universiteit van York) dat baie mense wat deur TB geraak word, die impak daarvan oor ʼn baie langer tydperk ervaar, van episodiese voorvalle tot selfs lewenslank. Dit vereis dat TB-programme, insluitend TB-klinici, -verpleegkundiges en -beraders, hul benadering tot TB-diagnose, -voorkoming, -behandeling en -sorg aanpas.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Dillon Wademan en Amrita Daftary*

Wêreldtuberkulosedag (TB-dag)  word jaarliks op 24 Maart gedenk. Die tema vir 2024, “Ja! Ons kan ʼn einde aan TB maak!" beklemtoon die belangrikheid van individuele en kollektiewe optrede om die wêreldwye TB-epidemie te beëindig. TB is een van die oudste bekende aansteeklike siektes. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf daar elke jaar meer as ʼn miljoen mense wêreldwyd aan TB, en het dit Covid-19 weer as die voorste oorsaak van dood deur aansteeklike siektes verbygesteek.

In Suid-Afrika het 23 000 mense in 2023 aan die siekte gesterf. TB raak hoofsaaklik sosio-ekonomies benadeeldes, wat die onregverdige verspreiding van rykdom en gesondheid beklemtoon. Selfs in lande met ʼn hoë inkomste en ʼn lae siektelas kom TB tipies onder maatskaplik en ekonomies kwesbare bevolkings voor.

TB word algemeen beskou as ʼn akute siekte wat diagnoseerbaar, behandelbaar en geneesbaar is. In onlangse jare het navorsers egter die betekenis van lewe met TB begin bevraagteken. ʼn Sentrale beginsel van ons hoofstuk wat vroeër vandeesweek in The Routledge Handbook of Anthropology and Global Health gepubliseer is, is gegrond op hierdie ontluikende argument: dat baie mense wat deur TB geraak word, die impak daarvan oor ʼn baie langer tydperk ervaar, van episodiese voorvalle tot selfs lewenslank. Dit vereis dat TB-programme, insluitend TB-klinici, -verpleegkundiges en -beraders, hul benadering tot TB-diagnose, -voorkoming, -behandeling en -sorg aanpas.

Ons verbind hierdie argumente deur drie punte. Eerstens erken ons dat TB op ʼn spektrum bestaan. Bykans ʼn kwart van die wêreldbevolking het latente TB of TB-infeksie. Dit wil sê, hulle is met die TB-bakterie besmet, maar is nie aansteeklik nie of ervaar nie tans enige van die simptome wat met aktiewe TB-siekte verband hou nie. Volgende op die spektrum is ʼn groep mense wat TB in die beginstadium of subkliniese TB het, by wie TB met TB-spesifieke toetse opgespoor sou kon word, maar dalk net oor ligte, nie-spesifieke simptome kla. Hierdie groep dra aansienlik tot TB-oordrag by. Dan is daar die groep individue wat aktiewe TB of TB-siekte het, en wat aansteeklik is en simptome ervaar.

Hierdie veelvuldige maniere om met TB te leef – die ongediagnoseerdes en dikwels onbehandeldes en die gediagnoseerdes en behandeldes – word toenemend deur ʼn ander groep mense, naamlik voormalige pasiënte of TB-oorlewendes, aangevul. Dit is mense wat van TB genees is of “behandeling voltooi het" en van TB “ontsnap" het. Maar selfs ná genesing of voltooiing van behandeling ervaar TB-oorlewendes dikwels langdurige fisiologiese en psigososiale uitdagings. Hulle loop nie net ʼn groter risiko om nog ʼn TB-episode te ervaar nie, maar ook ʼn groter risiko om chroniese longsiekte(s), aanhoudende respiratoriese verswakking en ander TB-verwante gestremdhede te ontwikkel. Laastens het hulle ʼn hoër sterftesyfer as mense wat nog nooit TB gehad het nie.

Tweedens benadruk ons hoofstuk hoe TB toenemend saam met ʼn menigte ander aansteeklike en chroniese siektes voorkom. TB is tipies nie die enigste siekte wat diegene raak wat dit ontwikkel nie. Hulle ervaar gewoonlik ander siektes, of komorbiditeite. Hierdie siektes verhoog hul risiko van swakker gesondheidsuitkomste weens oorvleuelende nadelige maatskaplike, fisiologiese of sielkundige effekte.

Daarbenewens moet mense wat komorbied deur TB geraak word, die soms komplekse eise van die gesondheidstelsel en gesondheidsorg navigeer. MIV is die noemenswaardigste van hierdie komorbiede toestande. TB is die hoofoorsaak van sterftes by mense wat met MIV leef. Hulle vaar swakker met TB-behandeling en dit is nóg swakker onder mense wat met middelweerstandige vorms van TB besmet is. Hulle het ook ʼn verhoogde risiko van herhalende TB. Hoewel antiretrovirale terapie (ART) die lewensverwagting van sulke mense verleng het, is hulle mettertyd geneig om chroniese siektes soos diabetes te ontwikkel. Mense met diabetes het swakker behandelingsuitkomste vir TB, asook ʼn groter risiko om weerstand teen eerstelyn-TB-medikasie te ontwikkel en ʼn selfs groter risiko om herhalende TB te kry as dié sonder diabetes.

Derdens deel TB en baie van hierdie komorbiede toestande maatskaplike gesondheidsdeterminante wat hele bevolkings vir blywende swakhede vatbaar maak. In Suid-Afrika en ander lande met beperkte hulpbronne het mense weens armoede, wanvoeding en ʼn sukkelende gesondheidstelsel voortdurend ʼn risiko om TB te ontwikkel. Altesame 49% van huishoudings waarin een (of meer mense) TB gehad het, ervaar katastrofiese kostes – gedefinieer as kostes wat 20% van hul huishoudelike inkomste oorskry.

Selfs in plekke soos Suid-Afrika waar TB-behandeling gratis deur die openbare gesondheidstelsel verskaf word, ervaar huishoudings wat deur TB geraak word indirekte koste wat met behandeling en sorg verband hou. Hulle sal byvoorbeeld moet betaal vir spesialiskonsultasiefooie of -toetse, vervoerkoste na en van talle gesondheidsfasiliteite terwyl hulle ʼn diagnose soek of behandeling kry, en selfs vir voedingsaanvullings. Hierdie koste is veral lastig vir mense met multimiddel-weerstandige-TB. Daarbenewens kan mense wat met TB besmet is, hul werk of bron van inkomste verloor.

Deur hierdie drie stringe van die argument saam te vleg, sluit ons aan by ander wat oor die afgelope dekade idees begin uitdaag het oor watter siektes as chronies beskou word. Die meeste openbare gesondheidspesialiste beskou MIV byvoorbeeld vandag as ʼn chroniese, hanteerbare siekte. Tóg sukkel baie mense met MIV in omgewings met ʼn hoë siektelas en min hulpbronne om die nodige sorg en sosio-ekonomiese ondersteuning te kry om relatief goeie gesondheid te geniet. Tydelike verval in die nakoming van ART is algemeen en kan skommelinge in immuniteit en selfs kwesbaarheid vir opportunistiese infeksies soos TB veroorsaak.

Tydens sulke oomblikke ervaar mense wat met MIV leef hul andersins “chroniese siekte" as ʼn akute aanslag op hul lewe.

Nog ʼn manier waarop mense idees oor chroniese en akute siektes begin uitdaag het, is deur te oorweeg hoe wêreldwye verskuiwings in sosio-ekonomiese toestande ʼn toename in en in sekere mate ʼn noodsaak vir plaaslike toegang tot voedsel wat “lewenstylsiektes" versnel, veroorsaak het – soos tipe 2-diabetes. Veral mense wat in omgewings met min hulpbronne woon, het beperkte keuses oor die kos wat hulle kan bekostig, wat beteken hulle het ʼn groter risiko vir leefstylsiektes.

As ons kyk hoe TB oorwegend en herhaaldelik in plekke met ongelyke sosiale en ekonomiese geleenthede en saam met ander siektes voorkom, begin ʼn mens dit as chronies beskou. Die TB-reaksie moet verander van ʼn “aansteeklike siekte"-model na die aanpak van die chroniese kenmerke van TB. Dit is hier waar die risiko van TB-infeksie, herinfeksie en herhaling nooit ophou nie, en waar gesondheidstelsels en sosiale ondersteuningstrukture nie daarin slaag om mense te help nie. Om aan TB as ʼn chroniese toestand of siekte te dink bied die geleentheid om die kollig te laat val op die langtermyn-, potensieel aftakelende impak wat dit op talle mense met beperkte sosio-ekonomiese hulpbronne het.

Soos ander begin redeneer het, glo ons dat die TB-sorgkaskade ʼn meer sikliese en rehabiliterende benadering kan volg om die impak van TB op mense se lewe te verklein. Dit beteken ook dat die onderliggende maatskaplike gesondheidsdeterminante wat tot verhoogde risiko van blootstelling aan TB lei, aangepak moet word deur ʼn volgehoue reaksie te ontwikkel wat geaffekteerde mense deur die kontinuum van TB-sorg dra, insluitend voorkoming en versorging van herhalende TB en rehabilitasiesorg vir mense wat die impak van TB op lang termyn ervaar.

*Dr Dillon Wademan is ʼn hoofnavorsingsbeampte by die Desmond Tutu TB-sentrum aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Amrita Daftary is ʼn globale sosiale en gedragsgesondheidsnavorser by die School of Global Health aan die Universiteit van York. Hierdie artikel is gedeeltelik gegrond op hul hoofstuk “The neglected chronicity of TB" in The Routledge Handbook of Anthropology and Global Health (Routledge, 2024).​